Hier is vyf storielyne wat Suidooster-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou:
- Damian (Caleb Felix) se spook loop omtrent in Ruiterbosch en die verdagte omstandighede rondom sy dood lei tot talle vrae, vrae wat Wade (Dean Smith), Justin (Eden Classens) en Gary (Craig Adriaanse) sukkel om te antwoord. Speurder Malherbe (Riaan Ellis) kry boonop snuf in die neus dat alles nie pluis is nie en sy ondersoek voorspel groot probleme vir Wade. Dit begin ook lyk of Wade waarskynlik nie oop kaarte speel oor die gebeure van daardie noodlottige aand nie. Wink daar dalk ’n tronksel vir hom?
- Riaan (Daniel Coetzee) besef dat daar baie waarheid steek in die sêding: “ ’n jakkals verander van haar, maar nie van snaar”. Hy moet weer die skerwe van sy lewe optel nadat hy uitgevind het sy vrou, Hanli (Celeste Loots), se lus vir ander mans kan nie geblus word nie. Is daar dalk hoop vir hom en Bianca (Simone Biscombe) om weer te probeer of het daar net té veel water in die see geloop?
- Moederskap blyk ’n groot uitdaging vir Ruiterbosch se nuwe mamma, Kaashifa (Jawaahier Petersen), te wees nadat sy met nageboorte-depressie gediagnoseer word. Maar is daar dalk selfs groter fout met haar? Haar gedrag raak toenemend al hoe vreemder en selfs gevaarlik. Dit veroorsaak groot spanning in haar huwelik en sy begin selfs haar eie vriende verwyt. Dan gebeur iets wat die hele Ruiterbosch tot diep in sy fondamente skud.
- ’n Ou vriend van Elana (Esther van Waltsleben), Cilliers (Laudo Liebenberg) daag onverwags by haar voordeur op. Dié skielike besoek vang haar en Susan (Natasha van der Merwe) onkant en Susan ruik dadelik ’n rot. Dit is duidelik dat daar meer in Cilliers se besoek steek as net ’n kuier. Gaan Susan agter die werklike kap van die byl kom en is sy ooit op die regte spoor?
- Tydens ’n gefuif bedink Gary en Justin ’n blink plan vir ’n nuwe selfoon-app wat eintlik ’n skitterende idee is. Dit lyk asof hierdie twee vriende dalk ’n sukses hiervan kan maak. Dinge is ongelukkig ook makliker gesê as gedaan – veral as ego’s in die pad begin staan. Daar word nie verniet gewaarsku dat vriendskap en besigheid nie maats is nie.
Kyk Suidooster elke weeksdag om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & Kie. Dit is ook op DStv Stream en Showmax beskikbaar.
Lees ook: Jaci en JP is terug! Netflix word Semi-Soeter met nog Afrikaanse kykstof