Die Wuhan-griep / Chinese corona-virus: hoe gevaarlik is dit regtig vir Suid-Afrikaners? deur Salomé Delport. 27 Januarie 2020. Hooffoto: iStock/MCCAIG
As rondom honderd uit net 2 000 mense met hierdie nuwe soort verkoue binne die bestek van weke sterf, soos in China sedert Desember 2019 weens die Wuhan-corona-virus, weet ons ons het hier met ’n algeheel nuwe soort monster te doen.
Tot dusver versprei die virus ongebreideld.
China het reeds 13 groot bevolkingsentrums geïsoleer – ‘n ongekende stap. Niemand mag vanaf hierdie sentrums elders heen reis nie, in ’n poging om te keer dat die virus verder uitkring. Daar woon rondom sestig miljoen mense in hierdie sentrums.
Jy kan jou indink hoe groot en vinnig paniek en chaos sou versprei het as net een Suid-Afrikaanse provinsie (bv Gauteng!) hier sou moes ‘sluit’. Om jou gerus te stel: ons NICD (lees gereeld hier, vir hul amptelike opdaterings) het reeds ’n waarnemingsnetwerk in plek gestel, en sal waarskuwings uitreik as dit nodig sou word. En voor ons verder onnodige spoke opjaag, kyk net eers wat ons weet van die corona-virus:
Wat ons nou weet van die Chinese corona-virus
Wat ons sover weet, gebaseer op die eerste twee wetenskaplike verslae wat op 26 Januarie oor die eerste gehospitaliseerde slagoffers bekend gemaak is, is:
- Die meeste mense wat gehospitaliseer was, is mans – moontlik omdat hulle weens hul werk meer in die openbaar kom (in China, altans).
- Rondom die helfte van die wat gesterf het, het ook aan ’n ander chroniese toestand gely, soos diabetes, hoë bloeddruk en ’n hartsiekte.
- Die gemiddelde ouderdom van die gehospitaliseerdes was 49. Dit lyk asof jonger mense beter herstel, terwyl ouer mense makliker komplikasies ontwikkel (veral longinfeksie en asemhalingsprobleme), waarvoor hulle gehospitaliseer word.
- Die infektiewe peridode is besonder lank – 14 dae. Vandat iemand die virus opdoen tot hy begin siek voel kan tot twee weke lank wees. In hierdie tyd begin die virus reeds in sy boonste-lugweë en neus vermeerder, en is hy hoogs aansteeklik. Hierdie mense versprei die virus onbewustelik. Dit is die rede hoekom die virus tot dusver nog ongehinderd en dramaties vinnig versprei.
- Geïnfekteerdes het aanvanklik geen simptome nie, en versprei onwetend die virus oral waar hulle gaan. So steek hy ander aan, al nies of hoes hy nie. Noodstappe soos om reisigers se koors te meet op lughawens en ander vervoersentrums sal dus taamlik ondoeltreffend wees.
- Dit is maklik om die corona-virus aan te steek. Navorsers glo op die oomblik dat die virus deur druppelbesmetting versprei – met ander woorde soos die gewone verkoue, waar druppels weens hoes of nies die virus kan dra. Die virus kan vermoedelik ook met handkontak versprei: baie mense raak voortdurend met die hande aan hul gesig en neus, en dan weer elders soos aan deurknoppe, hysbakknoppies, penne, kaartmasjiene en so aan. Aangesien die virus ure lank op allerlei oppervlaktes potensieel kan oorleef, ‘tel’ ander mense dit hier op, en so versprei die virus. Soen en spuug is ook potensiële maniere van oordrag. Dit lyk in elk geval asof die meeste pasiënte nie nies nie.
- Die eerste simptome is ’n besonder hoë koors, ’n droë hoes, seer spiere en moegheid. By sommige ontwikkel ’n uiters gevaarlike vorm van asemnood (ARDS, of acute respiratory distress syndrome). Die eerste tekens hiervan is moelike asemhaling. Hierdie pasiënte moet medies geëvalueer word, om te bepaal of hulle aan ‘n respirator gekoppel moet word, tot die liggaam herstel. Dit is natuurlik deel van die paniek, want respirators is nie volop nie, en gewoonlik net in intensiewe sorgeenhede beskikbaar.
- Dit lyk asof mense wat maskers dra minder geneig is om die virus aan te steek. Die navorsers vermoed dat dit impliseer dat die virus deur druppelverspreiding (Veral hoes, moontlik deur soen en spuug op straat en nies, waar van toepassing) van mens tot mens gaan, eerder as deur vis, vleis of wat jy ook al eet.
Wat ons lank al weet oor die corona-virusfamilie
Ouer inligting wat lank reeds bekend is:
1 Jy ken die corona-virus as die gewone verkoue
Al besef min van ons dit, ken ons almal die corona-virus inderdaad eerstehands. Hoekom? Omdat jy, veral as jy bo veertig is, al byna vir seker al sélf die corona-virus opgedoen het – moontlik so onlangs as verlede winter aangesien die corona-virus een van die vyf algemene virusse is wat jaarliks verkoues veroorsaak.
Tipies is ons nie bekommerd as ons verkoue kry nie, omdat niémand van ons daaraan sterf nie – tensy daar komplikasies intree of ’n ander siekte jou weerstand verlaag, soos MIV/Vigs.
Maar die corona-virus het vanjaar ’n groot genetiese skuif gemaak, met ander woorde dit het dramaties verander, soos wat gebeur het in 1918 toe die Swart Griep veroorsaak is na ’n soortgelyke genetiese skuif in die Influenza-virus. Die corona-virus wat jy nou kan opdoen is werklik gevaarlik. ’n Derde van die mense wat dit opdoen beland in die hospitaal met ’n lewensbedreigende longinfeksie. Een uit elke tien gehospitaliseerdes sterf.
Moet jy jou dus vanjaar bekommer oor die komende winter se verkoues?
Die Wuhan/Chinese coronavirus-uitbraak is immers die jongste dreigende ‘Swart Griep’. Daarby is daar geen vaksien of genesende medikasie nie, en na twee soortgelyke vorige epidemies sedert 2002 weet ons dat dit binne maande wêreldwyd kan versprei en derduisende mense kan aantas waarvan, soos die eerste twee wetenskaplike ondersoeke wys, en dat veral mense bo veertig kan sterf.
2 Eers was daar net twee corona-virusse bekend
Ons het eers twee eeue na die ontdekking van bakterieë van die bestaan van virusse bewus geraak. Die eerste een is in 1892 geïdentifiseer. Van toe af het talle navorsers asof op ’n jagtog gegaan om virusse as die oorsaak van algemene siektes en selfs kankers te eien. So is die neusholtes van mense met gewone verkoues ondersoek, en in die 1960’s is die corona-virus vir die eerste keer geïdentifiseer. Vandag weet ons dit is een van die topvyf virusspesies agter die gewone verkoue. (Die ander eintlik meer algemene virusse is die influenza-virus wat griep veroorsaak, asook die respiratoriese sinsitiale virus, die adenovirusse and rhinovirusse.)
Die spesies wat eerste ontdek is, het die name HCoV 229E en HCoV OC43 gekry. Vandag word hulle die beta-corona-virusse genoem. ‘Corona’ beteken kroon, omdat die virus onder supervergroting lyk asof dit met ’n kroon omring is.
3 Tans weet ons van nog vyf – en baie gevaarliker – corona-virusse
Onthou jy die SARS-epdiemie van 2002? Dit was, sover ons weet, die eerste groot epidemie wat deur ’n corona-virus veroorsaak is. Heel moontlik was daar deur die eeue heen ander groot uitbrake.
Dit is sorgwekkend hoeveel mense – en veral hoeveel meer mense – in elke nuwe epidemie sterf: waar 10% van siekes in die eerste epidemie gesterf het, het 30% van siekes in die voorlaaste epidemie gesterf. Met die jongste epidemie versprei die virus baie vinniger en makliker as vantevore.
Die groot epidemies sover is veroorsaak deur die corona-virusfamilie:
- Die huidige Wuhan-griep / Chinese corona-virus ( amptelik bekend as 2019-nCoV) wat, soos die feite nou lyk, in die vismark van Wuhan in die Hubei-provinsie van China ontstaan het.
- MERS corona-virus (kort vir Middle East respiratory syndrome-related corona-virus). Dit was die virus agter die 2012 epidemie wat vermoedelik in Saudie-Arabië ontstaan het. Meer as 2500 mense was siek, waarvan een uit elke drie (850 mense) gesterf het.
- Corona-virus NL63 wat sedert 2004 aan ’n matige sinusverkoue maar ook aan ernstige kroep, brongiolitis en longinfeksies gekoppel word, veral in babas en kleintjies.
- SARS corona-virus (kort vir severe acute respiratory sydrome-related corona-virus), die virus agter die SARS-epidemie van November 2002. Dit het ook in China begin, in die Huangdong, ’n kusprovinsie van China wat aan Hongkong grens. Dit het gewoed tot Julie 2003, en het binne maande na al vyf kontinente versprei. Meer as 8 000 mense het siek geraak en een uit elke tien van hulle (775 mense) is dood daaraan. Met die opvolgende epidemie (MERS) het 30% van siekes gesterf; hoewel dit intuitief logies lyk dat die Wuhan-epidmie ‘n selfs hoër peprsentasie lewens moet eis, is dit glad nie logies nie.
4 Corona-virusfamilie kan moontlik aan ander siektes ook gekoppel word, soos kroep en MS
Die nuwe corona-virusse veroorsaak nie net ernstige infeksies van die laer lugweë soos die longe nie maar word ook verbind aan kroep, bronchitis en longontsteking (pneumonie).
Veral pasgebore babas, kleintjies, bejaardes en mense met ’n onderdrukte immuunstelsel is vatbaar. Corona-virusse is ook al uitgewys as die oorsaak van hospitaaluitbrake van lugweginfeksies, veral in die babasale van hospitale.
Die corona-virusse word ook – taamlik kontroversieel en nog glad nie duidelik nie – gekoppel aan diarree, nekrotiserende enterocolitis (’n infeksie van die dermkanaal wat veroorsaak dat die weefsel self afsterf) en selfs aan meervuldige sklerose en hartprobleme na ’n corona-infeksie.
5 Hoekom die Wuhan-Chinese corona-virus uitbraak so sorgwekkend is
Dié sentraal-geleë reusestad fokus op vervoer – nasionaal en internasionaal. En die virus reis saam. Daarom is die risiko vir verspreiding wêreldwyd ontsettend groot.
Kyk net hoe goed is Wuhan aan die res van die wêreld verbind: Wuhan lê in die middel-ooste van China, binne sowat ’n 1 000 km van Thailand, Hongkong en Japan, sowel as Shanghai en Beijing. Weens sy sentrale ligging is dit een van China se groot vervoerspilpunte. Mense van oor die hele China beweeg hiernatoe en hoervandaan – so ook mense van oor die hele wêreldwyd beweeg. Daarby is nie nie net met lugvervoer goed verbind nie: Wuhan beskik ook oor ’n omvattende en uiters besige trein- en padvervoernetwerk.
Die vinnige verspreiding van die Wuhan coronavirus bevestig dat Wuhan se profiel potensieel bydra tot ’n groter risiko vir die res van die wêreld. Binne drie kort weke na die eerste bevestigde geval op 31 Desember 2019 is daar reeds teen 21 Januarie 2020 gevalle geïdentifiseer in Makau, Japan, Thailand, Taiwan, Korea, Singapoer en die VSA, terwyl daar vermoedens is oor gevalle in van Italië tot Australië, Brasilië, Nepal, die Filippyne, Brittanje en Kanada.
6 Die mense met die hoogste risiko is gesondheidswerkers, eerder as die gewone publiek, veral as jy ’n masker dra
Een van die opvallendste en kommerwekkendste kenmerke wat sedert die 2002-epidemies opgemerk is, is die aansteeklikheid van die corona-virus, wat meegebring het dat veral die personeel wat siekes versorg en hul familielede ook aangesteek het.
Die eerste twee ondersoeke wat pas bekend gemaak is in die huidige uitbraak, wys dat mense wat maskers dra nie so maklik aansteek nie. Die navorsers glo dit wys dat die virus deur druppelbesmetting aansteek – met ander woorde waar mense nies, hoes en spuug.
7 Die sterftesyfer is potensieel hoog, as jy gehospitaliseer word
Met die vorige twee epidemies (SARS en MERS) het die meeste mense wat siek geword het tog herstel. Onder die sestigplussers was die sterftesyfer egter ’n yslike 50% – met ander woorde een uit elke twee van ouer mense wat aangesteek het, het gesterf.
Gebaseer op die vorige epidemies verwag ons die volgende: rondom twee uit elke drie pasiënte sal wel heeltemal herstel, alhoewel een uit elke drie pasiënte ’n baie ernstige longinfeksie ontwikkel, en dit is onder hierdie groep waar sterftes kan plaasvind.
Met die Wuhan-corona-virusepidemie is daar tot dusver een groot verskil: die gemiddelde ouderdom van die meeste mense wat gehospitaliseer is, was jonger as vantevore, naamlik 49. ’n Mens sou verwag dat hulle juis weens vorige blootstelling aan die virus meer weerbaar sou wees.
Die kommerwekkendste simptoom is die ontwikkeling van swaar asemhaling en ARDS, wat veroorsaak dat baie mense weens asemnood kan sterf.
8 Hoe jy weet jy het die corona-virusinfeksie
Terwyl daar tans geen gevalle van die Wuhan-griep / Chinese corona-virus in SA is nie, is dit onwaarskynlik dat jou verkoue toe te skryf is aan die huidige corona-virus uitbraak. Maar dinge kan verander. Die tipiese simptome lyk soos ’n verkoue, met:
- Moegheid
- Stywe, seer spiere
- Hoë koors
- Hoes
- Hierna kan longinfeksie ontwikkel. Jy sal tipies swaar begin asemhaal.
9 Hoe jy die corona-virus aansteek
Druppelinfeksie deur mense wat hoes en nies is die grootste bekende bron van infeksie.
Uit die vorige SARS-epidemie het dit geblyk dat die pasiënte wat diarree ontwikkel het vir tot ’n paar weke daarna nog die virus in hul stoelgang bly uitskei het. Hoewel dit nie bewys is nie, is daar ’n sterk vermoede dat mense wat woon waar rioolstelsels ineenstort of nie bestaan nie ’n groter risiko op infeksie loop.
Met die Wuhan-corona-uitbraak het net enkele pasiënte diarree ontwikkel, en bly hoes, handkontak, soen en spuug veral die maniere waarop die virus versprei.
10 Hoe jy jouself teen die Chinese corona-virus kan beskerm
Daar is tot dusver nog geen voorkomingsprotokol nie want ons kon nog nooit ’n suksesvolle vaksien (soos die Influenzavaksien teen griep) ontwikkel nie. Daar is ook geen virusteenmiddel of ander medikasie daarteen nie. Daarby is corona-infeksies hoogs aansteeklik, met ’n hoë sterftesyfer. Op hierdie stadium is die beste wat jy kan doen om te keer dat jy die corona-virus aansteek. Die gewone verkoue-higiëne is jou beste beskerming. Keer die corona-virus so:
- Dra ’n masker, veral as jy aan risiko blootgestel is. Tot dusver geld dit nie in SA nie. Die masker keer druppelbesmetting baie doeltreffend – met ander woorde as iemand naby jou hoes of nies sal jy nie sy besmette druppels inasem nie. Daarby keer ’n masker dat jy met jou eie hande die virus na jou neus oordra.
- Die masker moet met behulp van sy knip styf pas, veral om jou neusbrug. Maak ook seker dat dit tot onder jou ken styf pas. Jou neus en mond moet behoorlik en volkome bedek wees en dig sluit.
- As jy in die openbaar kom vermy kontak met items waaraan ander mense raak – hysbakknoppies; die teetrollie se koppies, ketel, suikerpot en melkbeker; kaartmasjiene; winkeltrollies, kleedkamerdeure; wasbakkrane; outobanke en so aan. As jy in kontak kom met items wat algemeen gebruik word, ontsemt jou hande sodar jy kan.
- Was jou hande – veral as jy met mense in kontak was. Was altyd heel eerste jou hande as jy tuis kom. Was vir ten minste 15 sekondes lank met seep.
- Moenie met jou hande aan jou gesig raak nie. Jou hande is soos ’n Uber wat die kieme direk na jou neus – hul broeiplek – dra.
- Hou jou immuunstelsel sterk deur gereeld te oefen en gesond te eet.
- As daar wel ’n epidemie uitbreek moet jy veral openbare plekke, gedeelde vervoer, skares en samekomste vermy.
Nota Soos die epidemie verander mag hierdie inligting gou verouderd raak. Ons sal opdateer soos nodig.
Bronne
https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC3509683/
CNet
Wikipedia
Vir nog goeie raad om gesond te bly, loer hier