Dis herfstyd in die Kaap en met hierdie seisoensverandering waai die winde van verandering baie sterk deur die lewens van die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel.
Lees ook: Kuns is alles by vanjaar se Suidoosterfees
Hou alles wat kan beweeg, baie styf vas in Maart, want dié Suidooster-storielyn gaan jou deurmekaar waai:
- Kaashifa (Jawaahier Petersen) moet die gevolge van haar dade in die gesig staar. Boonop lyk haar toekoms maar baie donker nadat Rhafiek (Irshaad Ally) gesê het hy wil van haar skei. Dit skep natuurlik ook nuwe spanning in die Samsodien-gesin. Hoe gaan Mymoena (Jill Levenberg) op dié skokkende nuus reageer? Daar is bitter moeilike besluite wat geneem moet word . . .
- Carlo (Jadon Booysen) spandeer al hoe meer tyd by die Royal en die band tussen hom en Nazeem (Irvine van der Merwe) word al hoe sterker. Nazeem is natuurlik heel in sy noppies met dié aanstelling want dalk kan hy vir Carlo ’n ding of twee van die lewe leer – of eerder van sy eie interpretasie van die lewe. Gaan Carlo met vuur begin speel en dalk, net dalk, sy vingers verbrand?
- Met die horlosie wat besig is om vir Cilliers (Laudo Liebenberg) uit te hardloop, het hy belangrike besluite om te neem. Hy spandeer betekenisvolle tye met Elana (Esther van Waltsleben). Maar daar kom ’n tyd wanneer hy sy vriendin moet groet.
- Die Suidooster waai boonop ’n nuwe gesig tot binne-in Ruiterbosch! ’n Aantreklike jong blondine, Frankie, kom skiet wortel hier en begin by Oos Wes werk. (Die aktrise wat Frankie vertol sal binnekort deur Suidooster onthul word.)
- Justin (Eden Classens) en Gary (Craig Adriaanse) mag dalk die strydbyl oor die app begrawe het en dink hulle is die nuwe Steve Jobs, maar hul nuutgevonde vennootskap is allesbehalwe maanskyn en rose . . .
Lees ook: 10 redes waarom jy die Februarie-uitgawe van rooi rose móét lees!
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Laura-Lee Mostert oor haar droomrol in Binnelanders