“Youth is wasted on the young,” het George Bernard Shaw – of Oscar Wilde, afhangende van jou bron – jare terug gesê. As hy bedoel het die jonges laat tyd en geleenthede deur hul vingers glip, wil ek sommer dadelik van hom verskil.
Verlede week het ek kennis gemaak met ‘n saal vol presteerders by ‘n plattelandse hoërskool. Goeie genade, dié klompie woel. Dis net rekords en nasionale spanne en punte wat jou oë laat rek.
Maar die mooiste was die kinders self. Hulle blink van die belofte. Hulle straal van die energie. En dan is hulle nog gaaf ook, met die onderwysers én met mekaar.
Natuurlik bring so ‘n glansgeleentheid die ryk kant van die room na vore. Die keersy van prestasie – dié wat dit nie gemaak het nie en dié wat dalk nooit sal nie – huiwer ongesiens in die agtergrond. Selfs dit wat die presteerders vir hul bekronings moes opoffer, is versluier. Laat nagte, afgeskeepte troeteldiere, ingeperkte immuunstelsels, vergete vreugdes, verwaarloosde verhoudings … Verbete fokus kom meestal teen ‘n prys.
Ten minste woeker dié klomp met hul geleenthede en hul potensiaal. Hulle sal nie spyt wees nie.
Tog het ek gewonder waar elkeen se ware liefde lê. Op die oomblik en op die oog af strook hul aksies met die waardes van hul gemeenskap. Dit mag verander, soos óns wat op 40 ‘n laat rebellie (of vertraagde adolessensie) beleef het, maar al te goed weet.
Ek hoop dat elkeen van daardie lieflike jonges hul eie hart kan hóór. Indien nie nou nie, dan later. En as ’n hart nie in die vorm van ’n trofee wil klop nie, hoop ek hulle sal verstaan. Dat die oordeel nie aan die groep nie, maar aan die eienaar van die hart behoort.