Dié week lees ek hoe my Facebook-vrinne en ander kommentators oor November en sy vreemde ritmes praat. Een noem dit die Donderdag van die jaar. Ditsem, dink ek as rubriekskrywer Annemarie van der Walt die maand beskryf as “Nerwerige November”. Nerwerig. So dít is wat dit is.
Sondagoggend, na ek en my Emma-kind op die maat van Boney M ons blinkoog verwonder het aan die sprokieswit Kersversierings in ons dorpswinkel (en net daar besluit het om ons Kersboom op te maak, al is dit nou eers November) sien ek die twee by die fontein. ‘n Jong man en vrou, terwyl hul tweejarige (dink ek) in die water plas. Hy druk sy vinger uitdagend in die donkerkop se gesig, sy retireer, draai om, stap weg. “Kry beheer,” snou sy hom toe. Hard genoeg sodat die starendes kan hoor.
Later sien ek die twee by ‘n koffiewinkel sit. Goed so, dink ek. Koffie help. Die tweejarige se klere is sopnat van water-plas. Die jong vrou kyk hom stip aan, haar onderlip bewe en met een hand probeer sy die tranevloed keer. Hy luister nie, dink ek. Kyk ook nie vir haar nie, staar net.
Dis November. Mans word winkels toe gesleep, kry benoud, baklei, probeer ek hul storie skryf. Maar weet hul storielyn lê veel dieper.
Die week kom die sms van ‘n vriendin-kollega se man. “Môre is Melanie se verjaarsdag. Ek neem haar uit vir die dag, want verlede jaar moes sy by my in ICU sit.” Ek onthou my vriendin se staande bly deur verskriklike vrees. Jy’s in jou vroeë veertigs, jou kinders klein. Dan word jou geliefde se alledaagse pyn oornag kanker en jy kry pynlik perspektief.
Vanmiddag lees ek haar dankie-boodskap: “Ek het ‘n gentle verjaarsdag gehad. Gentle in vergelyking met verlede jaar. Ontbyt saam met my geliefde, en toe ‘n entjie gaan stap. Soos twee ou mense, ek weet, maar dit was heerlik . . . “
In November.
Die foon lui, dis ons getroue au pair. Sy’s siek, die dokter sê sy moet ‘n week lank tuis bly. My hart klop vinniger. Ek rits die week se lysie in my kop af. Op die kinders se agenda is daar skoolwerk, kitaar- en swemlesse, ‘n wetenskapprojek, twee toetse, sokker, karate en balletkonsert-oefening. Op my lysie drie sakeplanne wat moet klaar, ‘n trek na splinternuwe kantore, ‘n werksessie met ‘n belangrike kliënt en ‘n onderhoud vir ‘n moontlike nuwe projek. ‘n Leë yskas, reisende man en Kersinkopies maak die hele spulletjie interessant.
Ek fokus – dis tyd vir Plan B, C en D. ‘n Skoonsuster, vriendin, kollegas, Oupa en Ouma – elkeen kry sy deel.
Dis November, sê ek later as ek uitasem tyd maak vir vinnige koffie saam met ‘n vriendin. Wonder vlugtig hoe dit met die tranerige jong vrou en haar moeilike man gaan, of my au pair volgende week sal terug wees en wanneer ek die Kersinkopies gaan doen. “Dis mos maar elke jaar se ding,” sê sy wys. “Nog koffie?”
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za