Ai. Die gras. Die ewige gras. Soms, net soms, is dit groener aan die ander kant. Dink ek dié week weer, dié slag op ’n vlug tussen Windhoek en die Kaap. Op pad huis toe. Jy’t net mooi gesien, niks lelik nie. Sy stry weer, die negatiewe een wat net wanneer dit haar pas nesskop in my kop. Ek het nie, kap ek terug. Met mening moeg.
Jy het.
Toegegee. Die luukse kamer. Die wit bed. Die lang spieël, tot op die grond. Die badkamer met die buitedeur en klippies waaroor water heelnag loop. Die stilte. Mooi, dit was mooi. Al moes ek op Aand Een twee botteltjies water uit die yskas haal om die waswerk te doen (ja, waterloos was ons).
Maar mooi bly mooi. Die gras. Die gras was dié week groener aan die ander kant.
Hoekom? Wat, wat is dit dan? Wat maak dat ek Vrydag anders na die wêreld kyk as afgelope Maandag? wonder ek stroperig terwyl my buurman in die sitplek langsaan oor my skouer my skrifsels aanskou. “Wonder jy ook?” vang ek hom ongemaklik onkant. “Ja,” knor hy. Uitgevang.
Die oud-WP-kaptein-nou-entrepreneur wat my vroegaand op die lughawe inwag asof ons mekaar al jare ken, die energieke Namibiër met die diep geloof aan wie hy my die volgende oggend voorstel, dié Namibiër se slim, stil, sterk vrou, die finansiële bestuurder wat met pretensielose deernis later van haar “houman” vertel en die jongeling wat stadig uit sy dop kruip “omdat ek my plek moet ken”. Later kom daar ’n beautiful bokser by en ’n Engelse oudskeepskaptein (hy lyk vir my skaars twintig) saam met ’n reus van ’n man met hande so groot soos ’n opskepbord; een wie se hart vermurwe as hy vertel hoe hy en sy vrou vier girls grootmaak. “My girls.”
Ons droom. Drie dae lank. Weet ek weer hoekom so baie Namibië die land van hoop noem. Hierdie lotjie het een droom: om geleenthede te maak werk. Kleur is nooit ’n issue nie. Hoe ek en jy vir mekaar geleenthede kan skep om ’n beter toekoms te bou is die diskoers van die dag. Hul daag mekaar uit. Vat my vas. Dis vir my lekker.
Die gras. Ai. Die gras.
Daar’s nog ’n man. Hy’s moeër as die ander, nie daar as ons praat nie. Loer in wanneer hy kan. Die kamer, bed, spieël en badkamer is syne. Die waterprobleem ook. Maar niks van dié tel nou nie. Dis hy wie ’n paar jaar gelede twee van sy dogters en ’n maand terug sy vrou moes begrawe. Hy wat vriendelik-voortbeur, sy foon vat en my kleintydbuurvrou bel, die een wie se blommemeisie ek jare gelede was. Ek wil nog stry. Volgende keer, ek sal volgende keer gaan kuier. “Mens stel niks uit nie,” sê hy. Weet ek. Stry kan ek nie stry nie.
“Dis nie die gras nie,” sê die vreemdeling neffens my. “Tien minute,” sê die vlieënier.
Ek weet. “Mense. Dis mense,” sê ek.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za