My ouers het my en my broers ná matriek elk met ’n stel tasse in die een hand en ’n Kook en Geniet in die ander hand universiteit toe gestuur. Die boodskap was taamlik duidelik: Julle is baie welkom by die huis, maar dis tyd dat julle jul eie pad stap.
En ons het. En sover ek kan onthou, het al my tydgenote ná hul studie in ’n eie blyplek ingetrek, begin werk en koers gekry.
Ons is in die laat jare vyftig/vroeg sestig gebore (die sogenaamde Baby Boomers wat tussen 1946 en 1964 gebore is) en ons is grootgemaak deur ouers wat die depressiejare en Tweede Wêreldoorlog oorleef het. Hulle het ons geleer dat ekonomiese sekuriteit voorop gestel word, en die grootste bates in die lewe is ’n goeie werk en standvastigheid.
Dit is baie anders as die klimaat waarin kinders deesdae grootword waar opwinding, passie en hernuwing die hoekstene van ’n beroep geword het.
Toe ons klomp begin werk, het ek niemand geken wat ’n glanslewe gelei het, of ’n ongelooflike werk met ’n verbysterende salaris verdien het nie. Maar hoe sou ek ook weet, want dit was voor die dae van selfone, facebook, Twitter en WhatsApp en … Tog was ons almal eintlik heel gelukkig met ons gemiddelde salarisse en voorstedelike lewe. En almal het uiteindelik op eie bene gestaan en verstommend genoeg bevredigende sukses behaal.
Deesdae bly kinders veel langer by die huis en die ouers mor … die kinders het dit eintlik soveel makliker, maar hulle is nie juis gelukkig nie. En hulle sukkel om vastrapplek in hul werk en in die grootmenslewe te kry.
Hulle het oënskynlik soveel selfvertroue en is veel wêreldwyser as wat hul ouers op dieselfde ouderdom was. Hoekom is hulle so ongelukkig as dinge dan nou soveel beter is?
Adjunk-prof. Paul Harvey van die Universiteit van New Hampshire se navorsingsbevindings is dat hierdie kinders maklik ongelukkig in hul werk is omdat hulle soveer meer verwag het. Hulle maak aanspraak op onverdiende voorkeurbehandeling, is meer geneig tot konflik en ervaar minder werksbevrediging.
Y-generasie en tegnologie
“Die enigste groot verskil tussen ander generasies en die huidige geslag, die sogenaamde Y-generasie wat nou in hul twintigerjare is, is dat die jonges met veel meer tegnologie grootgeword het,” sê dr. Marlene Arndt, ’n sielkundige van Johannesburg. Sy spreek gereeld ongelukkige jongmense wat op die oog af nie rede het om beswaard te voel nie.
“Hierdie kinders is dag en nag deel van die sosiale media en hulle sien daagliks die omvang van die geluk wat hul vriende op facebook uitstal. Ongelukkig adverteer mense net hul glans-oomblikke (wat natuurlik met glansfoto’s geïllustreer word) en niemand hoor ooit van die mislukkings en smart nie. Dis ’n bietjie soos dobbelaars wat vertel wanneer hulle R10 000 gewen het, maar niemand hoor van die R30 000 wat hulle al verloor het nie.
“Boonop probeer elke nuwe generasie ouers vir hul kinders ’n beter lewe gee. Dis ’n natuurlike begeerte. Die ouers belowe ’n roostuin vir die kinders en plant dit met goeie geleerdheid, ’n blyplek en voertuig, maar die kinders is so gewoond aan die onrealistiese verwagting dat alles maklik en lekker gaan wees, dat hulle nie voorbereid is op die harde werk wat dit verg om hierdie ‘roostuin’, oftewel lewenstyl, in stand te hou nie.”
Kinders bly langer tuis
Baie kinders studeer deesdae uit die huis omdat verblyf duur is. En ná hul studie bly hulle ook maklik tot op 25 by die huis omdat beginsalarisse te karig is om vir die soort verblyf te betaal waaraan hulle gewoond geword het. Ouers het hul kinders ook grootgemaak met die verwagtinge van ’n hoër lewenstandaard en kinders verwag om in dieselfde styl te leef wanneer hulle die huis verlaat. Kinders en ouers het ook ’n gemakliker verhouding en dis vir die meeste ouers lekker om die kinders steeds in die huis te hê. (Veral as hulle jou rekenaar kan regmaak.)
‘Jy is baie spesiaal’
“Kinders verwag nou baie meer van die lewe en soms is dit vir hulle ’n groot teleurstelling wanneer hulle die werklikheid beleef,” sê dr. Arndt. “Ons het hulle gedurig geloof en geprys en vertel hoe spesiaal hulle is. Dit is wel goed vir hul selfbeeld, maar nou is mislukking ’n probleem, want hulle verwag so baie.”
Dr. Arndt benadruk dit dat hedendaagse ouers suksesvol was in hul opvoedingstaak en positiewe kinders met ’n goeie selfbeeld en selfvertroue grootgemaak het.
“Maar ongelukkig is hierdie kinders nie gewoond aan die harde werk wat sukses verg nie en ouers moet besef dit gaan langer duur voor die kinders volwasse genoeg is om op hul eie bene te staan.
“Ouers kan nie ’n lewe lank vir hul kinders klippe uit die pad rol en dan verwag hulle moet amper oornag volwasse en selfversorgend wees nie. Hulle moet besef hulle sal veel langer ’n ondersteunende rol moet speel om hul kinders die lewe in te lei.”
Dr. Arndt sê natuurlik mag welgestelde ouers die lewe vir hul kinders lekker maak. “Maak net seker dat hulle ook aan die werklikhede van die lewe blootgestel word.”
Die probleem ontstaan wanneer kinders begin werk, want nou moet hulle die werklikheid in die oë kyk. Die vorige generasie het hul beroepslewe op bestendigheid gegrond. Vandag se kinders is op soek na opwinding en verwag dat ’n werk van meet af aan bevredigend en opwindend moet wees.
Gemiddeld is oukei
Kinders is gekondisioneer dat dit genoeg is om net deel te neem. “Jy hoef nie noodwendig uit te blink nie, want jy is in elk geval vir ons baie spesiaal,” was die boodskap wat ouers en leerkragte oorgedra het. En al het hulle nie gewen nie, het hulle ook pryse gekry.
“Ongelukkig is dit die werklikheid dat jy gedrewe moet wees en moet kan volhard om die hoogste sport te bereik. En dis dié toewyding wat ontbreek. Jy moet meer insit as die ander om uit te troon.”
Sosiale media en die werklikheid
’n Artikel in die Huffington Post wat in September 2013 verskyn het het hierdie verskynsel bekyk en skryf jongmense se onvergenoegdheid toe aan die skeefgetrekte werklikheid wat die sosiale media skep. Vanweë al die glansfoto’s en stories van ander mense se lewe, dink die kinders verkeerdelik dat ander kinders ongelooflike dinge beleef, terwyl hulle nie so suksesvol is nie. Tog is dit net glansoomblikke en nie ’n glanslewe wat uitgebeeld word nie.
Tyd en kundigheid skep passie
Cal Newport, ’n skrywer en assistent-professor van Washington D.C. (en ook deel van die Y-generasie), skryf op Harvard Business Review se webblad dat die uitdrukking “volg jou passie” eers in die 2000’s gewild geword het toe sy generasie dit in beroepsleiding op skool geleer is. Dit is die mantra waarmee hulle grootgeword het en die maatstaf wat hulle gebruik om ’n loopbaan se gewenstheid te bepaal. Hy sê die tekortkoming van dié mantra is dat kinders dink dat jy ’n passie identifiseer en onmiddellik ’n werk kry waarin jy jou kan uitleef.
Hy sê in die navorsing wat hy vir sy boek So Good They Can’t Ignore You: Why Skills Trump Passion in the Quest for Work You Love gedoen het, het hy agtergekom dis ongewoon dat mense mal is oor hul werk voor hulle die betrokke werk góéd kan doen. Én die kundigheid word nooit oornag verkry nie.
Cal sê die begin van ’n wonderlike loopbaan voel gewoonlik nooit so fantasties nie en dat jongmense verkeerdelik kan tou opgooi omdat hulle so gefokus is om hul “passie te volg” en nie weet dat dit ’n tydjie kan duur voor jy die passie ontwikkel nie.
Patricia Greenfield, ’n sielkundige aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles, het ’n studie gedoen waar ’n miljoen Engelse boeke deur Google N-Gram Viewers geskandeer is. Sy het gevind dat woorde soos “kies”, “kry”, “voel”, “uniek”, “individueel”, en “self” deesdae gereelder gebruik word en woorde soos “verplig”, “gehoorsaam”, “gee”, “outoriteit”, “bid” en “behoort” minder gebruik word. Dit alles dui daarop dat hedendaagse kinders met ander opdragte grootgemaak word.
Wat is geluk?
Sielkundiges meen ’n mens ervaar geluk wanneer die werklikheid jou verwagtinge oorskry. Maar as jy meer verwag het as wat die werklikheid jou bied, is jy teleurgesteld.
Die sosiale media skep verwagtinge en ouers maak kinders ook met baie verwagtinge groot. “Jy kan enigiets wees,” hoor hulle gedurig. Daar is wel suksesverhale soos dié van Mark Zuckerberg wat facebook begin het en voor dertig ’n multimiljoenêr is. Kinders glo hulle kan dit ook doen en wil nie tyd mors om in ’n stadige wentelbaan te beland waar hulle beroepsgewys nie soos ’n meteoriet die hoogte inskiet nie.
Dit plaas groot druk op die jonges om gou suksesvol te wees en die perfekte werk te kry, want dit wil lyk asof almal anders dié ideaal bereik.
Daar is ook ’n beheptheid met die “self”. Kinders fokus hoofsaaklik op hulself en dring daarop aan om gelukkig te wees. Hulle sien geluk as ’n reg en voel soos ’n mislukking wanneer dit nie die geval is nie. Sê die obsessie om gedurig foto’s van hulself (selfies) te neem en aan te stuur iets hiervan?
Kinders is eensaam
Ondanks die oordrewe fokus op kommunikasie, is kinders eensamer as ooit tevore, sê Mathew Grounds, ’n berader
in Fourways.
“Kinders maak net oppervlakkige kontak in kort, pittige boodskappe per SMS of twiets. Facebook-inligting is ook ‘veilige kommunikasie’. Omdat daar geen werklike kontak is nie, deel kinders nie maklik hul diepste gevoelens nie en dit lei tot intense eensaamheid.
“Die media berig wyd oor die glanslewe van sterre en kinders is gedurig besig om hul eie lewe hieraan te meet. Hulle voel maklik dat hulle tekortskiet.”
Dr. Arndt sê die nuwe generasie wil vryheid hê en bevraagteken outoriteit, maar dis steeds die vorige generasie wat in bestuurs-posisies sit … Die situasie in die werkplek en hul ideale is dus nie altyd versoenbaar nie. “Die sosiale media wys vir kinders al die moontlikhede, maar nooit die werklikheid en mislukkings nie. Die Y-generasie se verwagtinge is dikwels onrealisties en dis hoekom hulle maklik teleurgesteld en mismoedig voel.”
Dr. Marlene Arndt is ’n kliniese sielkundige in Melville. 084 588 0088.
Mathew Grounds is ’n berader in Fourways. 011 745 6726.
Goeie raad
• Bly ondersteun: Ouers kan hulle nie skielik onttrek en verwag kinders moet alleen regkom nie. Dit beteken ongelukkig dat ouers se opvoedingstaak langer gaan aanhou en dat jy langer ’n ondersteunende rol moet speel.
• Stel hulle bloot: Dit sal help as ouers kinders vroeg al aan die werklike lewe blootstel, soos om hulle naweke en vakansies te laat werk. Dan beleef hulle die werklikheid (en kry ’n idee van die waarde van geld) en sien ook dat die verwagtinge wat die sosiale media skep onwerklik is.
• Wees realisties: Gesels gereeld met jou kinders en praat oor wat by die kantoor en werk gebeur. Kinders moet ook onthou: ander se suksesstories is nie noodwendig ’n realistiese verwagting nie.
• Maak kontak: Sosiale media het sy voordele, maar kinders moet weet dat oog-tot-oog kontak belangrik is. Sluit aan by ’n klub – soos vir bergfietsryers, ’n oefengroep, of doen ’n kursus in mosaïek of wynwaardering.
• Herinner jouself gereeld aan hierdie woorde: “Mag jou lewe eendag so ongelooflik wees soos wat jy op facebook voorgee dit is.” – Someecards.com
*Lees ook hier ’n artikel oor “Technology not to blame for teen woes”