Ek is moeg, Roelf. Vuisvoos, die joos weet. En wat kan ek wys vir my geswoeg? Kyk na die lelies van die veld. Hulle arbei nie en hulle spin nie … “ sy verskuif die foon na haar ander oor om die glas chardonnay met haar regterhand op te tel.
“Ja, en kyk na jou, Anja, jy spin elke tweede dag in die gim. Maar die lelies van die veld het nie DSTV nie,” brom sy stem aan die ander kant.
Roelf is die afgelope twintig jaar in ’n slegte bui; min of meer vanaf puberteit. Tot op twaalf was hy lieftallig, ’n skattebol. Sy het die babafoto’s as bewys: Anja en Roelf in hasiepakkies op ’n piekniekkombers: spekvet en bloesend, breed glimlaggend met ’n trotse tand of twee in elke kaak. Hul ma’s was van skooljare af beste vriendinne. Anja en Roelf het nooit heeltemal weggegroei van mekaar nie. Op die klankbaan van haar lewe was hy altyd op die agtergrond, ’n norse blaf oor die telefoon: “Roelf!” – deur storm en drang en (haar) ongelukkige huwelik. Hy is nie buierig nie, maar ewewigtig grimmig, sonder uitbarsting of geweld.
Jy kan op hom reken om immer vir jou die donker randjie aan elke silwer wolk uit te wys. Sy sinisme is geslyp en veelvlakkig soos ’n diamant, dis vlymskerp en vermaaklik. Dis verfrissend om jou daaglikse katastrofes te deel met iemand wat jou nooit probeer opbeur nie. Anja was al ’n paar keer om die blok en het heelwat merkies op haar kerfstok: ’n egskeiding, ’n impulsiewe wêreldreis onderneem met haar deel van die gemeenskap van goedere, ’n triomfantelike sakeloopbaan, ’n reeks rampspoedige verhoudings en ’n onderonsie met die Ontvanger van Inkomste.
Tans is sy tussen werke. Die pensioengeld van haar laaste betrekking is vining besig om uit te loop, al hoe vinniger, soos die laaste sand in die halfminuutglasie in 30 Seconds. Haar penthouse-woonstel is al ’n jaar in die mark. Dis nie op die oomblik ’n verkopersmark nie, reken die kenners. As alles te veel word, wyk sy uit na die dorpshuis wat sy by haar ma geërf het. Dis drie uur weg uit die Goudstad, in ’n spookdorpie vol “naweekhuise”. Hier het sy en Roelf grootgeword, toe die platteland nog lewendig was. Hier het Roelf ná universiteit weer kom boer vir sy pa; net so ’n korrelkop. Hy woon nie by sy ouers op die plaas nie, maar in hul huis op die dorp, ’n klipgooi van Anja se huis af.
Hy was nog nooit getroud nie, nooit verloof nie, nooit in ’n ernstige verhouding nie. So spring hy die voorspelbare strikke van die samelewing vry, reken hy.
Anja het natuurlik netjies in elke liewe strik gaan trap. Wanneer sy op die dorp is, gaan hulle elke middag stap. Die staptog duur soms tot twee uur, in die omliggende rantjies, langs die dam, op die voetpaadjies van die verlede.
“Weet jy wie was Henog?” wil sy op een so ’n staptog van Roelf se breë rug weet. Hy kyk oor sy skouer.
“Mmm, nou raak jy Bybels. Eers die lelies van die veld en nou Metusalem se pa, of was dit sy seun? Is daar iets wat jy met my wil deel?”
Sy lag.
“Iemand het nie mooi opgelet in die Sondagskool nie.”
Sy gaan staan en haal in ’n gewyde stem aan: “’En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem’.
Ek dink nou daaraan, want ek onthou skielik, toe ek nog Sondagskool gegee het, hier op die dorp, ek dink ek was in matriek, vertel ’n kind vir my die storie van Henog min of meer só: ‘Elke dag het Henog en God gaan stap. Een dag sê God: Henog, jy het nou so ver saamgeloop en dit word al donker. Dis nou te laat om terug te draai, kom maar saam met My huis
toe.’”