Dit was 1976. Ek was iewers tussen 5 en 6 jaar oud, maar dr. Christiaan Dreyer, oftewel Nic de Jager, het my klein knieë lam gehad. Daardie stem. Daardie kyk. . . Daar was ander ook, onthou jy? Suster Annelien Brink (Lerina Erasmus), dr. Swannie Swanepoel (Regardt van den Bergh) en dr. Kobie Hamman (Jana Cilliers). En wie kan Matrone Fransien Lotter (die nimlike Annelise van der Ryst) ooit vergeet?
Dokter, Dokter.
Dit was 1976. Dis nou 2015. Amper veertig jaar later. Dink ek dié week bewerig terwyl ek buite die teater vir die soveelste arts sit en wag, eergister se hospitaalmuffin (pas vars gekoop) in die een hand, hospitaalkoffie in die ander. Een hap, toe land die muffin in die hospitaaldrommetjie (daar lê klaar twee ander, seker ook vars gekoop, dink ek). Die hospitaalkoffie hou ek; broodnodig om die ou, droeë krummels keel-af te voer.
Na veertig jaar fassineer dié spesie my steeds. Weet ek ook: ‘n dokter-is-nie-‘n-dokter-is-nie-‘n-dokter-nie. Daar’s dié wat grootpraat, dié wat baie praat, dié wat min praat, dié wat nonsens praat, dié wat oor ander praat, dié oor wie ander praat en dié wat botweg brom (laasgenoemde vermy ek soos die pes).
Ek sluk weer. Tranerig-simpel na ek my meisiekind in hul hande moes los. Die een ‘n vrolike vroue-arts wat weet van Prinses Sophia, Barbie, Doc McStuffins en kie. Sy kyk my sesjarige in die oë, vertel van haar eie kleingoed, verduidelik in ‘n taal wat Emma verstaan. Ek sien hoe my kind ontspan; dié Tannie gaan my oppas, né Mamma? sê-vra Em toe sy wegstap. Ek knik.
Dan’s daar die ander, een van daardie dokters oor wie ander praat: hy praat nie so baie nie, kies sy woorde mooi, sê net genoeg, kyk jou in die oë. Jonk (ek vrees elke oomblik hy gaan my Tannie noem). Wed jou jy laat knieë knak, knik ek terwyl hy praat. Dink dan aan hoe ‘n ander arts hom oordeel: as dit by bedside-manners kom, het hy geen gelyke nie. Waar, weet ek. Dis waar.
Die teaterdeur swaai oop. Net soos in 1976. Ek kan nie opstaan nie. Hy sit. Kyk my in die oë. Kies sy woorde. Los my, kalm.
Dokter, Dokter.
‘n Uur later swaai die deure weer oop. Daar lê sy, my mooie meisiekind: verband om die kop, gehekelde blommetjie vasgespeld. Dis dié dokters, dink ek dadelik. Leer later: dis Suster Lientjie se werk. Suster Lientjie, die teatersuster.
Hierdie naweek is dit Paasfees en Christene die wêreld oor vier die opstanding van Jesus Christus. Ons praat paaseier-in-die-kies oor die dood en die Ewige Lewe. Maar ek? My kop is by hulle. Dié wat grootpraat, dié wat baie praat, dié wat min praat, dié wat nonsens praat, dié wat oor ander praat, dié oor wie ander praat en dié wat botweg brom (ja, ook by hulle). En by die Suster Lientjies van ons wêreld.
Dokter, Dokter. Hierdie Pase is ek diep dankbaar. Vir julle.
Tot volgende week,
Marí
www,incontext.co.za