Die vele fasette van Daniëlla van Heerden deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: Ivan Naudé
Moenie die fyn, vroulike bruinkop onderskat nie. Sy het beide haar BA-graad in Kommunikasiestudies (2006) en haar BPhil-honneurs (2007) cum laude voltooi. In 2013 en 2014 is sy aangewys as die Nasionale Persklub se joernalis van die jaar in die kategorie televisienuus. Haar werk is al bekroon met ’n AKTVeertjie, en sy is in 2016 vereer met die Koker-toekenning, ’n ere-medalje vir haar bydrae tot Afrikaans. In 2017 het die NWU haar aangewyas as hul Jong Alumnus van die Jaar.
Maar behalwe vir haar talente as joernalis, redakteur, veldverslaggewer en televisienuusleser het Daniëlla ook ’n oog vir mode en ’n liefde vir sport.
Op watter ouderdom het jy besef dat jy graag eendag ’n joernalis wil word? En wat is vir jou die lekkerste deel van ’n loopbaan in joernalistiek?
Ek was in graad 9 (15 jaar oud) en het ’n skoolkoerantkursus bygewoon wat Beeld aangebied het – ek het dadelik besef dat dié beroep my soos ’n handskoen pas!
Die lekkerste van my werk is beslis die buitengewone plekke wat jy sien en die interessante mense wat jy ontmoet. Jy ervaar dinge wat jy nooit sou ervaar het as jy elke dag van 8 tot 5 agter ’n lessenaar moes sit nie. Jy is ’n ooggetuie van die land, en selfs die wêreld, se grootste gebeure!
Het jy enige raad vir jongmense wat ook graag ’n loopbaan in die joernalistiekbedryf wil aandurf?
Gryp elke geleentheid aan. Skryf vir jou skool of universiteit se koerant, gaan klop vakansietye aan by jou gemeenskapskoerant of –radiostasie en lees, lees, lees!
Hoe het jy in die televisiebedryf beland? En wat geniet jy die meeste van jou werk as eNuus-verslaggewer?
Ek was ’n koerantjoernalis by Beeld toe eNuus in 2010 vir die eerste keer uitgesaai het. KykNET het ’n 19:00-nuusbulletin in samewerking met eNCA begin. Een van my voormalige kollegas by Beeld was deel van eNuus se stigterspan en het my genader en gevra of ek nie by eNuus wil aansluit nie. En natuurlik het ek die kans aangegryp!
View this post on Instagram
As daar een les is wat die lewe as joernalis jou geleer het, wat sal dit wees?
Dat jy nooit mense moet stereotipeer nie!
’n Mens sien gereeld jou hondekinders op jou Instagram-profiel. Vertel vir ons van jou drie Jack Russells.
Ek en my man, Cornél, is albei mal oor diere, en veral honde.
Toe ons ’n jaar lank getroud was, het ons vir ons eerste huweliksherdenking twee hondjies gekoop – Cruiser en Hilux, albei Jack Russells. Ons harte is in 2017 gebreek toe Hilux skielik dood is nadat ‘n inbreker haar in ons erf vergiftig het. Ons het toe later vir Dusty en FJ gekry omdat Cruiser baie alleen was so op sy eie. Nou het ons ’n propvol huis, en Cruiser, Dusty en FJ hou ons behoorlik besig!
Jack Russells is ’n wonderlike honderas – intelligent en besig, maar ook gehoorsaam en liefdevol. As ons buite in die tuin is, is hulle bondeltjies energie. Maar sodra ons binne die huis en rustig is, is hulle gelukkig om net by ons te wees. Hulle raak binne minute vás aan die slaap!
View this post on Instagram
View this post on Instagram
View this post on Instagram
Dit lyk of jy heel gelukkig (en gewillig) aan wedlope en sportaktiwiteite deelneem. Is jy nog altyd lief vir sport, of het die ‘drafgogga’ jou eers onlangs gebyt?
Ek het op skool aan verskeie sportspoorte deelgeneem, maar nooit juis uitgeblink in iets nie. Ek het sommer vir die pret netbal gespeel en aan landloop deelgeneem. Ná skool het ek nie eintlik ooit weer aan enige kompetisie deelgeneem nie, maar fiks gebly deur steeds gereeld te oefen by die gimnasium.
Ek het draf egter nooit juis geniet nie – tot so twee jaar gelede. Ek het vir liefdadigheid aan ’n 10km padwedloop deelgeneem, en dit het my net langer as ’n uur geneem om te voltooi. Ek was sommer geïrriteerd met dié tyd en het gevoel dat ek dit darem in minder as 60 minute kan doen, én ek wil kan draf sonder dat my bors brand!
Ek het vir my lekker speellyste op my selfoon saamgestel en ná my gym sessies ook op die trapmeul begin draf. Ek het geleidelik draf-fiks geword en toe my tweede 10km-wedloop in 56 minute voltooi – ek was baie ingenome!
Daarna het ek ingeskryf vir my eerste halfmarathon (die Om Die Dam-wedloop in Harties) maar het besef dat ek meer gereeld op die pad moet oefen – die trapmeul alleen gaan nie genoeg voorbereiding wees nie.
Ek het “Catch Me If You Can” ontdek – Suid-Afrika se grootste drafbeweging vir vroue. Daar is in talle stede “drafgroepe” waarby ’n mens kan aansluit, en dis boonop gratis en verniet. Dan draf vroue in groepe saam, vroeg soggens en smiddae – dis veiliger en groot pret! Ek het baie nuwe vriendinne gemaak deur CMIYC. Klik hier om meer oor hulle uit te vind.
Ek het sedertdien ook die Knysna-halfmarathon voltooi en my doelwit bereik om dit in minder as 2 ure te doen. Ek skryf nou elke paar weke, sommer vir die pret, vir ’n 10km wedloop in. Tussendeur oefen ek steeds met gewigte by die gimnasium, en doen ook gereeld sogenaamde “Pound”-klasse, waar ’n mens met “stokkies” dans en drom speel op die maat van musiek. Vir my loop oefening en lekker musiek hand-aan-hand!
Volg jy ’n vaste oefenprogram?
Ja, ek volg tans ’n program in die gimnasium waar ek 5 tot 6 dae per week met gewigte oefen, en na die tyd doen ek ’n vorm van “cardio” soos draf of ’n “Pound”-klas.
Naweke neem ek deel aan padwedlope of gaan draf saam met CMIYC. Ek wil graag in 2019 meer trail running in die natuur begin doen.
Vertel vir ons van die ongelooflike voorreg wat jy gehad het om die gorillas in die Virunga-berge in Rwanda te gaan verfilm. Ons is natuurlik baie jaloers, en wil alles van dié ervaring weet.
Ja, dit was in 2015 en ongetwyfeld ’n loopbaanhoogtepunt. Ons het vir eNuus verslag gaan doen oor Rwanda, en hoe dié land verander het sedert die verskriklike volksmoord daar in 1994.
Ons toer is afgesluit met ’n besoek aan die Virunga-park. Die gidse kon egter nie met sekerheid sê dat ons wel die gorillas sou sien nie omdat hulle baie rondbeweeg en ’n mens hulle nie altyd kan kry nie. Na sowat 4 ure van soek en stap deur die woud het ons wél op ’n trop afgekom, en was so naby as 3 meter van dié majestueuse diere af. Dit voel skoon onwerklik as ek daaraan terugdink.
Dit is duidelik dat mode een van jou groot liefdes is. Jy spog altyd in die mooiste uitrustings! Vertel vir ons meer oor jou facebook-modeblad Miss Bargainista? Wat het jou geïnspireer om dié blad te begin? En is jy nog altyd lief vir klere, kleure en mode?
Ek hou nog altyd van mode en geniet dit om verskillende uitrustings te stileer, maar as joernalis is peperduur-boetiekuitrustings my nie beskore nie.
Ek het reeds as student geleer om te gaan snuffel by kettingwinkels, markte en tweedehandse klerewinkels vir mooi items en dit maar altyd volgehou.
Later het kollegas begin vra waar ek dié rokkie of daardie paar skoene gekry het, en hulle kon dan nie glo as ek sê dis van byvoorbeeld Mr Price of Ackermans nie. Ek het toe sommer vir die pret begin om foto’s te neem van die uitrustings, en vir vroue te wys hoe jy bekostigbare items kan dra en steeds stylvol kan lyk.
Ek plaas díe raad op my Facebook-blad, Miss Bargainista, en op my persoonlike Instagram-profiel.
Volg gerus vir Daniëlla op Instagram of gaan ‘like’ haar modeblad, Miss Bargainista, op Facebook
As jy jouself in drie woorde moes beskryf, wat sou dit wees en hoekom?
Nuuskierig – Want ek is ‘n gebore joernalis!
Positief – Want daarsonder sou al die slegte nuus wat soms met my werk gepaardgaan, my beslis onderkry! Maar gelukkig is daar ook baie “goeie nuus”-stories.
Vriendelik – Want ek hou van mense! My man sal dalk egter byvoeg dat ek nie baie vriendelik soggens is as ek nog nie ‘n koppie koffie gehad het nie…
Jy en Cornél is reeds sedert 2014 getroud. Hoe het julle mekaar ontmoet? En op watter oomblik in julle verhouding het jy besef dat hy jou trouman is?
Ons het albei by Beeld gewerk, ek as joernalis en hy as fotograaf. Ons was egter nie in dieselfde kantoor nie (ek was in die Goudstad en hy in die hoofstad, Pretoria) maar ons het van mekaar geweet.
In 2010, kort voor die Sokkerwêreldbeker sou afskop, het ek vir die koerant ‘n storie in Krugersdorp gedek. Hy het toevallig ook daar gekuier by sy ouerhuis. Ons het vroeër die week gesels en besef dat ons albei op dié spesifieke dag daar gaan wees, en het na my nuusstorie ontmoet vir ’n koppie koffie. Daarna het ons meer gereeld begin kuier! Hy het later ook Johannesburg toe getrek.
Ek dink nie daar was ’n spesifieke “oomblik” wat ek besef het dat hy my trouman is nie. Ek was van die begin af aangetrokke tot hom – hy is immers sag op die oog, het ’n lekker sin vir humor, en hou van grappies maak en poetse bak. Ons lag baie saam!
Ons verhouding het maar met tyd gegroei en sterker geword. Ons het mekaar goed leer ken en geweet ons deel dieselfde waardes en kan konflik hanteer en uitsorteer, en dat dit meer as net “verlief” is.
View this post on Instagram
Die jaar is stadig maar seker besig om einde se kant toe te staan. Hoe was jou 2018? Sou jy dalk iets anders wou doen? En is daar ʼn hoogtepunt wat jy altyd sal koester?
Dit was vir my ’n rustige jaar, want ek was meer in die ateljee as nuusleser as wat ek in die veld was as verslaggewer. Dit het my tyd gegee om bietjie meer van ’n roetine tuis te vestig, en vastigheid te vind in my oefenprogram. Daardie dinge ly maar skipbreuk as ’n mens heeltyd die nuus moet jaag!
Ek het ook klasgegee – dit was vir my ’n wonderlike ervaring om ’n gasdosent in joernalistiek te kon wees by onderskeidelik UJ en die Monash-universiteit. Ek geniet dit om met jongmense te werk en hulle ook opgewonde te maak oor dié beroep.
Nog hoogtepunte sluit in my twee halfmarathons, en ’n wonderlike wintervakansie in Wakkerstroom. Ek en Cornél het die brakkies in die kar gelaai en vir ’n paar dae weggebreek, al was dit bibberkoud! Ek wil beslis wéér in 2019 op so ’n “brakkansie” gaan!