*Joanne Brodie
My verslawing was loutere hel, al 25 jaar daarvan. Ek het met dagga begin toe ek twaalf jaar oud was – ek het dit gehaat, maar die verdraaide belewing van die werklikheid was lekker. Daarna het ek hoesmedisyne begin gebruik.
Volgende was pynverdowers, kalmeerpille, slaappille en kokaïen. Ek het ’n jaar lank kokaïen gebruik en toe opgehou. Ek het geglo dat ek nie ’n junkie was nie omdat ek net voorgeskrewe medisyne gebruik het.
Ek het tot in 1993 hiermee volgehou. Teen daardie tyd het ek tussen veertig en sestig Stopayne-tablette en ’n mengsel van Valium, Serepax, Rohypnol en Valeron (’n skedule 7-pynmiddel) per dag gebruik. Die laaste sewe of agt jaar van my verslawing het ek nie meer pille gebruik om hoog te word nie, eerder om normaal te voel.
In 1993 het ek in ’n rehabilitasiesentrum beland. Ek was vier weke lank daar en toe ek ontslaan is, het hulle vir my gesê ek sal nooit skoon kan bly nie, ek is te verslaaf.
Ek is nou al amper vyftien jaar skoon.
Ná rehab het ek by NA (Narcotics Anonymous) aangesluit. Ek het ook gereeld vir terapie gegaan en my terapeut het later voorgestel dat ek as berader opgelei word. In 1997 het ek vir ’n onderhoud gegaan en my werklike lewe het begin.
Die afgelope ses jaar werk ek aan die hand van sisteemteorie met “familie-sisteme”. Dit help my pasiënte baie om hul patrone in ’n breër konteks te sien. Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan dit “herstruktureer” deur gevestigde patrone te transformeer. Dit stel hulle in staat om op ’n gesonder manier met die lewe voort te gaan. Die suksessyfer is hoog. Ek glo dis my roeping om mense te help. My eie veranderingsproses inspireer my – net so ook om te sien hoe ander mense verander en beter word. Dit is ongelooflik om deel van die proses te wees.
Joanne se raad aan ouers
Behandeling vir jou kind
Dis gewoonlik ’n goeie idee om so gou moontlik een of ander vorm van behandeling vir jou kind te kry, selfs al is dit net terapie. Die soort behandeling hang af van die erns van die probleem en van watter middels jou kind gebruik. As sy heroïen, voorgeskrewe middels of alkohol gebruik, dink ek dit is noodsaaklik dat sy binnepasiënt- of residensiële behandeling kry sodat die detoksifikasieproses deur professionele mense gemonitor kan word. Ek sal aanbeveel dat sy in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem word.
Hoe werk die herstelproses?
Aanvanklik gaan dit baie moeilik wees om die onttrekkingsimptome te hanteer. Daarna moet die verslawing ondersoek word. Jou kind moet besef wat dit in haar lewe verteenwoordig het en hierdie kwessies begin oplos. Sy moet ook aanvaar dat sy vir die res van haar lewe kwetsbaar gaan wees. Dié tydperk gaan gewoonlik met gevoelens van pyn en leegheid gepaard.
Wat lei gewoonlik tot dwelmmisbruik?
Ek dink oorerflikheid speel ’n groot rol. As daar ’n geskiedenis van alkoholmisbruik of dwelmverslawing in jou familie is, moet jy lig loop – dit verhoog onmiddellik jou risiko.
Hoe suksesvol is behandeling?
Indien daar drie dwelmverslaafdes is, is die kanse goed dat een van hulle kort ná behandeling weer na dwelms sal gryp, dat een skoon sal bly en dat jy nie weer van die derde verslaafde sal hoor nie. Maar ek weet dat behandeling, enige soort behandeling, voordelig vir enigiemand is.
Bel Joanne by 079854 9535.
*Anoux Venter
Ek was net ’n paar dae oud toe ek in Pretoria deur die wonderlikste twee mense op aarde aangeneem is. Ons was baie lief vir mekaar. Ek het alles gehad waaroor ’n kind kon droom, en ook al die liefde en sekuriteit. My ma kon nie swanger word nie, maar ná baie jare en baie gebede het sy vir my ’n wonderlike sussie in die wêreld gebring. Sy was die beste ding wat nog met my gebeur het.
Op skool het dit vir my gevoel asof ek nie inpas nie en ek het aandag probeer trek deur stout te wees en rebels op te tree. Ek was die enigste Afrikaanse kind in ’n Engelse laerskool en eers teen die einde van my laerskooltyd het ek uiteindelik tuis gevoel. Toe ek nie by die hoërskool van my keuse (die een waarheen al my vriende sou gaan) aanvaar is nie, was ek verpletter.
Ek is toe na ’n Afrikaanse hoërskool en ek het niks daarvan gehou nie. Op 13, op ’n partytjie, is ek gedare om ’n paar glase brandewyn te drink en ek het dit gedoen om my vriende te vermaak. Die drank het my ook baie lekker laat voel.
Vroeg in my tienerjare het ek aan depressie begin lei en dit het gevoel asof ek in ’n donker gat verdwyn. Ek het die verkeerde vriende gemaak. Saam met hulle is ek na klubs waar ek geleer rook en drink het. Op vyftien het ek met dagga begin eksperimenteer. Ek het aan die begin net ’n bietjie op ’n slag gerook en ook nie eens dikwels nie.
Daardie jaar het ek vir Raine ontmoet en my hele lewe het verander. Ek was dadelik smoorverlief op hom. Ons was onafskeidbaar en het alles saam gedoen. Ons vriendskap het vinnig in ’n vurige romanse ontwikkel. As ek nou terugdink, was Raine waarskynlik my grootste verslawing.
My wêreld het ineengestort toe hulle ’n jaar later Hermanus toe getrek het. Ek kon nie glo dat hy my sommer net agtergelaat het nie. Ek het nie geweet hoe ek sonder hom sou kon leef nie. Ek het gedink ek het hom net so nodig soos suurstof.
My depressie het vererger en ’n dokter het antidepressante voorgeskryf. Daarna was my lewe ’n mengelmoes van pille, drank en dwelms terwyl ek die pyn van skeiding probeer verdoof het. Ek het intens na Raine verlang en die volgende drie jaar het ons heen en weer gekuier. Ons verhouding het net al hoe sterker en obsessiewer geraak.
Dis eers toe ek ná matriek Kaap toe is om kuns te studeer, dat ek agtergekom het hy is aan heroïen verslaaf. Ek was seker dat ek hom sou verloor as ek nie meedoen nie. Die verlies sou só verskriklik wees dat ek nie eens daaraan wou dink nie. Ons het baie gemaklik begin saamleef en ek het vinnig aan heroïen en kokaïen verslaaf geraak.
Ons het probeer swot én werk en van hand tot mond gelewe. Ons het hard probeer om normaal te wees, maar gou al ons besittings verkoop om heroïen in die hande te kry. Ná sowat drie jaar was ek uiteindelik so verslaaf dat heroïen belangriker geword het as Raine of enigiets anders. Ek is terug na my ouers. Hulle was baie bekommerd en agterdogtig oor my nuwe, vreemde gedrag, maar hulle kon my net nie betrap nie. En ek het hulle in die oë gekyk en gelieg.
Uiteindelik het ’n baie goeie vriend besluit dat iets gedoen moet word en hy het my ouers alles vertel. My ouers het my nie verwerp nie, maar my gehelp om te detoks. Hulle het sterk gestaan terwyl ek my demone een vir een oorwin het.
Ek het ’n wonderlike man ontmoet en ons is vandag getroud. Hy is ongelooflik ondersteunend en staan my met alles by. Ek kan eerlik sê ek het vrede in my hart en is baie gelukkig. Ek waardeer nou gewone dinge, soos sonskyn en die geluid van lag.
Donker liefde
In haar boek, Donker liefde, skryf Anoux Venter oop en eerlik oor haar verhouding met heroïen en die verwoesting wat dit in haar en die mense om haar se lewe veroorsaak het. Human & Rousseau, 2007.
Anoux se raad aan ouers
– Moet nooit dink dit kan nie met jou kind gebeur nie.
– Iemand kan vir haar dwelms by ’n partytjie aanbied en sy besluit dalk om dit net een keer te probeer.
– Let op vroeë waarskuwingstekens, soos rebelsheid en veral depressie.
– Dwelms word dikwels gebruik om aan depressie te probeer ontsnap. Kry hulp vir depressie – dit sal nie vanself beter word nie.
Anoux se raad aan tieners
Al is dit ’n cliché: dwelms is nóóit oukei nie. Jy kan dit nie net vir ’n bietjie ontspanning en pret gebruik nie. Jy kan baie gou daaraan verslaaf raak. En die skade wat verslawing aanrig, is baie groter as wat jy jou kan indink. Dit gaan nie net oor fisieke verslawing nie. Jare nadat die fisieke verslawing verby is, sukkel jy nog met die emosionele en sielkundige aspekte daarvan. Dit veroorsaak groot skade aan verhoudings en dié skade kan baie lank neem om te herstel. Dink ook daaraan dat jy kan sterf voordat jy die kans gehad het om jammer te sê aan die mense wie se lewe jy verwoes het. Baie dwelmverslaafdes kry nooit ’n tweede kans nie. Wil jy dit regtig aan jou vriende en geliefdes doen?
*Melinda Ferguson
Ek was vier jaar oud toe my pa voor my aan ’n hartaanval dood is. My ma moes vier kinders alleen grootmaak en sy het begin drink. Ek het in ’n alkoholiese omgewing grootgeword en begin drink toe ek tien jaar oud was. Dit was die begin van ’n verslawing wat ses jaar lank my lewe oorheers het.
My dwelmverslawing het so handuit geruk dat ek alles verloor het: my huis, my huwelik en, die ergste van alles, my twee seuntjies. Ek het in Hillbrow beland, op straat. Dit was hel. Ek was heeltemal verslaaf aan patetiese stukkies crack en ’n stowwerige poeiertjie, heroïen. Ek kon nie beweeg of dink as ek nie hoog was nie.
In 1999 het ek niks oorgehad nie en ek kon óf doodgaan óf besluit om gesond te word. Op 1 September het ek oorgegee. In die begin was dit geweldig moeilik om skoon te bly omdat ek my lewe heeltemal opgemors het. Dit was moeilik om te glo dat dinge beter kon word. Maar ná twee jaar het my lewe begin verander en verbeter.
Nou hét ek ’n lewe, maar nie net ’n “gewone” lewe nie. My lewe het ’n doel, ’n rede en rigting … Ek is nou agt jaar skoon. Ek het so opgegaan in my herstelproses dat ek nie eens kan dink dat ek weer dwelms of drank kan, of wíl gebruik nie. Dis verby.
Ek het ’n wonderlike werk by ’n tydskrif, ’n fantastiese verhouding, pragtige seuns, ’n boek op die rakke en is besig om nog een te skryf. Afgesien van al die ander gawes wat ek ontvang het sedert ek skoon is, is dit ’n geskenk net om wakker te word sonder die smagting na dwelms.
‘Smacked: A Harrowing True Story of Addiction and Survival’
In Smacked skryf Melinda oor haar ses jaar van dwelmver-slawing en prostitusie en hoe sy uit die onderwêreld ontsnap het. Struik, 2005.
Melinda se raad aan ouers
– Sorg dat jy weet watter soorte dwelms beskikbaar is, hoe elke soort lyk en wat die uitwerking daarvan is.
– Praat met jou kinders oor hul probleme. Moenie vir hulle preek nie. Wees eerlik.
– Vra jouself af of jou gedrag dalk bydra tot jou kinders se probleem en of jy ’n goeie voorbeeld vir hulle stel.