Die twee tipes gloede waaroor jy bekommerd moet wees deur Salomé Delport. Hooffoto: iStock/yacobchuk
Gloede en jou gesondheid
Daardie kruipende, rooiwarm, papnat blos wat vroue van ’n sekere ouderdom die truie, serpe en wat nog alles van hul lyf wil laat afpluk, is eintlik ’n bedekte seën.
Dit, Suster, beteken jy is ’n normale, gesonde vrou. Hoe natter die gloed, hoe dankbaarder kan jy wees.
Gloede is ongemaklik, ja, maar die ander soorte kan jou jou lewe kos.
Hier is die twee tipes gloede waaroor jy bekommerd moet wees:
Lees ook: Wat elke vrou oor menopouse en seks moet weet
Die alkoholgloed
Ja, almal ken dié een. Mense, so glo ons, wat ná ’n drankie bloedrooi in die gesig word, kan nie hul drankie “vat” nie. Dit is net halfpad waar.
Hierdie blos het te doen met jou vermoë om alkohol af te breek. Dit werk so:
Jou liggaam breek alkohol heel eerste na asetaldehied en dan verder na kleiner verbindings af. Mense wat ’n blos kry, het nie die ensiem (of min daarvan) wat asetaldehied verder afbreek nie. Dit hoop dus op en veroorsaak die bloedrooi gesig en lyf.
Skynbaar breek mense wat ’n blos kry, alkohol vinniger as ander af.
Dit het twee gevolge: hulle ervaar nie drankievrolikheid nie omdat alkohol gou afbreek en minder die brein bereik. En die volgende dag het hulle behoorlik babelaas, want asetaldehied veroorsaak die tipiese hoofpyn, naarheid en siek gevoel. Dus word min mense wat ’n blos kry alkoholiste.
Maar ’n woordjie: Gesamentlike navorsing deur die NIH en Japan wat in 2009 op Plos One verskyn het, wys die mense wat rooi word, het ook ’n baie hoër risiko op esofageale (keel-)kanker, veral as hulle drie of meer glasies per week drink – volgens die navorsers raak dit sowat 540 miljoen mense wêreldwyd.
Lees ook: Menopouse en vaginale droogheid
Die karsinoïedgloed
’n Leser vra of haar man óók gloede kan kry. Die antwoord? Ja.
“Dit is tipies van die neuro-endokriene tumors (NETs) van veral die dunderm (40%) en organe soos die pankreas, lewer en longe,” sê dr. Frikkie Rademan, Kaapse chirurg wat hierdie kankers opereer.
“Tevore het ons gedink hulle is onskadelik. Nou weet ons hulle is stadige maar dodelike gewasse wat meestal vyf tot sewe jaar daar is voor iemand hulle opspoor. As ons hulle vroeg opspoor, kan ons hulle uitsny voor dit te laat is.
“Die probleem is om hulle te diagnoseer, want die eerste tekens laat jou dink aan ’n maagkwaal soos Crohnsiekte of prikkelbare dermsindroom (met maagpyn en diarree) of ’n hartprobleem (jy is kortasem, jou hart klop vinnig en jou bloeddruk val kort-kort) of asma (met ’n blos ná jy geëet het en ’n benoude, fluitende bors) of selfs diabetes (jou gewig neem toe en jy voel moeg en swak).
Teen die tyd dat jy pyn ervaar, is die kanker goed gevestig.
“Daar is twee simptome wat NETs vroeg weggee, maar ongelukkig nie by almal nie. Die eerste is ’n droë gloed. Op die oog af lyk dit na ’n menopousale gloed, maar dit verskil baie duidelik daarvan.
En onthou, mans én vroue kan ’n NET-gloed ontwikkel. Vroue moet juis oplet hoe die twee verskil sodat hulle nie ’n NET miskyk nie.
“Die tweede is chroniese diarree, veral snags, wat nie deur medikasie genees word nie.”
Kortom: vra jouself af of jou gloed droog of nat is. As jy daarmee saam die sweet moet afvee, gaan na jou ginekoloog. As jy warm word, maar kurkdroog bly, gaan na ’n internis.
Lees ook: Slaap en menopouse – ’n gedane saak?