Dis vreemd om te dink dat dit eens op ’n tyd maande se beplanning geverg het om ’n ander land te besoek. Om nie eers te praat van die eindelose geduld wat reisigers moes gehad het om by hul destinasies uit te kom nie.
Soms droom ek van so ’n tydperk, en stel myself voor ek leef in ’n era waar inligting rakende roetes, verblyf en besienswaardighede ’n groter uitdaging was om te bekom.
Terwyl ek lugkastele rondom hierdie tydperk bou, vou ek verbleikte wêreldkaarte oop en teken ek met ’n potlood aan presies waar, wat en hoe lank. Dan vaar ek vir weke lank op die oop see, omring deur oneindige blou, terwyl ek reisnota’s en sketse maak oor my langverwagte destinasie. (Beskou my maar as ’n romantikus, want so eenvoudig kon dit nie wees nie.) Maar van een ding is ek seker: hoe langer mense wag vir iets om te gebeur, hoe meer waarde heg hulle daaraan.
Wie sou kon raai dat ons in die nabye toekoms tjoef-tjaf op ’n vlug kan klim, en jouself nog op dieselfde dag aan die ander kant van die wêreld bevind.
Ek wil terugkeer na ’n tyd toe mense reis nie as vanselfsprekend aanvaar het nie, en dit as ’n geweldige groot voorreg beskou het om van een land na die ander te beweeg. Hoe magical is dit nie om een kontinent te verlaat en ’n ander een te betree nie? Dit is ’n geweldige ervaring!
Alhoewel ek innig dankbaar is vir lae-koste lugrederye, woon-en-werk oorsee, en onbeperkte inligting wat op die internet beskikbaar is, kan ek nie help om ’n tikkie irritasie binne my te voel kweek wanneer mense oor reis praat asof dit nog ’n dag in die inkopiestrum is nie. Dit is dan die grootste seën om ’n ander gedeelte van die wêreld te kan sien.
Alhoewel ons wêreld byna in ’n oogwink in ‘n global village ontaard het, gee dit niemand ’n geldige rede om die onderwerp te hanteer asof dit iets is wat “almal deesdae doen” nie. Nee, die meerderheid van die wêreld se populasie het nog nooit, en sal moontlik nooit, die voorreg hê om ander lande te besoek nie.
Dis waarom afgewaterde frases soos “ek het dié of dáái stad gedoen” my wange ’n vurige, rooi gloed gee. Van wanneer af doen ’n mens ’n stad? Asof dit ’n aktiwiteit is wat jy in ’n oogwink afhandel en kan afmerk op ’n lysie. Been there, done that.
Ontdek ’n mens dan nie ’n stad stukkie vir stukkie nie? Jy leer ken ’n stad. Jy neem ’n stad in. Jy besoek eerste daardie gedeeltes wat jou die naaste aan die hart lê, en as jy ooit weer die voorreg het, keer jy later terug om nóg te sien. Dit is nooit, ooit gedane sake nie.
En ekskursies. Met ekskursies word die woorde “ding” en “ook” deesdae bygelas “Het jy ook die “vulkaan-ding” gedoen? Of die “apie-ding”.
Soos my rekeningkunde juffrou op hoërskool sou sê: Néé, néé, dubbel néé!
Dit was nie ’n ding nie en ek het dit nie gedoen nie.
Vir my was dit ’n onvergeetlike ervaring. Tydens die ekskursie het ek kort-kort gestop, my omgewing bewonder, diep asem gehaal, en ’n innige dankbaarheid ervaar dat ek kan lewe en hier kan wees. Ek het gesprekke met mede-reisigers aangeknoop en iets nuut van hulle land, kultuur of taal geleer. Ek het die tyd geneem om nou en dan rustig te gaan sit, en my gevoelens en gedagtes in my reisdagboekie neer te skryf. Ek het my kamera uitgehaal en foto’s geneem van dit wat ek later wil onthou en herleef.
Om my is mense wat in so ’n flat spin selfoon-foto’s neem, dat hulle nie eers agterkom hulle is op daardie oomblik besig om die hele ervaring totaal en al te mis nie. Maar hulle was “daar”, en dit is al wat tel. Sodra hulle terugkeer huis toe, word daar vir vriende en familie van die ongelooflike plek vertel, en volgende maand koop dié ook lae-koste vliegtuigkaartjies en gaan staan ook daar met hulle selfone, besig om te facebook update dat die spoeg spat.
Is dit dan waaroor reis gaan? Net om bewyse te lewer oor waar jy was en wat jy al gesien het? Daarmee wil ek nie geassosieer word nie, want dit is vir my ’n swaar pil om te sluk.
Ons behoort eerder reis as ’n massiewe voorreg te sien, en daagliks dankbaar te wees vir elke reisgeleentheid wat oor ons pad kom. Dit gaan nie daaroor om ’n plek te dóén nie, maar eerder om ’n plek met jou hele wese te ervaar.
“When you look at life through eyes of gratitude, the world becomes a magical and amazing place.” (Jennifer Gayle)