Op sewe en ’n half loop my dogtertjie deesdae met ’n kop propvol lukrake vrae rond. Van die gunstelinge die laaste tyd, is: “Mamma, is dit lekker om ’n grootmens te wees?” en “Mamma, is dit lekker om ’n kar te kan bestuur?”
Afhangende natuurlik van hoe vlot die oggendroetine verloop en die skoolverkeer vloei, word hierdie vrae in wisselende grade van entoesiasme beantwoord. ’n Mens wil hulle darem ook nou nie heeltemal afskrik van die idee van grootmenswees nie – dit is nou ook nie asof enigiemand iets aan grootword kan doen nie.
Dit het my laat terugdink aan die einde van my graad 1-jaar toe ek sewe geword het. Ek was in die hospitaal om my mangels te laat uithaal. In die spierwit hospitaalbed het ek vir die eerste keer soos ’n grootmens gevoel – ongetwyfeld omdat die verpleegsters in hulle kraakwit uniforms my soos ’n grootmens láát voel het omdat ek nie (té veel) huil nie.
Daardie vakansie het ek besluit ek wil ’n polisievrou word, want ’n uniform wou ek dra, maar vir siek mense verpleeg en naalde en bloed het ek sowaar nie kans gesien nie. En, polisievrou-wees sou my die kans gee om my twee grootste grootmenswees-wense te kombineer: Ek sou boewe vang en ’n motor bestuur om boewe te gaan vang.
Toe die seer mangellose keel gesond is, het ek smiddae na skool en naweke in my selfgeprakseerde Die Swartkat-pak die erf en buurt patrolleer om reg en geregtigheid te laat geskied. Na ’n week of drie was dit egter duidelik dat ons bure redelik beskaafd is en die naaste wat ek aan boewery gekom het, was my eie gesin wat die buurman se oorhang-vye by die tuinmuur gepluk het. O, en die wulpse blonde buurtannie skuins agter ons wat gedink het niemand sien haar in haar agterplaas as sy egalig en sonder lyne probeer tan in die middagson nie.
Laat in die laerskool met ’n hele rits kampe as Voortrekker-drawwertjie agter die blad, was ek vas oortuig dat ek na die Vroueleërkollege op George sou gaan om ’n army-vrou te word. Die bruin uniform was weliswaar nou nie so elegant soos die blou polisieklere nie, maar ek het van kleuterdae af nogal daarvan gehou om in my pa se bruin sak rond te snuffel en te kyk hoe ver ek kan hardloop met die groot bruin stewels aan. ’n Weeklange oorlewingskamp in die hoogsomer in die Wes-Transvaal in ’n stowwerige bruin tent met net twee blitsige geleenthede om onder die stort te spring, later, het ek dié lawwe idee van boendoes invaar in ’n bruin uniform, saam met die stof en dergelike bosdinge uit my hare en toekomsplanne gesjampoe.
Die motorbestuurdroom het intussen vlerke gekry en vroeg in die hoërskool het ek myself in ’n lugwaardinuniform gesien reis na verre bestemmings. Dit sou mos die perfekte oplossing wees om my reisdrome te verwesenlik! Ek het alles gelees wat ek in die hande kon kry oor dié beroep en het telkens vasgehaak by ’n klein detail: Lugwaardinne moes in die jare negentig 1.7 meter lank wees. Ek onthou hoe ek elke keer as die L.O.-juffrou ons meet, angstig na die merkie teen die muur gestaar het. Ek is elke keer 2 cm té kort gemeet. Ook seker maar goed, want sowat ’n dekade later toe ek vir my wittebrood oorsee geneem is, het ek in ’n hopelose bondeltjie vliegvrees die vlugure afgetel.
Teen middelhoërskool het my entoesiasme oor uniform-dra vanselfsprekend begin taan en ek het opsies soos sielkundige en tydskrifjoernalis oorweeg. Dan kon ek my eie elegante werksdrag bepaal en hopelik handsakke vol geld verdien om dié nuutgevonde liefde vir mooi klere en ander mooihede in stand te hou.
Na skool het die paadjie min of meer in só ’n rigting geloop en met hoofvakke Sielkunde, Frans en Afrikaans & Nederlands was ek in my geestesoog besig om die leertjie na my droomberoep met studentetekkies te klim.
Toe ontmoet ek in my tweede jaar die man van my grootmeisiedrome. En, na ’n jaar by uitgewer in die Kaap, trou ons en ek trek na ’n klein dorpie op die platteland en my grootmensberoepplanne verander. Ek moes werk skep deur vryskut-vertaling en tuisteskep en na ’n paar jaar as koerantverslaggewer vir ’n plattelandse weekblad, het ek gou besef joernaliswees is nie heeltemal wat ek in gedagte het nie. My liefde vir tale en mense en mooimaak soek ’n meer kreatiewe uitlaatklep.
Die geboorte van ons kinders het die loopbaandrome verder laat halt roep en op ’n dag toe my tweejarige seuntjie en sy babasussie so vir mekaar sit en giggel, het ek besef: Grootmenswees is nie wat mens verwag as jy sewe jaar oud is nie. Niemand kan die verantwoordelikheid om ’n huis en gesin finansieel en emosioneel aanmekaar te hou vir ’n sewejarige verduidelik nie.
Ja, dis lekker om groot te wees en motor te bestuur en (sommige van) die reëls te maak, maar wat ’n mens nie besef as jy sewe is en jou hele toekoms voor jou lê nie, is dat die verantwoordelikhede van grootmenswees dikwels die “eendag, as ek groot is”-dinge opsyskuif en in ’n blik druk.
Maar, dalk lê die geheim juis daarin om die “eendag, as ek groot is”-drome met die huidige grootmensdinge te versoen? Dit is seker die moeite werd om te probeer. Ek wil probeer onthou wat my opgewonde gemaak het oor “eendag” en kyk of ek nie wel plesier daaruit kry om daardie dinge nou te kan, mag en moet doen nie.
Ek wil agter die motor se stuur inskuif en dankie sê dat ek so bevoorreg is om ’n motor te kan bestuur – al is die skoolverkeer hóé druk. Ek wil vanmiddag die nie-so-blink-nie kombuisvloer vir eers ignoreer en na huiswerk saam met my kinders in hulle “opdress”-boks krap en Die Swartkat en ’n polisievrou en ’n army-vrou en ’n tydskrifjoernalis wees en saam met hulle speel ons is groot. Want, dalk, net dálk behou hulle só hulle drome vir eendag as hulle groot is.