Deur Rentia Mynhardt. Foto’s: Verskaf
Dr Hlamalani Ngwenya (beter bekend as Hlami) beskou haarself as ʼn Suid-Afrikaans gebore wêreldburger, professionele persoon, trotse ma van drie, digter en skrywer. Begin jy egter ʼn bietjie oor hierdie merkwaardige vrou nalees, besef jy dat sy bitter beskeie is.
Haar curriculum vitae verklap dat sy nie net ʼn vrou is wat al diep spore getrap het en in verskeie sektore saad geplant het wat wortelgeskiet én vrug gedra het nie, maar ook dat sy ʼn vrou is wat in ʼn wêreld wat tradisioneel as manswêreld gesien word, geensins hoef terug te staan nie. Inteendeel …
Hlami Ngwenya was nog nooit een vir laat slaap nie. As vyfjarige dogtertjie van ʼn predikant het sy soggens in haar slaapklere agter haar boeties en sussies aangeloop. Nadat dit ʼn hele paar keer gebeur het, het die skoolhoof haar ouers laat weet dat hulle skoolgeld moet begin betaal. Hulle was baie skepties, maar toe hulle Hlami se eerste skoolrapport sien en sy die beste in haar klas presteer het, het hulle haar maar laat begaan. Sy het gevolglik al op 17-jarige ouderdom met haar onderwysgraad weggespring nadat sy ʼn beurs ontvang het.
“Ek het geweet dat ek nog veel verder wil studeer en het ná my graad deeltyds my studies voortgesit terwyl ek skoolgehou het. Ná die eerste jaar wat ek vir matrieks klas gegee het, het ek ʼn toekenning vir die onderwyser met die beste punte in die streek ontvang,” onthou Hlami hoe haar loopbaan begin het. Sy het sedertdien ʼn PhD in volhoubare landbou voltooi, en het ook in meer as 50 lande gewerk. Haar ondervinding as akademikus en praktisyn in die landbou-omgewing is uitsonderlik, met meer as 30 jaar se internasionale werksondervinding.
Sy het al vir die regering gewerk, was by vele internasionale nieregerings-organisasies, asook die privaat sektor betrokke. Sy het al as raadslid en trustee opgetree en ʼn adviserende rol vir organisasies op nasionale en internasionale gebied vertolk. Die lys is lank, maar word al hoe meer indrukwekkend.
Hlami, trotse Tsonga wat mopaniewurms tot haar kinders se ontsteltenis verorber, werk as vryskut- internasionale ontwikkelingskonsultant, en spesialiseer in die fasilitering van stelselverandering, strategiese beplanning, veranderingsbestuur, navorsing en ontwikkeling, projekbestuur, kennisbestuur, monitering en evaluering, en die bevordering van geslagsgelykstelling – alles binne die landboubedryf.
Sy sien vroue as die pilare vir ekonomiese groei. “Stel jou net ʼn sakewêreld sonder vroue voor. Dit sou maar saai wees! Hoewel vroue al hoe meer in die sakewêreld na vore tree en die hoeveelheid senior posisies onder vroue toeneem, is ons nog nie daar nie. Vroue soek ook finansiële onafhanklikheid.”
Soos baie vroue erken Hlami dat sy ʼn emosionele mens is. “Wanneer ek lag, kom dit uit die diepste deel van my hart. Ek is ook gewoonlik die een wat die glas halfvol sien en altyd die goeie in ʼn negatiewe situasie probeer raaksien.” In die sakewêreld reken sy dat vroue – emosionele wesens of te nie – waarskynlik emosioneel intelligenter en sosiaal verantwoordeliker is as hul manlike eweknieë. “Daar is studies wat bevestig dat spanne wat deur vroue gelei word, geneig is om meer winsgewend te wees en ʼn beter kliënte-ervaring te bied. Vroue is gewoonlik oper vir verandering en minder oop vir risiko’s.”
Hierdie oopkopvrou wat die lewe aangryp, het al meer as 400 hoëvlakbeleidsgesprekke gelei – onder meer vir die Verenigde Nasies en Afrika-unie – en as dosent by verskeie universiteite gewerk. ʼn Mens kan verstaan dat sy as hoofdirekteur in die Wes-Kaapse departement van landbou aangestel is.
“As dosent speel ek ʼn sleutelrol binne die landbou-ontwikkelingsruimte. Ek het sedert 2015 die ontwikkeling bestuur wat wêreldwyd as die New Extensionist Learning Kit (NELK) bekendstaan en ook internasionaal gratis beskikbaar is. Ek is die internasionale gesig van NELK en die persoon wat met alle inligting hieroor kan help. My betrokkenheid hier beteken vir my baie.”
Hlami se gesin lê haar baie na aan die hart. Sy het sedert sy 12 jaar gelede van haar man geskei is, met die uitdagings van ʼn enkelma gestoei. “My drie kinders, onderskeidelik 20, 18 en 14, is half-Duits en van gemengde ras. Hulle is die lig in my lewe. Die feit dat hulle van gemengde ras is, het sy uitdagings, maar het my ook geleer om van sekere vooroordele ontslae te raak. Ons skep letterlik ons eie kultuur en herdefinieer norme soos ons deur die lewe gaan.” Sy het die gedig “Raising Zebras” geskryf wat oor haar kinders se swart-en-wit-bestaan handel.
ʼn Mens kan nie anders as om hierdie vrou, met haar voorliefde vir helderkleurige klere, se sagte hart raak te sien nie, amper soos ʼn sagte pienk wat in sonneblomgeel toegedraai is. Om aan ander terug te gee, is haar passie. “Ek is waar ek vandag is omdat iemand in my potensiaal geglo het, selfs toe ek in myself getwyfel het. Ek glo daarin om dieselfde vir ander te doen en bring baie tyd daaraan deur om inligting te deel en mense op een of ander manier te ondersteun. As ek ʼn helpende hand kan bied, al is dit net op klein skaal, doen dit my hart goed.”
In 2021 het president Ramaphosa aan haar die Orde van die Baobab (Brons) oorhandig. “Hierdie toekenning, as erkenning vir my bydrae in volhoubare landbou, onderwys en bemagtiging van gemeenskappe, het as ʼn baie groot verrassing gekom en is verreweg die hoogtepunt van my loopbaan. Ek het daarna ʼn gedig ‘The Baobab of honour’” geskryf.”
Dié besonderse toekenning word deur die baobab (kremetartboom) geïnspireer. Die boom is met talle ryk legendes en geheimenisse van Afrika verweef. Dit simboliseer lewenskrag, weerstandsvermoë en verdraagsaamheid en word aan ʼn persoon vir volgehoue en voortreflike diens aan Suid-Afrika toegeken.
“Ek sê altyd landbou het my gevind, of dat ek deur die agterdeur in landbou beland het. Ek het nooit spesifiek landbou studeer nie, en dit was nooit deel van my planne toe ek grootgeword het nie. As jy my destyds gevra het of ek in landbou sou werk, sou my antwoord beslis ʼn groot nee gewees het, maar hier is ek, 30 jaar later. Ek werk met trots in die sektor en bevorder dit oral waar ek gaan.”
Tog bly Hlami ʼn gewone mens met haar twee voete vas op die aarde. “Ek het al baie misluk, gestruikel en geval. Ek het al baie verkeerde besluite, persoonlik en professioneel, geneem. Ek het geleer om my foute te erken, ʼn les daaruit te leer en dan voort te gaan. Ek weet hoe dit voel om jou werk te verloor, afgedank te word en nie te weet hoe jy kos op die tafel gaan sit nie. Ek weet ook hoe dit voel om geliefdes te verloor. Ek het my ouers en my ouer suster op ʼn jong ouderdom verloor. Ek het ook geleer dat tyd jou leer om verlies te omhels en pyn in mooi herinneringe sonder pyn om te draai.”
Hlami benader die landbousektor uit ʼn PERFECT-oogpunt (Policy, Education, Research, Farming/Finance, Extension and Advisory Services, Communication and Trade/Technology). “My grootste droom is om ʼn PERFECT-grondslag te stig wat ʼn eenstopwinkel vir al my PERFECT-idees kan wees. Ek voel soms soos ʼn wandelende ensiklopedie met al die kennis en blootstelling wat ek in hierdie gebiede opgedoen het. My droom is om hierdie ervarings te dokumenteer en meer van te publiseer, hetsy deur wetenskaplike artikels, gewone boeke of selfs hoofstukke in boeke. Daar is waardevolle lesse wat bewaar moet word.”
Behalwe dat Hlami al ʼn string wetenskaplike artikels en boekhoofstukke gepubliseer het, het sy as 50ste verjaardaggeskenk aan haarself haar eerste digbundel, PERFECTly 50: Fall, Rise up, Bounce back, Fly higher, gepubliseer. “Om gedigte te skryf, is ʼn manier om met myself te gesels en oor alles na te dink. Ek werk ook reeds aan my tweede bundel.”
Haar raad aan entrepreneurs en sakevroue is: “Weet wat vir jou belangrik is, waaraan jy waarde heg en streef dit na, ongeag vele hindernisse wat jou pad mag kruis. Belê in ʼn sterk ondersteuningstelsel en omring jouself met mense wat in jou glo.”
Sy skryf in haar gedig “The Penalty of Womanhood” dat vroue deur die bank gelyktydig as minister van binnelandse sake, minister van gesondheid én minister van sosiale ontwikkeling aangestel word, en soms as minister sonder portefeulje ook. ʼn Vrou moet ʼn hele paar balle op een slag in die lug hou. Hlami Ngwenya is só ʼn vrou.
rooi rose en Ontbytsake op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus in 2023 op ’n nuwe reeks – vrouesake. Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Leandie du Randt oor Hartklop