Ek mik-mik om agter ‘n boekrak in te duik. My sin vir verantwoordelikheid is van kleintyd af oordrewe; ek sê moeilik nee. “Nou dít sal darem lekker wees.” Oorle Oupa Pieter se sus Miemie, moeder van vyf uitgegroeides, stem. Dis tyd.
Net daar, op dié Saterdagoggend in Julie, pak die opwinding my. “Dis reg. Ek sal reël, maar dan gaan ons groot.” My man se oë vraend-paniekerig. Hoekom wil jy dít ook nog inpas? Dít, dink ek, dink hy.
Ek antwoord in my kop: “Because I miss them. Because I need them. Because I love them.” My antwoord geleen by Rebecca Wells, skrywer van een van my gunsteling-familiestories, Divine Secrets of the Ya-Ya Sisterhood.
As alles padgee, is familie jou konstante. Glo ek. Dis tyd dat my kinders dit leer. En nog ‘n cliché wat hulle maar kan hoor: jy moet weet waarvandaan jy kom om te weet waarheen jy op pad is.
Dan die skok: ooms en tantes se name die ken ek. Niggies en neefs? Hul kinders? Mans en vrouens? Aikôna. Hierdie legkaart het ‘n duisend stukke. Vier- en vyfjariges is skielik in hul twintigs, ma’s en pa’s het ouma’s en oupa’s geword . . .
Facebook word my geheime wapen. Ek speur elkeen na en wonder wat hulle sal sê as hul weet ek blaai deur hul lewe. Groot is die verligting om te sien dat ek nie die enigste een is wat lyf, plooie en pyne bygekry het nie.
“Wat ‘n rein gedagte,” laat hoor Neef Jacobus uit die Paarl. “Ek en my vroutjie sal julle volgende naweek sien. Ek is Ouma Miemie se oudste kleinkind. Net as jy gewonder het,” skryf Gawie uit Brackenfell. “Van Zyls (2 volw en 2 kids), Du Plessis (2 volw en 2 kids), 1 Ouma Anso. Dxx.” Nig Desmaré se kriptiese boodskap. Ek wonder oor die name van die mans en kinders.
So groei die netwerk: Marko, Marli, Phillip, Lise, Carol, Nico, Marna, Charmaine, Mariannne, De Wet, Lisanne, Anne, Fanus, DW, Cara, Louisa . . . die lys hou aan en aan. My maag trek op ‘n knop, hande bewe . . . 42 grootmense, 10 kinders sê ja. Hulle kom. Sondag. Almal. Na ons huis toe.
“Because I miss them. Because I need them. Because I love them.” Troos ek.
Die groet is plek-plek stram. Dié wat mekaar goed ken kloek saam, ander vra opreg-nuuskierig uit en die oues sit langbeen op die stoep en probeer die verlede en hede se familie-legkaart pak. In die agterplaas slaan jong neefs ‘n paar gholfballe en in die kamer speel die niggies Barbie. So asof ons mekaar elke naweek sien. Die familie kuier.
“Dis die regte ding om te doen,” sê my eens skepties-paniekerige eggenoot later dié aand.
En ek? Ek weet dit omdat:
• Ek Maandagaand ‘n WhatsApp kry met ‘n prentjie van twee dogtertjies, die een blond, die ander donker. “Anne se naweeknuus. Dis sy en Emma.” Twee kleinniggies wat mekaar die eerste keer Sondag ontmoet en onafskeidbaar gespeel het;
• Ek gister saam met skoonsuster Louisa in ‘n Stellenbosse koffiewinkel sit en in die verte vir Lise herken. “Kyk, daar stap nog ‘n niggie.” Een wat ons nie voorheen sou herken nie; en
• Ek met dankbaarheid weet daar’s ‘n hele kring wat sal vorm as ons mekaar nodig het.
Die volgende reünie? Iewers in die eerste helfte van 2014. Kom jy?
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za