Maak so om die oorsaak van jou maagpyn te identifiseer:
• Lê rustig op jou rug.
• Verdeel jou maag in jou verbeelding in drie vlakke: bo, middel en onder. Deel dit dan verder in links, middel en regs. Jy kry dus nege seksies.
• Bevoel nou elke seksie ferm deur en besluit in watter seksie of seksies dit regtig pyn.
• Kyk nou na die skema hieronder, en identifiseer jou pyn.
Onthou
Die skema is net om jou te help om jou pyn te verstaan. Dit is nie ’n diagnose nie, en vervang nie goeie mediese raad nie.
Spreek dadelik jou dokter in die volgende situasies:
• Jy gooi op en is al gedehidreer daarvan (jou oë lê diep in hul kassies; as jy op jou vel druk, bly die duikie sit)
• Daar is bloed in jou stoelgang of uriene
• Die maagpyn het skielik begin en is baie erg
• Jou maagpyn duur langer as ’n dag of twee
Hardlywigheid
Die meeste ander toestande kom op net een plek voor, terwyl konstipasie meestal tegelyktydig regs en links voorkom, asof dit oor jou buik loop. Dit is presies wat dit is: jou dikderm loop van links na regs en min of meer in lyn met jou naeltjie en dan aan jou regtersy afwaarts.