Mark Boucher
Mark Boucher het geen idee hoeveel balle hy al met ’n krieketkolf afgeweer het nie, maar een bal het sy lewe verander. Die dwarsbalkie wat hom in sy oog getref het, het hom met minder as 3% sig in sy oog gelaat en sy loopbaan net daar kortgeknip. Hy het die lens, iris en pupil van die oog verloor.
“Dit voel nou soos om deur ’n verkyker te kyk wat nie gefokus is nie.” Hy filosofeer dat dit erger sou wees as dit vroeg in sy loopbaan gebeur het. Aan die vooraand van ’n negende operasie aan die beseerde oog, vertel Mark dat positiewe denke hom gehelp het om deur die tragedie te kom.
“Ek was vanselfsprekend net ná die gebeurtenis neerslagtig. Dis ’n groot ingryping in jou lewe as jy moontlik die sig in een van jou oë kan verloor. Ek het ’n frustrerende tyd en baie pyn agter die blad. Al het ek beplan om mettertyd af te tree, is dit moeilik om daaraan te dink dat ek nooit weer krieket sal kan speel nie.”
Klein dingetjies herinner hom daagliks aan dit wat hy verloor het. “Ek kan nie meer met gemak agteruit ry nie, want ek kan nie in die ‘blinde kol’ sien nie. My dieptepersepsie is aangetas en ek sal byvoorbeeld nooit weer met my bergfiets kan ry nie. Ek kon ook lank nie gholf speel nie. Dit is frustrerend, maar jy kry maniere om die probleem te omseil.”
Die oog wat nie beseer is nie, doen nou al die werk en hy moet elke dag ’n paar keer oogdruppels gebruik. “Maar dit is geen rede om jouself jammer te kry nie. Ek het besluit om met my lewe aan te gaan. Ek het al mense ontmoet wat dieselfde sort besering het en wat steeds neerslagtig en negatief is. Ek het hulle probeer motiveer om dit te aanvaar en met die lewe aan te gaan.”
Mark omring hom met positiewe mense soos sy meisie, Carmen Lotter, en sy familie in Oos-Londen. “Ek het ’n passie vir die natuur en spits my nou op my renoster-bewaringsprojek toe.” Die projek saam met Suid-Afrikaanse Brouerye samel geld in om renosters op ’n nasionale databasis te kan registreer sodat hulle opgespoorkan word as hulle gestroop word. Hy het ook ’n wynhandelsmerk saam met die krieketspeler Jacques Kallis waaroor hy baie passievol is.
Mark glo dinge gebeur met ’n doel en die manier waarop jy negatiewe dinge hanteer, maak die verskil.
Lianie May
Sy wou net gou vir haar en haar ouers wegneemetes gaan koop. Lianie May ken die pad tussen die dorp en haar ouers se plaas goed … maar op dié dag moes sy vir ’n slaggat uitswaai.
“Toe ek uitswaai, het my kar die pad byster geraak. Ek het groot geskrik en probeer terugswaai om die motor weer op die pad te kry, maar alles het verkeerd geloop. Ek het seker te kwaai aan die stuurwiel geruk en die motor het begin tol. Ek is deur die grensdraad aan die oorkant van die teerpad en die motor het begin rol en rol, seker 30 meter ver.”
Sy onthou hoe sy haar kop teen die stuurwiel gestamp het en daarna was alles swart. “Toe ek weer sien, het ek langs my motor gestaan. Ek is moontlik by die agterruit uit, want ek kon nie die motor se deur oopgemaak het nie.”
Sy was geskok toe sy haar erg beseerde arm sien. Naas kneusplekke en stampe teen die kop, was haar arm op drie plekke gebreek. Gelukkig het mense die ongeluk sien gebeur en haar ouers gebel. Dis nou nege jaar later en sy kry steeds nagmerries oor daardie dag.
“Ek kry gereeld daardie gevoel van ‘wat as’ … Dit het my al baie oor die lewe laat nadink. Ek kon gesterf het. Ek dink dikwels daaraan hoe maklik ek my nek kon gebreek het, of iets ergers, veral as jy in ag neem hoeveel keer en hoe ver die kar gerol het.”
Sy weet sy was gelukkig om lewend uit die motor te kom, en weet nou hoe kort die lewe kan wees. “Die Liewe Vader het sy hand oor my gehou en ek besef dit was nie my tyd om te gaan nie. Hy het nog planne met my op aarde! Vandag is jy hier, maar wie weet wat kan gebeur? Ons lewe is nie in ons hande nie en ons lewe is nie ons eie nie. Net ons Hemelse Vader bepaal en beplan alles. Ons is in sy Hande.”
Sy dink elke keer aan die ongeluk wanneer sy in ’n motor klim, want sy bring tussen konserte baie ure op die pad deur en is elke keer dankbaar as sy veilig by haar bestemming aankom. Die ongeluk het haar ook wyser gelaat.
“Jy groei elke dag as mens. Ek het geleer dat slegs die Liewe Vader ons lewe beheer.”
Arno Jordaan
Arno se ongeluk verlede jaar en skaars ’n maand later die ongeluk waarin sy broer Dewald ernstig beseer is, het sy lewensuitkyk heeltemal verander. Sy motor is afgeskryf en sy broer se voertuig het uitgebrand.
“My hart is gevul met dankbaarheid omdat die Here my lewe gespaar het – veral toe ek net daarna hoor dat my vrou, Lizanie, swanger is.”
Dit het sy lewensuitkyk verander en hy doen baie dinge anders. “’n Mens sê so maklik die lewe is kort en dinge gebeur vinnig, maar ek het dit as ’n werklikheid ervaar en beleef. Ons moet elke dag ten volle leef en in liefde en vrede met mekaar leef. Ons moet besef dat ons vir mekaar geleen is en dat elke dag ’n geskenk van ons Hemelse Vader is wat ons tot eer van sy Naam moet gebruik en uitleef.”
Hy is ’n kind van die Here en sy geloof is sy anker. “Die ongeluk het my net weer laat besef God se genade is groter as wat ons menslike verstand ooit sal kan begryp. Ons moet Hom eer daarvoor en in dankbaarheid leef – dankbaar vir alles wat ons het en nie gedurig ontevrede wees oor dinge wat ons nie het nie!”
Hy het geleer om sy mense meer te waardeer. “Ons neem so maklik dinge as vanselfsprekend aan. Tot daar ’n dag kom wanneer jy sien hoeveel jou mense vir jou omgee en wat hulle alles vir jou opoffer. “’n Mens se uitkyk op die lewe verander namate jou omstandighede verander. Ek glo nou aan carpe diem, gryp die dag, want die lewe is kosbaar!”
Sy broer Dewald se beserings was erger. “Dit was vir my vreeslik erg dat dit met hom gebeur het. Die motors het aan die brand geslaan en ek is baie bewus daarvan dat hy dood kon gewees het. Net die gedagte daaraan tref my diep. Dit het ons as broers nader aan mekaar gebring. Ons verhouding is nou baie sterker en ons waardeer mekaar meer.”
Hy kyk deesdae anders na die mense naaste aan hom. “Hulle is die kosbares in my lewe: Pa Paul en Ma Vera, broers Dewald en Etienne, sy vrou Roelien en dogtertjie Nienke. My skoonouers, Kaspaas en Ina Pohl, en die skoonfamilie. En natuurlik Lizanie en my seuntjie Milan.”
Vir hom is dit ondenkbaar dat een van hulle iets oorkom. En hy is so dankbaar hy het ’n tweede kans gekry om hulle te waardeer.