Iewers in die chaos van 2015 kry ek dié geskenk. Een met die boodskap: ons gee vir jou iets waarvan jy maar min het. Tyd. Tyd saam met jou mense. Tyd vir ‘n ete. Tyd by die historiese Kaapse wynlandgoed De Grendel, tuiste van generasies met die titel Sir De Villiers Graaff iewers in hul verlede opgesluit.
Die tyd is te min. Selfs te min om by ‘n Sir te eet. Uiteindelik bêre ons 2015 in ‘n boksie onder die bed. “Klaar met jou. Gaan vergaar stof,” sê ek hardop, draai om en trek ‘n leë boksie nader. Een met genoeg plek vir tyd.
In die eerste week van die nuwe jaar maak ek tyd vir eet saam met my mense en maan die span: jy trek aan vir die okkasie. Eerste hekkie: na die vakansie pas nie een van Boeta se langbroeke nie. “Ek kam my hare, doen gel en trek ‘n kortbroek aan. Die Sir sal nie sien nie,” seil hy oor dié een.
Tweede hekkie. “Mamma, hoekom is daar so baie skottelgoed op die tafel? Gaan die Sir dit was?” Sus frons en ek verduidelik skuldig-vinnig wat-jy-moet-weet-van-restaurante-as-jy-sewe-jaar-oud-is-en-net-kits-ken. Haar oë groot, maar ook sy seil oor.
Of so dink ek. Derde hekkie. Wat eet ons? Drie gange, sê Ma en Pa. Voorgereg, hoofgereg, nagereg. Sus se oë rek weer. “Ek sal die poeding eet.” Ek verduidelik. Sy sluk, verorber die vooraf-brood, vra haar Pa om die uie en goeters wat sy nie eet nie uit die slaai te krap en peusel-peusel aan dít wat lekker en bekend is.
Waag dit dan, nadat sy die helfte van haar vishoofgereg in het: “Pappa, ek is nou nie snaaks nie. At my age is toasted cheese en milkshake meer my thing.” Bieg sy, ogies fladderend, terwyl die Boeta braaf smul aan die Sir se seekat, tamatie panna cotta, uie, chorizo en komkommer.
Later. “Ek’s nog honger.” Sê sy wat sewe is toe ons terugry huis toe. Die fladderende oë het gewerk, Pa swig, dismilkshake-tyd. Ek wonder wat die Sir sal sê?
Of dalk weet hy ook: dis 2016. Elkeen van ons het ‘n nuwe boksie om te vul met tyd. Iewers dié jaar gaan ons die hekkies moet oor. Ons klere gaan knel óf afval, ons gaan moet plan maak met hare kam en gel om die aandag van ons foute af te lei, ons gaan moeilike vrae vra oor die skottelgoed op ander se tafels, ander gaan in ons slaai krap, ons gaan goed eet waarvan ons niks hou nie of nuwe smake ontdek . . . en, as dinge te veel raak gaan ons troos soek in toasted cheese enmilkshake.
Dis 2016. Soos dit moet wees.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za