Ons gaan saam met Annemieke deur haar emosies stoei nadat haar man haar in die steek laat, en ook deel in haar avonture op soek na nuwe liefde.
Verskeie romanzas het al uit Bernette se pen verskyn. Sy het ook vier heerlike enkeltitels geskryf: Lam in Wolfsklere was die eerste en Als oor Kop, Stiletto’s van Staal en Viva la Vida het haar aanhangers na meer laat vra. Sy was twee keer ’n finalis in die ATKV-Woord-veertjieprys: vir Glansheld en die Koerantprinses en vir Stiletto’s van Staal.
Waar kom jy vandaan, en waar het jou liefde vir skryf begin?
Ek is ’n meisie van Pretoria, en het aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer. Ek skryf al van my vroeë tienerjare af. Ek dink my liefde vir lees het tot my skryflus gelei, en my ouers het my kreatiwiteit van jongs af gestimuleer. My ma sou vir my ekstra huiswerk gee, en het my byvoorbeeld ’n storie oor die feetjie en kabouters onder die tafel laat skryf. My pa hou van stories vertel en hy het op universiteit graag kortverhale geskryf.
Hoekom het jy jou in die regte begeef?
Ek het B.Rek. LL.B op Stellenbosch geswot en daarna ’n honneurs in bestuursrekeningkunde voltooi. Regte is in die familie en dit is ook maar in ’n mens se bloed. Ek was vasbeslote om my in ’n finansiële rigting te bekwaam, maar het ’n ander koers ingeslaan toe ek besef my ware passie is om mense in die regssfeer by te staan. Ek werk vir myself as lid van die Pretoriase Balie en ek kan aan geen ander werk op aarde dink wat my die vryheid, beweegruimte, intellektuele stimulasie en heerlike werksomgewing sal kan bied nie.
Dis asof jy soms skertsend na jou liefdesverhale verwys? Is dit vir jou ’n ontsnaproete?
Ek is deeglik bewus van die stigma wat aan liefdesverhale kleef. Gelukkig steur ek my nie baie aan “wat die mense sê” nie. Ek kom uit ’n familie van eksentrieke, hardkoppige mense. My oupa het byvoorbeeld ’n geblomde das nagmaal toe gedra omdat hy nie die sin van die vereiste wit das kon insien nie.
Ek ontvlug graag deur liefdesverhale te lees en dit kom vir my natuurlik om dit te skryf. Maar dit beteken nie dat daar nie soms ’n lewensles of ’n ernstiger ondertoon kan insluip nie. Dit is ’n heerlike platform om ook met die jeug te kommunikeer, want hulle kry hul groente saam met hul poeding in!
Ek lees wyd en waardeer swaar, intellektuele leesstof, maar omdat my werk redelik ernstig is, is ek nie aan die einde van ’n lang dag noodwendig lus om my pen daaraan te waag nie.
Dit lyk of jy elke karakter geniet. Waar kry jy die idees vir karakters?
Karakters kry my, veral wanneer ek hulle glad nie in my lewe kan akkommodeer nie! Ek sien die lewe in volkleur en daarom val eienskappe van mense my ook op. Iets wat iemand sê of doen, sal in my onderbewussyn vassteek en later as ’n karaktertrek in ’n karakter manifesteer. Ek grond selde ’n karakter net op een mens wat ek ken – die karakter is ’n produk van my verbeelding, met geure van mense wat ek in die werklikheid ken.
Vertel ons lesers van dié reeks. Wat kan hulle te wagte wees?
Annemieke Mentz is ’n heerlike projek. Ek was in die loop van 2016 oorwerk en oormoeg en toe kom maak Annemieke haar op my denkbeeldige rusbank tuis. Sy is vir seker die produk van kwessies waarmee ek of goeie vriendinne herhaaldelik te doen kry. Sy is ’n thirty-something wat met haar eerste en sover enigste liefde getrou het, en net toe die lewe op koers is, besluit Meneer dat dit nie meer vir hom werk nie. Annemieke moet die skok van ’n egskeiding en die verlies van ’n minnaar en ’n vriend verwerk. Sy besef dat sy haar lewe moet herbou, sonder die mens om wie haar heelal gedraai het. Sy moet weer begin werk, haar skills as grafiese ontwerper is effe vol stof, sy moet selfvertroue opbou en weer date. Sy moet die teleurstel-ling en kommentaar van vriende en familie verwerk en hanteer. Annemieke het so ’n lekker toekoms, dalk kry sy ’n oulike kêrel, dalk moet sy eers ’n paar paddas soen en haar eie stem herontdek. Dalk kom Meneer Mentz vol berou terug? Wie weet!