Dit blyk ’n paar Ruiterbosch-inwoners gaan in April vir die gek gehou word danksy allerhande kinkels in die kabels in kykNET se gewilde sepie, Suidooster. Daar is veral drie dramatiese kinkels wat ’n stormagtige maand voorspel en kykers vasgenael voor die kassie gaan hou.
Hier is die drie dramatiese storielyne:
- Carlo (Jadon Booysen) se gedaanteverwisseling tel spoed op hoe meer hy betrokke raak by die verkope van Nazeem (Irvine van der Merwe) se gummies aan skoolkinders. Hy begin egter gierig raak en wil sy teikenmark vergroot. Dis nie al nie, hy begin ook gewetenloos optree. Kort voor lank loop dinge egter lelik skeef… Lee-Ann (Portia Joel) en Wade (Dean Smith) vind uit van Carlo se onwettige bedrywighede en sit hande in die hare oor wat hulle te doen staan. Hulle probeer agter die kap van die byl kom oor wie Carlo se verskaffer is, maar hul soektog beland hulle in ’n doodloopstraat. Het Nazeem dalk sy spore goed genoeg uitgewis?
- Bianca (Simone Biscombe) verlang na romanse en dit lyk asof sy uiteindelik die seer van haar en Riaan (Daniel Coetzee) se mislukte verhouding verwerk het. ’n Lang aantreklike donkerkopman, Mason (Sean Aucamp-Van Noordwyk), vang haar oog. Gaan hy miskien haar ridder op ’n wit perd wees? Maar Mason is nie noodwendig wie hy voorgee om te wees nie… Sy dade het ontstellende gevolge en Bianca staar ’n krisis in die gesig met nuwe demone wat haar teister. Haar skokkende gedrag maak die inwoners van Ruiterbosch bekommerd. Terselfdertyd vervreem sy haarself van almal om haar.
- ’n Indrukwekkende sakevrou, Amor (Antoinette Louw), waai soos ’n warrelwind Ruiterbosch binne en sy vryf dadelik sommer ’n paar Ruiterboschers verkeerd op. Bridgette (Denise Newman) is wel heel in haar noppies met Amor se aankoms en probeer haar bes om bande met haar te smee, maar dis ook makliker gesê as gedaan. Dit blyk dat Amor ’n ou kennis van Elana (Esther van Waltsleben) is toe Elana self nog in die korporatiewe wêreld was. Amor oortuig vir Elana om weer vir haar te kom werk, maar Elana se oogklappe vir wie en wat Amor werklik is, val af. Dit lei tot openlike vyandigheid tussen dié twee. En dan raak dinge lelik…
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Duncan Johnson oor Skemergrond se skurk: ‘My waardes verskil hemelsbreed van Beeno s’n’