Dis eksamentyd en ek voel soos ’n rasieleier voor ’n onwillige skare. Gryp my pom-poms elke oggend, huppel vroegoggend deur die huis, verstarde glimlag op die gesig, vrolikheidsvrees in die stem: “Kom, kom Boetie! Dis nie so erg nie, Boetie! Ons is amper daar, Boetie! Nog net drie slapies, Boetie!” Hy lig sy kop, ogies vaal en flou. Daardie verwese frons.
Hy voel alleen. Baie alleen.
“Mamma, ek wil net gou my bed opmaak,” kom dit. Van ’n kind wie ek gewoonlik moet smeek om dit te doen. “Mamma, ek gaan net gou kitaar oefen. Mamma, ek dink ek gaan gou bad. Mamma, kyk hoe netjies het ek my lessenaar reggepak.” Hier’s skielik ’n alien in die huis. “Mamma, ek’s honger . . .”
Ek voer hom ’n appel, ’n muffin, warm sjokolade, bak ’n koek. Eet sommer saam, in dubbele porsies. My ledemate lam gedans. My pom-poms flou.
So, ja.
“Wees bly hy het nie ’n motorfiets nie,” skerts Ouma, simpatiek. En skielik sien en hoor ek Boetie se drie oompies, net duskant dertig jaar terug. Dis eksamentyd, dié beste tyd om jou motorfiets part-vir-part op die garagevloer uitmekaar te haal.
“Mamma, ek gaan net gou nog hierdie deel klaarmaak. Mamma, ek dink aan my leerwerk as my hande besig is. Mamma, daar’s rugby op die TV. Mamma, ek is deur al my werk (al was dit net tien minute). Mamma, ek gaan gou gym. Mamma, ek’s honger . . .”
Sy voer hul ’n bergie brood, peanut butter en stroop, koffie, melktert. En eet saam, in dubbele porsies. Lam gedans, pom-poms flou.
Sê ’n vriendin: “Dis die vreemdste ding. Nóú wil hulle buite speel, rondhol en langbeen in die wintersonnetjie op die stoep sit. Nóú?”
Ek loop weg. Stil-stil. Sê vir niemand niks. Gaan soek ’n buurt waar min my ken, bestel koffie, kaaskoek (en kyk dat die sny groot genoeg is as hy kom). Dis eksamentyd. In my huis is daar ’n alien in sy oudste sweetpakbroek, pantoffels-aan-die-voet, mussie (stukkie troos, gebrei deur Ma) op sy kop. Sy skouers hang, die wêreld druk.
Moenie nou met my praat nie, kyk ek die kelner stil.
Dis kwart oor twee. Tyd vir Boetie om te bel. Ek sukkel om te werk, te konsentreer. “Bel my.” Die WhatsApp biep, eindelik.
“Hoe het dit gegaan?” Sommer met die intrapslag. Vir ordentlik-wees het nie ek of hy meer krag nie. “Sy’t goed gevra wat sy gesê het ons nie hoef te leer nie. Ek weet nie. Seker ok. Dit was maklik.” Soms die reaksie wat my koud laat: “Fine.” Ek vra weer. “Fine.” Wat beteken dit? “Fine,” met die verwese frons.
Ek voer hom, gryp dan die pom-poms. “Kom, kom Boetie! Dis nie so erg nie, Boetie . . .”
Dis die laaste dag. Sy gesiggie straal. Hy stort flink en vinnig, trek sy nuutste klere aan, bed onopgemaak, kitaar vergete in die hoek, kamer deurmekaar . . . “Dis vakansie, Mamma! Dis vakansie!”
En ek? Ek staar vir die skaal. My eksamen begin vandag.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za