“Pas jou tekkies darem?” vra my man vanoggend ewe toe ek met hare vasgemaak in ’n viersentimeterlange bokstert in oefenklere verskyn.
Ek vererg my op die daad, want ek het sopas by myselwers gedink dat dit seker ’n maand (of drie) se oefening gaan verg voor ek weer in my oefenklere sal pas.
“Ek bedoel aan jou seer voet?” verduidelik hy en ek snap dat hy eintlik praat van die voet wat ek nege maande gelede gebreek het en die rede hoekom ek sedertdien sukkel om skoene te kry wat gemaklik pas rondom die plate en skroewe.
Ek besef skielik dit is al ’n volle nege maande wat ek op die rug van dié gebreekte regtervoet ry as verskoning hoekom my klere nie meer pas nie en ek uitasem raak as ek te ver moet strek na die TV se afstandbeheer.
Nie dat ek voor die voetongeluk enigsins sou kon deurgaan as ’n fiksheidsfanatikus nie. Behalwe vir ’n tydelike waansinnigheid so twee jaar gelede wat op die derde dag gelukkig in ’n drafbesering geëindig het, kan ek met veiligheid sê dat ek seker ’n goeie vyf jaar gelede laas fiks was.
Ook nou nie so fiks soos die Zebra’s en aërobiese wonders hier in die plaaslike gimnasiums nie. Maar, darem só dat ek nie asmaties aan die hoes gaan na ek een verdieping van ons huis gestofsuig het nie. Dalk is die huis deesdae net stowweriger as gewoonlik.
’n Vriendin en ek het vanoggend vir die eerste keer daad by woord gevoeg. Ons beplan al ’n week of twee aan die groot stappery soggens na die skoolklok gelui het. Ek spot ewe laasweek en sê “as daar nou nie sneeuneerslae of ’n meteorietstorting is nie, moet ons dalk Dinsdagoggend begin”. Toe sneeu dit Sondagnag sowaar.
Ons het dus dapper die stappie in die fris oggendlug aangedurf met sneeu wat nog skitter op die berge rondom Worcester. Ek in my té stywe oefenklere waarvan die linkertekkie darem gemaklik sit. Sy in tekkies wat sy glo voor haar troue aangeskaf het. “Dit is meer as nege jaar gelede, maar my man sê hulle loopvlakke lyk nog mooi,” spot sy.
Vir die eerste blok of vier het ek heerlik gebabbel terwyl ons stap. My gebabbel het egter al meer hortend geraak. Ek, wat graag vir die kinders sê ek kan vier of selfs vyf dinge op een slag doen – “want dit is hoe mammas werk” – moes uit pure onfiksheid besluit tussen staan en klets of stap en hyg. Ons is bult op. Ons het só hoog geklim, dat ek verbaas was daar was nie sneeu aan die bopunt van die straat nie.
Dit alles terwyl my vriendin nie eens naastenby moeg lyk nie. Sy gesels op die afdraand sowaar oor môre se staproete. Ek hyg en beaam en sit strompelend een tekkie voor ’n ander. En is dankbaar toe die swart kol voor my oë blyk my geparkeerde motor voor haar huis te wees.
“Na stort makeer jy weer niks, maar wag vir oormôre…” laat hoor my man simpatiek na ek met bewende vingers tik dat ek nog lewe.
Braggerig antwoord ek dat ons sommer môre weer gaan stap.
“Maar ’n kierie saamvat,” gee hy ongevraagd raad.
Hoewel daar in my agterkop visoene is van jeans wat weer pas, is ek onder geen illusie dat ek oor ’n paar maande halfmarathons sal kafdraf nie.
Maar, ja, hulle is reg: Mens vóél sommer beter na so ’n stywe stapsessie. Al het mens daarna vir ’n ruk géén gevoel in jou bene nie. Totdat die styfheid intree.