Hoekom het jy besluit om die verhandeling vir jou meestersgraad oor Fokofpolisiekar se lirieke te skryf?
Ek wou ’n manier kry om my liefde vir musiek en lirieke met my liefde vir letterkunde en geskiedenis te kombineer. Terwyl ek laasgenoemde as hoofvakke studeer het, en as vryskutmusiekjoernalis gewerk het, het ek al meer bewus geword van die letterkundige meriete van Fokofpolisiekar se lirieke, asook waar hulle in die Suid-Afrikaanse geskiedenis inpas, binne ’n historiese en sosio-politieke konteks. Ek wou dít dokumenteer!
En toe volg die biografie?
Ja, terwyl ek met my verhandeling besig was en Fokofpolisiekar op akademiese wyse bestudeer het, was ek heeltyd bewus van hierdie wonderlike verhaal van vyf vriende wat ek wou vertel, maar wat nie in ’n akademiese formaat uiting kon vind nie. Ek het die titel van die boek in my kop gehad nog voordat ek my verhandeling voltooi het. En hoewel ek gek is na die akademie, het ek gejeuk om kreatief te skryf ná 230 bladsye van “akademies” skryf.
Wat was vir jou die verrykendste deel in die skryf van die boek?
Wanneer jy so na aan mense beweeg en die legkaart van hul lewe op papier bou, kan jy nie help om persoonlik te groei nie. Jy sien dinge in hul lewe raak waarmee jy jou kan vereenselwig, en kyk met nuwe oë na ervarings en menseverhoudinge. Dit was soms ’n emosionele wipplank, en ek het baie geleer; nie net oor skryf nie, maar oor mense. Die dieper vriendskappe wat ek gesmee het met die ouens en mense wat tot die boek bygedra het, was natuurlik ook uiters verrykend.
Wat wou jy graag met die boek bereik en het jy daarin geslaag?
Ek wou die merkwaardige storie van vyf merkwaardige vriende vertel wat binne ’n merkwaardige tyd in ons geskiedenis iets merkwaardigs gedoen het. Ek wou nie analiseer nie, ek wou ’n boeiende storie vertel. Ek is tevrede daarmee.
Die wyse waarop baie dele in die boek met swart doodgekrap is en dat veranderinge met die hand aangebring is, is nogal opvallend. Waarom het jy dit so gedoen?
Fokofpolisiekar is nie ’n konvensionele band nie en nie ek of hulle wou graag ’n konvensionele uitleg gebruik om hul onkonvensionele storie te vertel nie. Ek wou dit duidelik maak dat hierdie Fokofpolisiekar se eerste goedgekeurde biografie is en het daarom aan hulle die teks gegee voor dit drukker toe is. Hulle kon nog foto’s bydra, dinge sensor en byskryf. Dit is toe in die uitleg bygewerk. Dit dien natuurlik ook ’n simboliese doel, maar dit moet die leser maar self uitwerk!
Was hierdie biografie vir jou ’n uitdaging? Hoekom?
Die uitdaging was miskien om die inligting bymekaar te maak en te orden – terwyl die lede van die band se geheue maar gebrekkig was. Dit was werklik soms soos ’n skattejag na brokkies ontbrekende inligting en oogpunte. Hierdie uitdaging was terselfdertyd ook een van die lekkertes van die skryfproses. Oor die algemeen was dit ’n verrykende en genotvolle ervaring, eerder as ’n uitdaging, want ek kon skryf oor iets waarvoor ek lief is.
Jy het baie onderhoude gedoen met die skryf van die boek. Watter een sal jy nie vergeet nie?
Die onderhoude met die band se gesinne was baie spesiaal, want dit het aan my nuwe insigte gegee. Hulle ouers was gaaf genoeg om met my te gesels en ek het soms langer by hulle gekuier as wat ek verwag het.
Het iemand geweier om in te stem tot ’n onderhoud?
Nee, wat. Almal wou graag hul kant van die storie vertel en het graag gehelp. Sommige van Fokofpolisiekar se vriende was bang ek haal hulle aan oor die rowwe partytjies en plaas hulle sodoende in ’n moeilike posisie. Maar alle belangrike karakters in die boek het graag gesels, ook die familie van die groeplede. Ek het die vertroue en ondersteuning van die band gehad en in talle gevalle het hulle vir my voorspraak gemaak: “Annie Klopper gaan jou bel. Sy’s oukei.”
Hoe lank het jy aan die boek gewerk?
Ek reken die tyd van my meestersgraadverhandeling daarby in, want dit was deel van die voorbereiding. Daarom is dit byna vier jaar, maar net omtrent ’n jaar daarvan het ek aktief geskryf. Die res van die tyd het ek inligting ingesamel.
Wat was Fokofpolisiekar se terugvoer oor die boek, voordat dit gepubliseer is?
Die terugvoer was baie positief. Ek het Francois, die hoofsanger, se SMS aan my agter op die boek gebruik: “Dis hartseer, dis snaaks, dis die waarheid.”
Is daar iets wat die bende nie in die boek wou ontbloot nie?
Ons het hier en daar ’n woord verander voordat dit drukker toe is, en daar was miskien een of twee voorvalle met meisies wat hulle nie graag in die boek wou hê nie, maar dit sou nie ’n verskil aan die storie maak nie. Ek wou in elk geval nie sensasioneel skryf nie en hulle het dit geweet, daarom het hulle my alles vertel. Hulle het geweet ek wil die storie agter die storie vertel, veral as dit by hul emosionele ervarings agter die skerms kom.
Hoe en wanneer het jou vriendskap met hulle ontstaan?
Ek het hulle in 2004 ontmoet toe ek as vryskutmusiekjoernalis ’n onderhoud met hulle gevoer het. Daarna het dit net so uitgewerk dat ons maar altyd in dieselfde vriendekring was.
Kan jy jou met hul uitkyk op die lewe vereenselwig?
Ja, van die begin af, net soos baie ander mense van my ouderdom hulle met die band se lirieke kon vereenselwig – veral met ’n reël soos “Kom stem saam / ons is almal deurmekaar”. Dit bly steeds my gunstelingreël, selfs al is ons nou ouer en miskien wyser.
Gee jou opsomming van die boek in 5 woorde.
Hartseer, snaaks en hopelik insiggewend.
Sal jy weer ’n biografie oor ’n musiekgroep wil skryf?
Daar is soveel interessante figure in die musiekbedryf en my eerste antwoord is ja, maar ek wil ook nie slegs bekend staan as ’n musiekskrywer nie. Ek stel belang in kreatiewe skryfwerk sal beslis met ander genres eksperimenteer.
Jy staan bekend as die rockjagter. Waar kom jou liefde vir rockmusiek vandaan?
Vandat ek kan onthou het ek my ouers se rock-plate uit die rak gehaal en die graagste daarna geluister. Ek het verlief geraak op die klank en trefkrag van rockmusiek, miskien omdat dit so anders was as die kleindorpse bestaan waar ons aanvanklik grootgeword het.
Wie is jou gunsteling-rockgroep? Hoekom?
Dis seker voorspelbaar, maar dit is Fokofpolisiekar. As ek nie van hulle gehou het nie, sou ek beslis nie soveel jare van my lewe gewy het aan die skryf oor hulle nie! Ek bestee my tyd aan die dinge waarvan ek hou. Baie mense gun dit nie vir hulself dit nie.
Wat doen jy nog en wat is die lekkerste deel van jou werk?
Ek is ’n boekredakteur by Protea Boekhuis en ek het die geleentheid om daagliks met boeke te werk. Vir iemand wat letterkunde studeer het, is dit ’n groot voorreg. As skrywer is dit net so ’n bonus om daagliks blootgestel te word aan skryfwerk wat my inspireer om aan te hou skryf.