Dis ‘n baie, baie groot wêreld as die trane kom en moeder en die huis ver is. Dan lyk die tamaai see ook boonop nog so kwaai. En boetie speel maar liewers met sy tone as om te probeer troos. Voorwaar. Dis moeilik om ‘n klein knapie te wees as die hartjie van allenige seer wil breek.
Verdriet, o verdriet jou nare ou ding. ‘Hou nou maar op huil voor jy ‘n dogtertjie word,’ sou mammie gesê het. ‘Smeer bietjie spoegies aan die eina en jy is pure perd. Kom, laat ons die traantjies afdroog. Wys vir mammie waar jy seergekry het.’
Maar mammie is nie daar om sy handjie te vat nie en nou stroom die trane eers deur die hygende snikke. Stadig loop dit oor die wangetjies en drup op die warm klippe en sy voete. Nare ou klippe wat sy knie seergemaak het toe hy geval het. Nerfaf.
Deur die tranedal het hy skaars die vreemde oom met ‘n kamera om sy nek sien aankom wat nou met hom praat. Hy verstaan nie ‘n dooie woord wat die oom vir hom probeer sê nie. Vir hom is die oom se praat van die snaakste geluide wat hy nog ooit ‘n mens hoor maak het. Die skielike gebeure laat hom egter skoon van sy seer vergeet en die snikke hou meteens op.
Vir ‘n oomblik is hy eerder bang vir die vreemde oom as om bedroef oor sy seer te voel. Maar die oom is baie vriendelik en haal sy sakdoek uit waarmee hy die trane oor die gesiggie afdroog. Dan vee die oom liggies die stoffies en bietjie bloedjies van sy seer knie af. Die knapie wil, wil weer begin huil toe die oom aan die eina raak, maar hy byt op sy tande en toe die oom hom op die rug klop en boetie ook belangstellend naderkom, skep hy sommer weer nuwe moed.
Die oom vroetel in sy sak haal vir elkeen ‘n lekkergoedjie uit wat in sulke blink papier toegedraai is. Die bietjie soetigheid dryf vinnig die laaste verdriet uit die gesiggie wat nou weer vol moed begin te straal. Die vreemde oom gee die twee boeties nog ‘n laaste klop op die rug en toe stap hy net so skielik weg as wat hy gekom het.
Die twee knapies kyk vir mekaar. Vat handjies en begin vinnig aanstryk huis toe. Dadelik is hulle terug in hulle eie klein wêreldjie en niks meer bang vir die vreeslike ou groot wêreld rondom hulle nie. Hulle kan nie haastig genoeg loop om vir mammie van die vreemde oom te gaan vertel wat sulke koddige geluide maak as hy met hulle praat nie. Hulle skaterlag sommer as hulle net daaraan dink!