In die wêreld van televisie en teater is die rol van die skurk dikwels een van die mees uitdagende en komplekse karakters om te vertolk. Vir Duncan Johnson wat Beeno in Skemergrond speel, was die kans om in die karakter van ’n genadelose dwelmhandelaar in te klim die perfekte uitdaging ná vyf jaar as die speurder en gesinsman Marvin Petersen in 7de Laan.
“Ek wou graag ’n totale ommeswaai in karakter speel, en danksy die vervaardigers en skrywers van Skemergrond was Beeno die ideale geleentheid. Dit is ’n persoonlike en professionele uitdaging om die rol van Beeno te vertolk,” sê hy.
Kykers het Donderdagaand gejuig toe Ruan (Dann-Jacques Mouton) uiteindelik met die hulp van Gloria (Hunter Plaatjies) en Kevin (Gershwin Mias) vir Beeno vasgetrek het nadat hy maande lank vir Gloria fisies en emosioneel mishandel het.
Om ’n emosionele band met Beeno te vorm begin Duncan deur die teks te bestudeer en die karakter se verskillende emosies te identifiseer. “Ek krap in my eie psige rond op soek na die spesifieke emosies wat ek vir die karakter sal moet vertolk. Dis ’n spanpoging tussen die produksiespan, skrywers en medespelers. Ek probeer net die karakter se emosies soos die storielyn dit benodig so eerlik en geloofwaardig as moontlik weergee.”
Duncan beklemtoon die belangrikheid van die karakter se geloof in sy eie aksies. “Jy moet onthou dat die karakter nie homself as boos sien nie. Hy glo eenhonderd persent dat sy besluite en optrede reg en geregverdig is. Volgens hom is dit slegs ’n verskil van opinie. En ja, ek benader dit as iemand wat glo sy optrede is geregverdig, al mag ek persoonlik geheel en al nie saamstem met die karakter se optredes of sy waardes nie,” verduidelik hy.
As akteur is Duncan gaande oor die uitdaging om hom te speel. “Maar behalwe vir sy genuine liefde vir Gloria en afgesien van die begrip wat ek het vir die moeilike omstandighede waarin hy grootgeword het, dink ek hy is ’n selfsugtige, verwaande, bose gespuis. My persoonlike waardes verskil hemelsbreed van Beeno. Maar Beeno is ’n perfekte telenovela-skurk. So, ’n groot pluimpie aan die skrywers en produksiespan.”
Duncan hoop dat die gehoor sal sien Beeno se ondergang is in baie opsigte die gevolg van sy eie menslikheid. “Dat sy optrede en veral sy ondergang veroorsaak is deur sy nemesis – sy genuine, opregte liefde vir ’n vrou. En baie kan daarmee vereenselwig.”
Die mees uitdagende toneel vir Duncan tot op hede was ongetwyfeld die fisieke tonele tydens Beeno en Gloria se troue. “Dit is geskiet in die versengende hitte onder die genadelose son in Wellington, wat deur die meeste mense in die Boland beskou word as die naaste planeet aan die son. Maar soos met alle tonele, is dit ook net nog ’n dag waar jy moet skouer aan die wiel sit en deurdruk, want daar is ’n produk wat op skedule moet uitgaan.”
Kykers sal ingeskakel moet bly om te kyk of Gloria en Kevin se liefde eindelik sal blom ná talle terugslae.
Skemergrond is Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie (DSTV-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Fourie se verlede kom klop: Ontmoet Diepe Waters se geheimsinnige Bianca