Sy is 21, met die verstandelike vermoëns van ’n sesjarige, en haar bou en gelaatstrekke verklap die diagnose wat haar aanneemouers meer as twintig jaar gelede moes aanhoor: fetale alkoholsindroom. Onomkeerbaar, tragies. En heeltemal voorkombaar, as mense maar net wil luister.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Tisha se aanneemouers, Vivien en Peter Lourens van Pinelands, was vir 16 van hul 32 jaar getroude lewe pleegouers vir babas in nood. Hul uitgebreide gesin bestaan uit twee biologiese seuns, Andrew en David, en drie dogters: Leigh-Anne, Carrie en Tisha. Carrie (26) is ook aangeneem, en het ook spesiale behoeftes.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }“Ek wou nog altyd ’n pleegouer wees,” vertel Vivien. “Ek het ’n agtergrond in kinderversorging, en spesifiek die versorging van kinders met spesiale behoeftes.” Baie van die meer as tagtig babas wat hulle deur die jare versorg het, is bloot ná geboorte by hospitale agtergelaat. Een is selfs op straat gebore, waarna die ma aangestap het en die baba net daar gelos het. Nog een is oor ’n heining by ’n skool gegooi. “Daar was baie tragiese gevalle en baie met Fetale Alkoholsindroom (FAS).”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Vivien sal nooit die Vrydag in 1996 vergeet toe ’n maatskaplike werker Tisha, wat toe skaars 2 kg geweeg het, in haar arms gesit het nie. Hulle het reeds ’n ander baba in pleegsorg gehad, maar nie gehuiwer om weer te help nie, selfs al is daar vir hulle gesê die babatjie sal waarskynlik nie die naweek oorleef nie. Vivien se hart het dadelik vermurwe, en sy het besluit sy sal alles in haar vermoë doen om die kleintjie te laat oorleef. “Sy het na my gekyk met so ’n opgekreukelde neusie en ’n groot glimlag, en dit was dit!”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Die tengerige baba met die digte bos pikswart haartjies het die eerste tien weke van haar lewe in ’n broeikas by die Mowbray-hospitaal deurgebring ná haar ma haar eenvoudig by geboorte verwerp het. Alles het teen haar getel: weens haar ma se hewige drinkery tydens swangerskap is sy weke te vroeg gebore – met breinskade, ’n gat in die hart, ’n maagklep wat nie behoorlik sluit nie én hewige onttrekkingsimptome.
Vivien onthou nog hoe die klein lyfie geruk het, haar onderontwikkelde breintjie smagtend na die alkohol waaraan dit vir nege maande gewoond was. Maar dit het Vivien-hulle nie geweet nie.
“Dit was baie pynlik vir haar, en verskriklik erg om te aanskou.”
Hulle het nie ’n idee gehad wat met die baba verkeerd was nie. Die belangrikste was om haar te leer drink, want Tisha se suigrefleks was glad nie ontwikkel nie. “Ek het haar leer suig deur ’n fopspeen in heuning te doop en dit in haar mond te druk en weer uit te trek totdat sy ’n smaak daarvoor ontwikkel het.” Die maagklep wat nie sluit nie, het in die eerste jaar van haar lewe daartoe gelei dat dit wat sy wel gedrink het, net so gou weer opgebring is.
As die Lourense destyds geweet het wat hulle nou weet, sou Tisha se voorkoms reeds vir hulle gesê het dat sy ’n FAS-lyer is. Sulke kinders het gewoonlik ’n baie kleiner kop, kleiner oë met voue op die boonste ooglid, plat wangbene, ’n plat neusbrug, onderontwikkelde onderkaak en ’n dun bolip sonder ’n filtrum (die vertikale groef tussen die bolip en neus). Kyk ’n mens na ’n foto van die tien weke oue baba, is al die tekens daar.
Eers met haar roetine-ondersoek op 16 weke het haar toestand ’n naam gekry. Dit was 1996, en daar was bitter min inligting oor FAS. “Daar was wel baie statistiek, maar dit help jou nie as jy met ’n FAS-baba sukkel nie,” onthou Vivien. “Gelukkig het ons deur ’n Internetsoektog ’n ondersteuningsgroep in Kanada opgespoor wat baie praktiese raad gegee het.”
Toe daar nie pleegouers vir Tisha gekry kon word nie, kon die Lourense dit nie oor hul hart kry om haar na ’n kinderhuis te laat gaan nie. Almal was klaar te lief vir haar, maar hulle het goed besef dit gaan ’n uitdaging wees. Vivien vertel trots dat Tisha met haar deursettingsvermoë baie kenners verkeerd bewys. “Sy was veronderstel om baie stadiger as ander kinders te ontwikkel. Daar is vir my gesê dat sy waarskynlik eers rondom vier sou leer loop, maar sy het kort ná haar eerste verjaarsdag geloop. Ek het ’n wonderlike fisioterapeut gehad wat my geleer het wat om te doen. Dit was baie, baie harde werk.”
Dis duidelik dat die Lourense se liefde en konstante aandag en ingryping ook ’n reuse-rol gespeel het. Wat het Vivien laat aanhou? “Sy is emosioneel die wonderlikste kind. Sy het van die begin af ’n gawe, liefdevolle geaardheid gehad.”
Tisha en Carrie was albei leerders van die Bel Porto-skool vir kinders met spesiale behoeftes. Tisha werk deesdae voltyds by Merrypak, ’n skryfbehoefte- en verpakkingsonderneming. Sy en meer as twintig ander mense met spesiale behoeftes maak hier ’n gewaardeerde deel uit van die personeel van tweehonderd mense, danksy die mede-eienaar, Julie Tobiansky, se visie van inklusiewe werksplekke. Tisha se werk is haar trots, al is dit eenvoudige take soos om handvatsels in geskenksakkies te ryg. Die vrolike meisie sal jou sommer self vertel sy het FAS, en dat dit beteken vroue moenie drink terwyl hulle swanger is nie.
Vivien en Peter moedig Tisha aan om so onafhanklik moontlik te lewe. “Maar sy kan nie alleen êrens heen gaan nie. Al kan sy nie lees of skryf nie, herken sy logo’s en simbole. Wanneer ons gaan inkopies doen, koop ons altyd dieselfde handelsmerke sodat sy ook kan help om dit op die rakke te gaan haal.”
Soos enige jong meisie van haar ouderdom, het sy ’n selfoon. “Sy gesels graag op WhatsApp met haar vriende. Ons weet nie hoe sy dit doen nie, maar sy is nogal bedrewe op die Internet en kyk video’s oor baie onderwerpe. Sy het haarself byvoorbeeld geleer om met loom bands te vleg nadat sy ’n YouTube-video daaroor gekyk het. Soms sal sy vra dat ons vir haar ’n woord neerskryf sodat sy dit in ’n aanlynsoektog kan gebruik.”
Natuurlik bekommer Vivien en Peter hulle oor die toekoms van hul twee spesiale dogters. “Hulle sal nooit onafhanklik kan leef nie, en daar is baie min goeie versorgingsoorde vir volwassenes beskikbaar.” Maar sy is filosofies wanneer sy oor hulle praat. “Hulle het ons gekies, nie ons vir hulle nie. Dit het maar toevallig so uitgewerk dat hulle die twee is onder al die babas na wie ons gekyk het wat uiteindelik by ons gebly het.”
Daar is ’n besliste verband tussen aandagafleibaarheid by kinders en hul ma’s se alkoholgebruik tydens swangerskap. Ma’s wat meer drink, sal meer waarskynlik hiperaktiewe kinders met konsentrasieprobleme hê, toon navorsing deur prof. Philip May van die Universiteit van Noord-Carolina en ’n span Suid-Afrikaanse navorsers onder leiding van prof. Soraya Seedat van die Universiteit van Stellenbosch. Volgens prof. Charles Parry van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad lei alkohol tydens swangerskap beslis tot swakker verstandelike ontwikkeling.
“Hoe meer ’n ma drink, hoe laer is die verbale en nieverbale IK, hoe swakker is die kind se konsentrasie en hoe meer hiperaktief is die kind.”
Leana Olivier, hoof van die Foundation for Alcohol Research (FARR) stem saam. “Soms word ADHD by kinders gediagnoseer terwyl hulle eintlik FAS het.” Ongelukkig is daar volgens haar nog te veel dokters wat vir swanger middelklasma’s vertel ’n glasie of twee wyn is in orde.
Alkohol is ’n teratogeen of middel wat strukturele en ontwikkelingsabnormaliteite by ongebore babas veroorsaak. Wanneer ’n vrou drink, beland die alkohol in haar bloedstroom en so in die plasenta. Die baba “drink” saam deur die naelstring. Alkohol veroorsaak hoër konsentrasies bloedalkoholvlakke in ’n fetus as in die ma omdat ’n fetus alkohol stadiger as ’n volwassene metaboliseer. Alkohol veroorsaak skade aan die brein en ander organe.
Marlene de Vries, koördineerder van die FAS-navorsingsprojek aan die US, waarsku dis nie hoeveel jy tydens swangerskap drink nie, maar dat jy hoegenaamd drink. Volgens haar is elke vrou se liggaam en elke ongebore baba uniek, wat beteken almal reageer verskillend op alkohol. Chanel Lombaard, ook van FARR, benadruk dat daar geen “veilige” tydperk is om tydens ’n swangerskap te drink nie. “Breinontwikkeling vind dwarsdeur die swangerskap plaas.”
Die heel jongste internasionale navorsing toon daar is géén bewese veilige vlakke van alkoholgebruik tydens swangerskap nie. Vermy alkohol dus eerder heeltemal tydens jou swangerskap, waarsku dr. Svetlana Popova, navorsingsleier by CAMH. Een uit elke 67 swanger vroue wat hoegenaamd alkohol gebruik, sal ’n baba met FAS hê, en swaar drinkers het ’n kans van een uit 23.
Dit sluit boonop die risiko vir ander FAS-toestande uit. En daar is geen manier om te voorspel of jy dalk daardie een vrou gaan wees nie …
Bronne
• Die stil aktivis
• fas-fails-to-dampen-tishas-spirits
• south-africa-has-a-drinking-problem
• stop-drinking-during-pregnancy-foetal-alcohol-syndrome-is-irreversible-doctor
• abc.net.au
• 51voa.com
• thelancet.com
• farrsa.org.za
FAS val binne die breër definisie van fetale alkoholsindroom spektrumstoornisse (FASS). Dit sluit ook toestande soos gedeeltelike fetale alkoholsindroom, alkoholverwante neuro-ontwikkelingstekorte en alkoholverwante geboortedefekte in. Sowat 6 miljoen Suid-Afrikaners word deur FASS geraak.
FAS word as die ergste, mees sigbaar identifiseerbare én algemeenste toestand op die FASS-spektrum beskou. Alle FAS-babas het ’n mate van verstandelike, fisieke of sosiale gestremdheid.
Alkohol beskadig die sentrale senustelsel van ’n ontwikkelende fetus. Dit lei tot ’n kleiner brein, stadiger ontwikkeling, motoriese probleme en gedragsprobleme soos hiperaktiwiteit, impulsiwiteit, aandagstoornis, konsentrasieprobleme, swak geheue en leerprobleme. (Natuurlik in wisselende grade.)
Dis nie net arm, bruin en swart vroue wie se babas met FAS gebore word nie. Wit middelklasvroue se babas loop dieselfde gevaar, selfs al drink hulle nie daagliks of baie tydens hul swangerskap nie.
Sowat 259 kinders uit elke 1 000 geboortes (25,9%) word gediagnoseer met FASS. Die helfte van hulle (12,7%) het FAS.
SA, en spesifiek die Wes-Kaap, het van die hoogste voorkomssyfers van FAS ter wêreld. Omtrent 25 000 van die 119 000 FAS-babas wat jaarliks wêreldwyd gebore word, word in Suid-Afrika gebore. Tussen 13,6% en 20,9% van kinders van plattelandse gemeenskappe waar navorsing gedoen is, ly aan FAS.
Suid-Afrika het amptelik die vyfde hoogste voorkoms van FAS ter wêreld, wys navorsing deur die Kanadese Centre for Addiction and Mental Health (CAMH) wat in Januarie 2017 gepubliseer is. Belarus (in Rusland) was bo-aan die lys, gevolg deur Italië, Ierland, Kroasië en dan Suid-Afrika. Een van die moontlike redes vir die hoë Suid-Afrikaanse syfer is dat tot 75% van swangerskappe onbepland is, wat lei tot die onwetende blootstelling van ongebore babas in die eerste paar maande, ’n kritieke tyd vir breinontwikkeling.
Binge drinking is ’n direkte oorsaak van FAS en volgens die CAMH-studie een van die redes hoekom Suid-Afrika so ’n hoë voorkomssyfer het. Sowat 40% van vroue in die Wes-Kaap drink tussen vier en nege drankies op Vrydag- en Saterdagaande.
Omdat ons regering FASS-navorsing nie as ’n prioriteit beskou nie, is daar nie syfers oor die sosio-ekonomiese impak daarvan beskikbaar nie. Maar in die VSA is FASS-lyers 19 keer meer geneig om in die tronk te beland. FASS het dus waarskynlik ’n groot impak op die hoë voorkoms van misdaad en geweld in Suid-Afrika.
Of jy op soek is na ’n kragtige skootrekenaar om meer as een taak mee…
Om ’n matras aan te skaf is een van die duurste beleggings wat jy sal…
Bestanddele 500 ml (2 k) gevriesde bessies 500 ml (2 k) volroom- Griekse jogurt…
Iemand het uiteindelik kykNET se miljoenrandvraag op die gewilde vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr? beantwoord. …
Maak werk van dié kwessies en kry weer woema terug! #rrTussenOns
Die huidige Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, het vandag in ’n video op sosiale media…
Hierdie webwerf gebruik koekies.