“Waar’s jou paspoort?” Dis Maandag. Dis Desember. Dis warm. Ek het lus om te sê: “Huh?” Voor ek kan, kom dit weer:
“Waar’s jou paspoort?”
“Huh?” Sê ek.
“Waar’s jou paspoort?” ’n Derde keer.
Ek het nie ’n paspoort nodig nie. Jy het my ID. Ek verduidelik. Voel hoe die druppel teen my rug afloop, maar bly kalm.
“Ek gaan Sishen toe. Jy het nie ’n paspoort nodig vir Sishen nie.”
Is. Issie. Is. Issie. Isssssss.
Dis Maandag. Dis Desember. Dis warm.
Ek Google en kry die kaart. “Kyk. S.I.S.H.E.N.” Sy kap terug: “Dis verkeerd gespel. S.E.Y.C.H.E.L.L.E.S.”
Is. Issie. Is. Issie. Isssssss.
Hy kom tot my redding, dié man van die toonbank langsaan. Help haar. Sy kyk nie weer op nie. “Ek het nie geweet van Sishen nie.”
Dis laatmiddag toe ons uiteindelik land. Sishen-lughawe, net buite die Noord-Kaapse dorp Kathu. Die volgende keer as ek ’n tas pak is dit vir see toe – ’n tas sonder enige swart langbroeke, hoë hakke of iets wat soos kantoorklere lyk. Helder T-hemde, kort broeke, sonrokke en plakkies staan al reg, dink ek terwyl ek in die Kalahari-skemer stap om my tas te haal.
My tas. My tas is nie daar nie. “Hy’s op pad Seychelles toe,” sê ek. “Hy’s gelukkig nog in Johannesburg,” sê die tannie van Kathu en prop my ’n papiertjie met haar naam en selfoonnommer in die hand. “Ek sal hom kry. Bel my môre.”
Nou kyk, om twee van die drie dae wat jy weg is van die huis sonder jou tas te wees, is ’n krisis. Dis Maandag. Dis warm. Dis Desember. In Kathu. Dalk, net dalk, is Kathu se winkels nog oop vir Kersinkope. “Try die Mall,” sê die tannie. “Dis half sewe. Shoprite maak sewe-uur toe. Pep en Jet is nog oep.”
Tien minute later hardloop ek Mall in. Pep se deure reeds toe. Jet nou my enigste hoop. Ek gryp: ’n skelpienk nagrok (hy gaan uitwas, dink ek), ’n bra, ’n onderrok (ek weet nou nog nie hoekom nie) en ’n pakkie panties. Hier’s my keuse beperk: vir ouma’s wat alles wil toemaak of vir Sus wat alles wil wys. Ek knyp oë toe en kies vir Ouma. Niemand sal weet nie.
Vyf minute. Jy’t nog vyf minute. In Shoprite gryp ek handelsmerke uit my kleintyd, goed wat ek weet my nie nou in die steek sal laat nie: sjampoe, tandepasta, tandeborsel, ’n groot pot room, ’n bottel water, gesigseep, nóg room. Ek’s reg om die dag toe te smeer.
So ja. Gaar stap ek die vyfster-gastehuis binne en kry die honeymoon-suite. My bagasie in ’n plastieksak vasgeklou. “Ons bring jou kos kamer toe.” Hulle sien. Ek’s gaar. Eet. Stort. Dan: daar pas twee van my in die skelpienk-nagrok, die panties kan ek optrek tot ver bokant my naeltjie, die sjampoe is conditioner, die gesigseep is nóg room, die water is verby die vervaldatum.
Wat het jou besiel? Jy moes jou paspoort uitgehaal het, dink ek later toe ek stokalleen in die honeymoon-bed lê en kyk hoe my Maandagklere hul vere regskud in die Kalahari-wind. Vir Dinsdag.
Leer nou: dis Desember. Moenie stry nie. Ek moes nie oor S.E.Y.C.H.E.L.L.E.S. gestry het nie.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za
NS: Ek en my tas is Dinsdagmiddag herenig en Woensdag huis toe.