Dis heerlike… winter! deur Ina Genade. Hooffoto: Ina Genade. Foto in teks: Hugo Kilian.
Die afgelope naweek lees ek iets in die kuberruim wat my amper laat stik in my koffie.
“Die laaste naweek van winter en ons bibber!” of iets in der voege staan daar swart-op-wit.
En, ek besef: Dit is sowaar einde Augustus. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Ek was eintlik nog van plan om in my skinny jeans en knielengte boots te pas dié winter. Maar, weens die winter, nou ja …
Reeds 16 jaar ’n inwoner van die Breedevallei, weet ek gelukkig ook dat die winter nog lank nie verby is nie – al sê die kalender wát. Ons eerste somer in dié vallei, is sestien jaar gelede ingewy met ’n kouefront einde November en daar was sneeu op die omringende berge. As ek so na my sneeualbums van die afgelope 12 jaar op Facebook kyk, was daar meer dikwels as nié sneeu in Oktober en November.
So, ek oortuig myself dat die winter nog la-a-ank is en dat ek nog nie heeltemal die aftog hoef te blaas in Die Stryd om die Skinny Jean nie.
Jaarliks terwyl die massas ween en tande kners (en klapper) oor die koue, trek ek en my massas net die serp stywer om my keel (maar nie té styf om trooskos, Romany Creams en rooiwyn se weg te belemmer nie) en sug ’n behaaglike sug van lekkerkry.
Dié laatlentebaba is versot op die koue. Daar is vir my niks lekkerder as ’n vars wintersoggend met sneeu op die berge nie. Of ’n grysgrou dag voor die kaggel met reën op die sinkdak nie.
So, terwyl 99,9% van die bevolking klaarblyklik reikhalsend uitsien na somer, koester ek elke koue dag. En ek hou die weervoorspelling wantrouig dop, want op ’n heerlike kouefront soos die afgelope naweek, volg daar dikwels ’n dag of twee met somertemperature netso om die sneeu op die spitse te laat smelt.
Dit is juis hierdie mooi, sonnige dae wat my effe onrustig stem. Want, na 16 jaar se somers in warm, winderige Worcester, weet ek wat voorlê: Skroeiende, versengende dae met wárm bergwinde. En, snikhete nagte met muskiete en dergelike plae uit Egipte. Vir ma-a-a-ande lank.
Daar is hoeka nou die dag ’n tweemeterlange spoegkobra net hier anderkant uit ’n erf verwyder en ’n maatjie van my seun se ma vertel dat die pofadders graag voor hulle agterdeur uitkamp. In die middel van die woonbuurt.
Die Bolandse hitte is niemand se maat nie. Swembaddens en swempartytjies en lugversorgingrekeninge wat Eskom-base nog swembaddens kan laat installeer, ten spyt – die somer se warmkry is vir my een van die mees moedelose dinge. Vir koudkry kan mens altyd nóg ’n warm ding aantrek of ’n kombers nadersleep. Maar, as jy warm kry en al die waaiers draai soos turbines en die lugversorger brom in Rande, kan jy tog net tot op die warmbloedige vel uittrek en nie verder nie?
Vir nou klou ek soos ’n klits aan ’n wolsokkie vas aan my winterplesiertjies: Sneeuspeel saam met kinders en vriende in die Matroosberge, kaggelmaak sodra die son sak, warm bredies op die stoof, langmoue en serpe en uitgetrapte enkelstewels, snoesige kniekombersies, die geborgenheid van ’n dik duvet wat ek snags tot onder my ore kan optrek en die enigste dierasies in my huis is my troeteldiere.
Viva, die winter! Encore!
Klik hier vir nog bloginskrywings deur Ina Genade.