Deur Thinus Ferreira. Foto’s: Verskaf.
Dié aantreklike plaasseun en safarigids van Simmenau, sowat 60 km buite Windhoek tussen die Khomas Hochland-berge, deel gereeld video’s van sy oulike werfdiere, en gebruik nou ook sy invloed as ’n bekende op sosiale media en inhoudskepper om steun vir sy land se knellende droogte deur sy Ruben Lambrechts-stigting in te samel.
In die kort dokumentêre reeks Ruben in Namibië, wat in Januarie op kykNET uitgesaai is en nou op DStv Catch Up beskikbaar is, kon kykers dié liefdevolle spannetjie ontmoet, onder andere die bobbejaan Cindy Crawford, die twee meerkatte Jerry en Minki en ’n rits ander diere wat by Simmenau bly.
Ruben (26) het al meer as 1,2 miljoen volgelinge op Instagram, 1,4 miljoen op Facebook en byna ’n halfmiljoen op TikTok.
Sy Instagram-profiel het hy al vandat hy 14 was, maar sy supersterstatus op sosiale media het egter in Januarie 2023 ontplof toe hy in Windhoek gewerk het en begin het om video’s van sy lewe op die plaas te deel.
“Ek het gewys hoe ek in een van die grotte wegkruip saam met my niggie toe dit reën en daar ’n mak vlakvarkie was, wat nader kom en by ons kom sit het. Mense, veral oorsee, het gedink dis ’n wilde vlakvark, maar dit was ons plaas se mak vlakvark, Kallie. Dit het dadelik vlamgevat en elke dag het duisende mense my begin volg,” vertel hy.
Nou wys Ruben al twee jaar lank hul plaas se diere en weesdiere: Van Cindy, hul 30-jarige bobbejaan, tot meerkatte, ’n muishond, vlakvarkies, ’n Afrika-wildekatkruising, hul Rigby wat die Lambrechts se Beierse bloedhond is, sowel as sy wit Brahmaan, Snowy.
“Dis nie diere wat die meeste mense normaalweg in interaksie met mense sien nie, ek dink dis wat mense aantrek. Selfs net ons meerkatjies wat lê en lui wees, is vir die mense fassinerend.”
Oor sy roem sê Ruben hy het dit glad nie verwag nie, maar het besluit om ’n punt daarvan te maak om foto’s en video’s van hom en die diere te deel.
“Ek het nooit gedink dit sou met my gebeur nie, maar ek het aanhou deel omdat mense so baie daarvan hou. Die diere ‘werk saam’ in ’n mate. Dis so interessant om te sien wat hulle alles aanvang. Dit het alles baie organies gebeur.”
Hoewel aanhangers dol is oor al die diertjies is Cindy, wat as babatjie deur Ruben se ouers, Barista en Malan, hans grootgemaak is, verreweg die gewildste.
“Dis maar Cindy en Minki, die meerkat. Dit het begin by Kallie, maar hy is nie die een wat die meeste likes of views kry nie. Dis Cindy.”
Oor die snykant van roem sê Ruben hy het aanvanklik al die sosiale kommentaar, opmerkings en boodskappe baie meer persoonlik opgeneem, maar is nou meer gepantser daarteen.
“Aan die begin het ek omgegee wat elke mens vir my sê. As hulle ietsie mooi sê, was dit natuurlik baie nice. As daar iets afkrakerigs was, het ek dit gevoel. Maar ek het nou ’n dikker vel. Ek worry nie meer nie. Dit het seker so ses maande gevat om te begin besef dit maak nie regtig saak wat mense dink nie. Mense se opinie van jou bepaal nie wie jy is nie. Ek is min gespin.”
Hy lag lekker oor van die vreemde versoeke wat mense vir hom stuur sonder om te blik of te bloos.
“Iemand het my al gevra vir skaamhare en wou dit vir $100 per gram koop. Dan is daar van hulle wat 2000 euro aanbied vir voetfoto’s. Ek kry baie voetfotoversoeke! Dan is daar ook baie, baie ernstige vrae oor of hulle met my kan trou of op die plaas kan kom werk. Elke nou en dan is daar iets wat ’n mens baie verras!”
Ruben vertel hy probeer al vir ’n ruk om nie sy voete in foto’s te wys nie.
“Maar op die plaas loop jy so baie kaalvoet teen die tyd is dit nie meer veel van ’n verrassing nie, maar dit was aan die begin.”
Internasionale toeriste het nou ook Simmenau begin opsoek en besprekings gemaak om ’n besoek aan die plaas af te lê. Ruben sê: “Dit het my net verder laat besef hoe magtig sosiale media is om ’n besigheid aan die gang te kry.”
Dit het hom ook gehelp om sy stigting vir droogtehulp in Namibië op die voete te bring.
“Ek het gedink ek het nou hierdie platform, laat ek dit gebruik om te help met die erge droogte.”
En as iemand nou met ’n nuwe bobbejaanbabawesie by Simmenau opdaag – sou hy geneë wees om nes sy ma die kleintjie vir drie dekades groot te maak?
“Daar is deesdae rehabilitasiesentrums,” sê Ruben. “Daardie tyd met Cindy was daar niks en my ma het maar net deurgedruk al was dit baie moeilik. En baba-bobbejaantjies is ook verskriklik stout. Met die gaste wat ons nou ook kry – hulle sal die mense se hare trek. Cindy is nou al baie oud en baie rustig. So ja, ek sal nie nou nie, maar miskien eendag …”
Lees ook: Bernice West oor ouerskap: ‘Daar is nie woorde nie…’