Ek vlieg Indië toe met Emirates lugredery. Die plan is om op pad terug vir my niggie in Dubai te gaan kuier. Die blink plan het natuurlik alles te doen gehad met die feit dat my twee susters toe reeds by haar sou geland het. Die trick was eintlik om alles so te bewimpel dat dit na ‘n toevalligheid lyk vir die drie niksvermoedende wederhelftes wat tuis moes bly om geld te verdien.
Enigiemand wat niggie J ken, sal weet dat sy volgens streng daaglikse beplanning werk en nog voor ek ‘n voet uit SA gesit het, het ons al ‘n kalender gekry met aktiwiteite vir elke dag in Dubai. Tevergeefs het ek gesoek na ‘n los uurtjie vir ‘n laat oggendslapie of lekker middagslapie.
Laat ek sommer by die lughawe begin: die skoonste en blinkste wat ek al gesien het met manne in wit gewade en getjekde kopdoeke wat sweef oor die marmersuile van die groot lugpaleis. Wat my veral opval is hoe goed versorg die manne is. Baarde is in alle shapes en sizes geskeer en die voete en hande word definitief gereeld gemani/pedikuur. En ruik hulle lekker!
Die eerste aand word afgeskop met ‘n braaivleis op J se lieflike groot balkon wat uitkyk oor ‘n bruindeinserige Dubai. Reg rondom is ‘n see van ander woonstelblokke wat ingeryg staan tussen pragtige, aangelegde tuine, swembaddens en rye winkels vir die inwoners. Spinnies is definitief bo-aan die lys van die drie susters. ‘n Soort Pick & Pay op steroïde. Hier ontdek ons aarbei en roos melkskommel, vye so groot soos granate en roosgegeurde teesakkies. Ons dwaal so lank tussen die oorlaaide rakke dat ons laat kom vir ons eie braai.
Dubai Mall
Dubai Mall wag en vir vrouens met ‘n voorliefde vir neus-teen-die-winkelvensters is dit net die plek om ‘n goeie twaalf ure te gaan spandeer. Ook hier lyk dit of die gange met goud beslaan is en oral staan sagte fluweelbanke vir die moeë shopper. Kan nie help om te dink dat dit glad nie by ons sou werk – lankal weggedra. Dit is my eerste kennismaking met die fyn ondergoedjiewinkel Victoria’s Secret, maar ai hulle cater nie eintlik vir koppies wat ‘n gesin van agt kan voed nie, so ek koop maar ‘n klein botteltjie parfuum en neem die mooi fynigheidjies uit alle hoeke af.
Oral in die gange hang duisende papierskoenlappers in stringe en in al die gange hang ook ‘n hele reeks advertensies van Evian water – meisies, bikers en oumense waarop babalyfies gedruk is – seker om te wys hoe jonk die water jou kan maak. Daar is ook ‘n luukse teekamer waar net Arabiese mans sit en as ek soontoe wil mik, stuur Nig my vinnig in ‘n ander rigting.
Ontwerpersklere is soos skilderye uitgestal in die winkelvensters, en name wat jy net op FashionTV en Vogue sien is hier ingeryg soos krale. Jy weet nie waar om te kyk nie – soveel geld, soveel prag en praal, en jou SA Rand kreun benoud in die beursie.
Ons spandeer meer as ‘n uur in ‘n reuse lekkergoedwinkel en hou die kleintjies se gesiggies dop as hul die M&M helikopter sien en vinnig oorhardloop na die Rascalmannetjies. Dit is kosbaar. Net oorkant die lekkergoedwinkel is ‘n groot onderdak-akwarium. Haaie swem grasieus saam met reënboogvisse en as jy vinnig beweeg, loer hulle jou agterdogtig agterna.
By die Jashanmal huiswinkel verloor die drie susters heeltemal kop. Ons koop elektriese lugverfrissers en olies, lampe van metaal en handsakspieëltjies – alles binne die eerste tien minute. Mooiste-mooi linne, kussings, voetstoeltjies, poefs, glasware en huisgereedskap en o wee, slegs 30kg kan in die tas pas. Niggie J sleep ons behoorlik daaruit en ek voel of ek kan huil. Hoe kry ek al die mooi goed in my huis?
Die volgende haakplek is die kosmetiekwinkel net voor die uitgang na die buitenste mensgemaakte meer. Ek vergaap my aan die vroue wat instap met hul Arabiese prinse op tou. Hulle koop mandjies vol skoonheidsmiddels en pappa betaal met die swart kredietkaart sonder limiet. Een van die verkoopsdames merk my woeste wenkbroue op en besluit dis tyd dat ek gehelp word. Sy pluk, sy thread en kleur in en as ek weer in die spieël kyk, lyk ek tien jaar jonger (ok dalk net 2 jaar…) Genoeg om ‘n ekstra wip in my stap te sit.
Wenkbroue en al gaan ons buitentoe vir die uurlikse water-en-musiekvertoning wat moet begin. Duisende mense wag reeds en sodra dit donker is (mos gesê ons was meer as twaalf ure in die mall!) begin die skouspel. Waterfonteine spuit op maat van “A time to say goodbye” en ander musiek en hier en daar vaar ‘n bevoorregte bootjie om alles van naderby te bekyk. Ek hou egter mooi die hande oor die nuwe ingekleurde wenkbroue sodat die fyn sproei van die water nie die meisie se handewerk op my wange laat drup nie.
Dit was ‘n goeie eerste dag in Dubai en daardie nag droom ek van ‘n Arabiese prins met ‘n groot skip wat al my nuwe huisware laai en stadig uitvaar Kaap se kant toe.