Dit lyk soos Suid-Afrika, maar dit is nie, deur Margaret Gardiner
Moeg.
Word jy ooit moeg? So moeg dat jy vir ’n miljoen jaar wil slaap (en dan dalk nog twee miljoen?)
Glimlag.
Of behoort dit ’n gaap te wees?
Ek is mal oor die lewe, en probeer altyd ja sê vir die lewe, maar wanneer mens aanmekaar aan die hardloop is, kan jy nie jou energie aanvul nie. Ons weet almal kos is noodsaaklik vir goeie gesondheid. Om die brein te voed – of om dit ’n blaaskans te gee – is net so belangrik, maar ons vergeet dit.
Ek het al meer as ’n 100 000 myl ver gereis hierdie jaar – dis meer as 160 000 km. (En dit sluit nie vakansies of motorritte in nie.)
So, wanneer ek “net vir die pret” genooi word, dink ek sorgvuldig daaroor na.
’n Dierbare vriendin van Suid-Afrika het my na haar dogter se troue genooi. Dis gehou by ’n spesiale bestemming, op dieselfde dag wat Charlize in Los Angeles vereer is. Ek sou bitter graag op albei plekke wou wees, en het my kop gebreek om ’n manier te vind om dit te doen. Maar soms kan jy eenvoudig nie. Soms trek jy die deur toe op jou werk, en gaan doen die regte ding.
My nefie trou later vanjaar, en ek kan dit ongelukkig nie bywoon nie. My seun gaan dit namens my bywoon. Om dus hierdie troue by te woon, sou vir my emosioneel wees.
Ojai Valley Inn is ’n uur se ry van Los Angeles. Jy kan die snelweg neem, of die skilderagtige roete. As jy laasgenoemde doen, voel dit kompleet asof jy in Suid-Afrika is. Dalk in die Boland. Daarvoor sorg die kleure, die uitgestrekte landskappe, die skoonheid. Dit was so baie soos Suid-Afrika dat ek en my man omtrent om elke draai ons asems ingetrek het en gesê het: “Dis nes Suid-Afrika!”
Die Inn is eintlik ’n klomp klein huisies in die Spaanse boustyl wat so gebou is dat elkeen sy eie privaatheid en oop ruimte rondom het. Almal het stoepe, en daar is voetpaadjies wat kronkel deur die pragtige omgewing. Daar is natuurlik ook ’n spa, winkeltjies, ’n gholfbaan en ’n hele klomp swembaddens. Sedert my besering twee jaar gelede was dit moeilik om gereeld te oefen, want my lyf sukkel om te herstel. Stadige rondtes in ’n groot swembad bou spiere en strek die gewrigte sonder om te veel spanning op die liggaam te sit. Dus is die swembad die eerste plek wat ek besoek by enige fasiliteit.
Die volgende dag, na ’n rustige wandeling, middagete en ’n swem, was dit tyd vir die troue.
’n Gholfkarretjie het ons almal kom oplaai en via die skilderagtige paadjies by die trouvenue besorg. Daar was ons omring deur Amerikaners, Australiërs en Suid-Afrikaners wat bymekaar gekom het vir ’n troue teen sononder.
Die gaste het almal oulike klein sambreeltjies gekry, en – iets wat ek nog nooit voorheen gesien het nie – klein plastiekvierkante wat vroue aan hul hoëhakskoene se hake vasknip om te keer dat jou spykerhakke in die gras wegsink. Dit het regtig gewerk, en as jy ’n troue op ’n grasperk beplan, sal ek aanbeveel dat jy hiervan kry vir jou gaste.
Die onthaal was een van daardie geleenthede wat jou laat onthou hoekom jy die huwelik gekies het. Romanties, vol liefde en met baie gelag en ’n hegte familie wat mekaar deur alles ondersteun. Dit het my hart warm gemaak.
Toe is daar gedans. Ek is mal oor dans! Ek sal alleen dans op ’n volgepakte dansvloer. Ek sal in die rondte draai terwyl ek in die stad rondstap, en sal ’n hele disko-nommertjie uitpak terwyl ek kosmaak. En geen Kersfees is volmaak sonder dat my gesinnetjie op die maat van Kersliedjies dans nie (ek weet ja, maar ons doen!) terwyl die lieflike geure van Kersfeeskos die huis vul.
My man is Afrikaans, wat beteken hy het op Stellenbosch geswot en as ’n “maatjie” baie aande deurgebring by sokkies. Hy noem my sy Engelse meisie as hy my wil terg. Wanneer ons saam by ’n funksie is, sakkie-sakkie ons dat die stof staan. Ek het my skoen drie keer verloor omdat ons in die hoek probeer bly het waar hy my in die rondte kan tol en waar ons so ’n bietjie kon langarm. Maar die kant van die dansbaan was teen ’n helling, en elke keer wanneer ek in die rondte getol het, het ek die rand getref en my skoen verloor. So, ons moes ’n ander plek soek.
Ek het só gelag! Nie die soort lag wat ek moet terughou en wat jy soms sien in my YouTube-video’s nie, maar uit my maag. Soos wat ek in ’n lang tyd nie gelag het nie. Omring deur Suid-Afrikaners, met die liefde tussen twee families wat pas gedemonstreer is deur woorde en dade, en dansend op die maat van musiek, was ek dalk die gelukkigste wat ek in dekades was. Die moegheid het verdwyn, en ek is opgebeur deur die skoonheid van die liefde.
Ek moet net sê dat Suid-Afrikaners baie spesiale mense is. Ons doen dinge in styl en met grasie. Daar is ’n sagtheid in ons interaksie wat ander mense dikwels verkeerdelik sien as swakheid. Maar wat dit eintlik is, is maniere en respek vir ander mense. Die ander waarheid omtrent Suid-Afrikaners is ons innerlike krag. Ons is sterk mense, vol deursettingsvermoë, hardwerkend. As ek na die mense om my kyk – baie van hulle bo-aan die leer op hul onderskeie gebiede, besig om sukses te behaal in een van die moeilikste en kompeterendste omgewings – besef ek: Suid-Afrikaners, soos die Bokke, kan meeding met die beste.
Die landskap van Kalifornië mag dalk herinner aan Suid-Afrika, maar dit is beslis nié Suid-Afrika nie. Die lug wat ons inasem, die land, die mense, die kultuur – dis waar die betowering lê. Dit is wat ons Suid-Afrikaners maak, en maak nie saak waar in die wêreld ons ons bevind nie, ons hart is in die land wat ons gemaak het.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels – dis als gratis om haar te volg.