Voor my onderhoud met Drew Barrymore, besluit ek om gou ’n koeldrank te gaan koop. Op pad na buite hardloop ek amper ’n jong meisie met tekkies en stompgesnyde sandkleurige hare disnis. “Jammer!” roep ek oor my skouer voordat ek in een van die studio-verteenwoordigers vashardloop. “Sy is hier”, sê sy. “Buitekant?” vra ek. “Nee, hier, jy het amper in haar vasgehardloop.” Ek draai om, en daar staan sy. Alleen, sonder ’n entourage. ’n Slanke meisie wat soos ’n tiener lyk in jeans en ’n toppie. Heeltemal onopvallend. En dit met so ’n reputasie! Sy is lid van die befaamde Barrymore-akteursgesin en ’n voormalige kinderakteur wat oorspronklik bekend geword het in Steven Spielberg se E.T.
Daarna het ’n selfvernieteginde pad van drank en dwelms gevolg. Maar gelukkig het sy haar reggeruk en ’n akteur geword waarmee rekening gehou moet word. Vir so ’n tingerige dingetjie is haar legende en skadu yslik groot. Dis maklik om die skewe-mond meisie met die lispel nie ernstig op te neem nie. Maar kyk net wat sy al bereik het. Sy het opgetree in flieks wat vroue toelaat om hul vrou te staan (Charlie’s Angels), hulle drome te verwesenlik (Never Been Kissed) en rolskaats- atlete te word, eerder as goeie huisvroue (Whip It!). ] As die kreatiewe vennoot van Flower Films, is sy ’n formidabele sakevrou. In Whip It maak sy haar debuut as regisseur, en gee die fliek haar eie stempel. Die protagonis is ’n jong meisie, gespeel deur Ellen Page, wat bekendheid verwerf het in die skitterende Juno.
In Whip It speel Ellen ’n buitestander wat desperaat is om van die lewe wat vir haar beplan word, te ontsnap. Sy en ’n vriendin ontdek rolskaatswedstryde (roller derby). ’n Nuwe wêreld gaan vir haar oop en dit verander haar lewe. Drew speel ook een van haar spanmaats en moes self ’n hele paar stampe en stote verduur het tydens die verfilming. Drew het ook in ’n HBO-fliek, Grey Gardens, teenoor Jessica Lange, opgetree. Dié prent het heelwat toekennings gewen en Drew was vir ’n Emmy genomineer. Die prent is gebaseer op ’n dokumentere rolprent wat in 1976 gemaak is oor “Big Edie” en “Little Edie” Bouvier Beale, ’n eksentrieke ma en dogter wat familie is van Jackie Kennedy/Onassis. Hulle was oorspronklik ryk en het ’n glansryke lewe gelei, maar het later in armoede verval en ’n geïsoleerde lewe gelei. Die prent fokus op hul interessante lewens en die storie agter hul “riches to rags”-lewe.
Hoe het Whip It ontstaan en hoe het dit gevoel om vir die eerste keer “action” en “cut” te sê?
Ironies genoeg het ek nooit een van dié twee woorde gesê nie. As jy akteurs ‘sag’ in en uit tonele lei, verander dit hul optrede. Hulle raak eerliker. “Action” is soos ’n geweerskoot wat afgaan om almal aan die werk te laat spring. As jy sê “cut”, los almal hul karakters, maar soms gebeur daar wonderlike goed agter die skerms. Dis asof daar dan ’n natuurliker atmosfeer op die stel is, as jy dit nie doen nie. Ek hou daarvan as almal goed voorbereid is en almal weet wat van hulle verwag word. As jy daar kom, hoef jy net te fokus op wat jy wil vasvang. Ek was die afgelope vyftien jaar betrokke by vervaardiging, en uiteindelik kon ek alles wat ek geleer het toepas sonder om te “veilig” te speel. Dit was ’n moeilike en uitmergelende paar jaar, maar die resultate is baie lonend.
Watter postiewe invloed het jou ma op jou gehad?
Ek waardeer dit dat sy my aan rolprente blootgestel het. Dis vandag ’n taboe om jou kind aan Hollywood bloot te stel op so ’n vroeë ouderdom, maar dit het baie deure vir my oopgemaak sodat ek die rigting kon kies wat ek wou ingaan. In Hollywood is dit belangrik dat jy in ’n sekere boksie moet inpas, en as jy dit nie doen nie, noem hulle dit verkeerd. Ek kan baie identifiseer met die groep vroue van Whip It. Hulle is nie skaam om te sê: “Ek wil vier wie ek is.” nie. Ek begin nou eers om my ouers se perspektief te verstaan. Hulle wou net die beste vir hul dogter hê en het probeer planne maak sodat sy suksesvol sal wees. Wanneer jy en jou ouers verskil oor hoe jy jou lewe moet lei en jy vas staan, kan hulle dit mettertyd aanvaar. So ontstaan ’n eerliker verhouding. Maar dit gebeur nie oornag nie. Ek het in my twintigerjare baie daarteen gestry. In my dertigs glo ek aan gelukkige eindes. Ek wou in Whip It wys dat alles nie perfek hoef te wees of in ’n perfekte Hollywood-boksie hoef te pas nie. Ek wou wys dat dié gesin hul pad na eerlikheid en aanvaarding oopgeveg het, en nou is daar lekker tye.
Jy is baie suksesvol in wat nog steeds oorwegend ’n manswêreld is. Watter oorlewingstaktieke het jy gebruik om te kom waar jy is?
Ek was baie gelukkig omdat mans my toegelaat het om deel van hul wêreld te wees en my ernstig opgeneem het. Ek dink nie hulle sal dit doen as jy nie ’n daadwerklike plan het nie. Jy kan oulik en liefies optree, en hulle sal jou dalk toelaat, maar jy sal nie noodwendig daar kan bly nie. Ek dink mens kan dit regkry as jy ’n doelwit het en fokus op wat jy wil doen. Ek en my twee vennote by Flower Films het besluit dís die flieks wat ons wil maak, en dís ons plan. Ons hou ons beloftes. Ek is baie dankbaar teenoor al die vroue voor my wat so hard geveg het om die voordele te kry wat ek nou kan geniet. Daar is niks sexy aan ’n vrou met ’n lae selfbeeld nie. Hollywood is steeds ’n mans-wêreld en dit is makliker vir mans om hier te oorleef, maar ek glo dat vroue dieselfde geleenthede vir hulself kan skep deur hard te werk. As jy bietjie minder kuier, en jou huiswerk doen en goed voorberei, sal jy suksesvol wees. Dit sal nie help om kwaad te word omdat mans meer geleenthede het nie.
Jy het aanvanklik gesukkel om betyds te wees. Hoe het jy die probleem oorkom?
Toe ek klein was, was dit nooit vir my rolmodelle belangrik om betyds te wees nie. Ek dink ons is almal produkte van die omgewing waarin ons grootgeword het. As niemand jou leer wat reg of verkeerd is nie, is mens geneig om jou eie kop te volg. As regisseur is dit onaanvaarbaar om laat te wees. Jy werk sewe dae ’n week vir ten minste twaalf tot agtien uur per dag, en alles moet goed beplan wees. Ek het baie geleer die afgelope paar jaar deur ander regisseurs dop te hou. Ek sal nooit ’n horlosie dra nie, dis net nie ék nie, maar ek was nooit laat vir werk nie. Daar was een dag dat ek in die verkeer vasgesit het, en tien minute laat was. Ek het verskriklik gevoel, maar eintlik was dit nie so erg nie. ’n Vriend van my sê: ‘Dit gaan oor hoe jy reageer. As jy goed reageer, dan voel jy goed.’ As jy mense goed behandel, dan voel jy ook goed. Dit gaan oor verantwoordelikheid. Ek is ’n baie gedissiplineerde regisseur. Mense kan nie tien minute mors deur rond te sit en te klets en koffie te drink nie. ’n Regisseur kan nie enige swakheid wys nie.
Vir wie het jy hierdie fliek gemaak?
Ek het dit vir jong meisies gemaak, want ek sou so ’n fliek wou sien toe ek jonger was. Ek het dit ook vir ma’s gemaak, want die ma/dogter-liefdesverhaal en die probleme waarmee die gepaard gaan, is iets wat my na aan die hart lê. Omdat ek deur soveel met my eie ma was, kon ek ’n eerlike storie vertel. Ek het baie van myself hierin gesit.
Het jy nou die beste tyd van jou lewe?
Dis wonderlik. Dit voel of ek aan ’n perdewedloop deelneem. Ek hardloop voluit vir die afgelope drie jaar, al vandat ek aan hierdie fliek en Grey Gardens begin werk het. Dalk as alles verby is, sal ek kan terugsit en sien hoe ’n wonderlike stadium dit van my lewe was en hopelik het ek niemand teleurgestel nie. Ek het die uitdagings trompop geloop, maar ek is steeds in die resies: “Komaan perdjie!” Ek moet net die wenstreep verbysteek dan sal ek ontspan.
Wat sal jy sê, is ’n goeie dag in jou lewe?
n Perfekte dag word opgemaak deur toweroomblikke wat groot of klein kan wees, hulle voel altyd wonderlik en jy sal dit vir altyd onthou. Jy moet hulle geniet en aan hulle vashou, want jy weet nooit wat om die draai wag nie. Enige positiewe oomblik as jy gelukkig voel en die spanning vir ’n sekonde vergeet, is deel van ’n goeie dag. So kom ek deur die moeilike tye en voorkom dat hulle my oorweldig. Ek probeer positief wees oor ’n negatiewe situasie. Dis hoe ek kop bo water hou.
Het jy ’n bitter gevoel oor jou twintigerjare?
Daar is absoluut geen bitterheid nie. Ek wou dit net nie herhaal het in my dertigs nie. Ek wil iets anders doen en myself op ander vlakke uitdaag, maar ek sal nie my twintigs vir enigiets verruil nie. My twintigs was die beginjare van alles wat ek vermag het in my dertigs. Bitterheid is so ’n nare woord. Kom oor dit en gaan aan met jou lewe.
Dus het jy nie berou oor enigiets nie?
Ek het niks in my lewe gedoen waaroor ek berou hoef te hê nie. Jy kan suksesvol wees as jy hard werk en verantwoordelikheid vir jou eie lewe aanvaar, maak nie saak hoe oud jy is of van watter geslag nie. Die telefoon lui nie vanself nie. Dinge val nie in jou skoot nie. Ek het baie min mense ontmoet met wie dit gebeur het, en baie selde hou dit. As iemand iets vir jou gee, kan hulle dit wegvat. As jy dit self laat gebeur, is dit iets konkreets waaraan jy kan vashou, niemand kan dit van jou wegneem nie. My lewe is ’n getuigskrif van die opdraande pad wat ek moes loop om sukses te behaal. En ek is baie trots daarop.
Vertaal deur Hannelie Diedericks