Onlangs stuur ’n vriendin vir my ’n prentjie via selfoon. ’n Ma omring deur haar kroos hou haar hand oor haar mond en bo-aan die prentjie staan: “When I open my mouth, my mom comes out!”
Ek het kopknikkend gegiggel, want dit is presies wat deesdae met mý gebeur.
En, elke iedere keer besef ek ek het sopas daardie woorde wat my as snipperige sesjarige (en veel erger as sestienjarige) só grensloos irriteer het, vir my kinders gesê – en ek het elke liewe woord bedóél.
“Moenie in die huis hardloop nie – julle gáán val en julle gáán seerkry!”
My woorde is skaars koud, of Kleinsus kom met ’n onderstebo-glimlag bekkie en traan wat biggel oor haar wang, aangestrompel ná sy haar kleintoontjie teen die deurkosyn nerfaf gestamp het.
Ek troos, maar “Sien jy nou, ek hét mos gewaarsku!” glip saam met die trooswoorde uit.
Kort voor lank is die boetie en sussie weer aan die stoei op die sitkamerbank. Vrolike laggies klink op, maar dit raak al hoe joliger en ek weet wat wag.
“Kalmeer julle twee ’n bietjie – van lekker lag kom lekker huil!” hoor ek myself en my ma (én haar ma) vermaan.
“Maar, Mamma…!” kom dit gelyk uit twee mondjies.
“As ek nog één keer ‘Maar, Mamma…’ hoor, gaan ek skree,” dreig ek – en wonder of die twee stoutsterte ook soos ek dertig jaar gelede, oorweeg om my dreigement te toets net om te hoor presies wát ek gaan skree.
(Skuus, Ma…)
Laatmiddag vlieg die agtjarige ouboet vir die soveelste keer op van die bank waar hy lê en lees het en kom druk die Trompie-boek onder my neus.
“Mamma, wat beteken hierdie woord?”
“Aikôna, jy weet waar jou woordeboek is, gaan soek die woord op,” antwoord ek vir die soveelste keer.
Ek vermoed my ma is eiehandig daarvoor verantwoordelik dat ek vandag ’n vertaler is en steeds woordeboeke soos fiksie verslind.
Die sesjarige kleinsus roep vanaf haar skoolbank waar sy sit en teken: “Mamma, ek is dors, bring asseblief vir my iets om te drink!”
“Staan op en kom haal vir jou sap in die kombuis. Hierdie is nie ’n hotel nie!” roep ek terug.
“Ja-nee, die room service hier is hopeloos te swak vir ’n hotel…” sug-mompel Ouboet en ek onderdruk ’n glimlag.
“Weet Mamma, Dirkie sê hulle kan maar enigetyd in die week ook Fanta drink. Hoekom mag ons dan net sap en melk en water kry?” trek die sesjarige haar neus in die kombuis op vir die glasie sap.
“Want Dirkie se mamma gee seker nie om dat gaskoeldrank ongesond is nie,” antwoord ek (en hoop oombliklik sy herhaal dit nie en Dirkie se ma koester nie voortaan ’n wrok teenoor my nie).
“Maar, Mamma, Elmarie en Yvonne en Pieter sê hulle mag ook soveel gaskoeldrank drink as wat hulle wil!” probeer sy weer.
“Ja, en as hulle almal by ’n krans afspring, sal jy ook?” probeer ek haar uitboul met my moederlike logika – weliswaar oorgeërf.
“Néé, want dis sommer laf. Hoekom sal mens by ’n krans wil afspring as jy weet jy jou bene gaan breek?” snip sy alwetend terwyl sy haar neus teatraal op ’n plooi trek en haar oë rol.
“As die kerkklok nou slaan, gaan jou gesig netso bly staan, weet jy!” snip die sewe en dertigjarige snip terug.
En daarna sê ek die agtjarige ook sommer aan om gou te gaan bad voor aandete.
“Ag nee, Mamma, hoekom moet ek dan nou vanaand so vroeg gaan bad? Dis nog ver van aandete af?” vra hy in ’n temerige stemmetjie.
“Hoekom? Want ek sê so, dis hoekom!” hoor ek my ma by my mond uitglip.
En ek kry heimlik groot lag vir myself terwyl ek ’n strakstreng gesig opsit.
Want, ek besef my ma was honderd persent in die kol toe sy dekades gelede al gesê het: “Wag maar nét tot jý eendag kinders het…!”