Deur Martie Swanepoel. Foto: pixabay
Chrissie en Tant Esther het besef hulle tyd vir ’n wettige aborsie vir Mariaantjie het uitgeloop. Hulle moes Dr Bruwer se hulp vra. Hy en die prokureur, Dawid van Zyl, het al die wetlike dokumentasie vir die aborsie in plek gekry. Chrissie en Tant Esther moes die saak baie versigtig benader sodat dit nie die sterwende Oom Thomas ontstel nie. Hulle moes Mariaantjie se volle samewerking kry en seker maak Christiaan kom nie agter dat die net om sy planne al nouer span nie.
“Mariaantjie was so opgewonde toe ons aankondig ons het nog materiaal vir die trourok nodig. Sy het soos ’n kind in Japapor se materiaalwinkel rondgehardloop en nog kant, linte en pêrelknopies uitgesoek. Die patroon en vereistes vir die droomrok het dag na dag verander. Elke keer as Mariaantjie nog ’n prentjie van ’n mooi rok gesien het, moes Tant Esther die patroon aanpas. Haar rok moes mooier as Aspoestertjie se rok wees. Tant Esther het geduldig voor die naaimasjien gesit en die rok met liefde gemaak, maar in haar hart was daar ’n vrees wat begin groei het.”
“Hoe sou Mariaantjie dit hanteer as Christiaan se plan ontbloot word en hy van die plaas verwyder word? Ons moes geheime oproepe na die prokureur en dokter maak. In ’n mate het dit my en Tant Esther ’n gerustheid gegee want ons het meer in beheer gevoel in die oorlog teen Christiaan. Maar Mariaantjie en Oom Thomas? Ons moes hulle in ag neem en dit het die spanning laat ophoop.”
“Die dag wat ons Mariaantjie kliniek toe moes neem vir die aborsie, was verskriklik. Ons het soos bedrieërs gevoel. Soos moordenaars. Al was dit ’n wettige proses. Ons was besig om Mariaantjie se drome vir ’n droomtroue en die beloofde baba te vernietig. Sy was so opgewonde toe ons haar vertel die dokter wil mooi kyk hoe die baba groei en daarom moet dit in die kliniek gedoen word. Dok Bruwer het Mariaantjie van kleins af geken. Hy het die saak met die grootste simpatie en liefde hanteer.”
Mariaantjie was vir ’n paar dae na die kliniekbesoek olik. Tant Esther en Chrissie het haar vertel dat daar sekere vrouegoed is wat sy nie met mans moet bespreek nie. Selfs nie met Christiaan nie. “Vroue-geheime.”
Tant Esther het haar tevrede gehou deur baie hard te werk aan die prinsesrok.
Chrissie het gehuil toe sy die rok aan my beskryf. Elke strik, blom en pêreltjie is self deur Mariaantjie geïnspekteer. “Ek wonder hoeveel trane van Tant Esther op daardie rok geval het. Dit het haar hart gebreek om die rok te maak. Ons het ure om getob oor hoe ons Mariaantjie gaan help om die teleurstelling te oorkom. Dit en Oom Thomas se uitgerekte sterwensproses het ons rou geskaaf.”
Mariaantjie het so op die rok gefokus, dat sy genadig minder aandag aan Christiaan gegee het. Sy het in haar ma se werkskamer geboer en kort-kort die rok aangepas.
“Ek voel vandag sommer baie beter. Kyk net, ek het hierdie ou prentjie in my kas gekry! Dink Mamma, Mamma sal ook so ’n groot strik om my rok se middel kan sit? Ek belowe dit is die heel laaste keer wat ek nog iets gaan bysit. Regtig-egtig!”
Chrissie het tee aangedra en Tant Esther het ure voor die naaimasjien deurgebring, Mariaantjie al kwetterend om haar.
“Ek is so bly Mamma maak my rok mooier as al die trourokke wat Mamma nog ooit gemaak het! Ek is so vreeslik lief vir Mamma! Ek het geweet Mamma is nie regtig ’n ongelowige soos Christiaan sê nie. Ek het vir hom gesê my Mamma gaan die mooiste rok van alle tye maak!”
Tant Esther het Mariaantjie emosioneel probeer voorberei.
“Jy sal altyd Mamma en God se mooiste prinses wees. Maak nie saak wat gebeur nie. Sal jy onthou? Mamma belowe ek gaan vir jou nog baie prinsesrokke maak.”
Chrissie moes die verhaal van Aspoestertjie nog ’n paar keer vir Mariaantjie lees. Sy kon nie genoeg van die storie hoor nie. Sy het ’n skets van Aspoestertjie se rok voor haar ma neergesit.
“Kyk, dis ek. Ek het my eie gesiggie ingeteken. Ek gaan uiteindelik ’n prinses wees! ’n Prinses en ’n bruid is mos dieselfde, nè, Mamma?”
Tant Esther moes haar woorde mooi kies. Sy het die woord “bruid” so ver moontlik vermy.
“Jy sal altyd Mamma se prinses wees.”
“Al is ek die uitverkore bruid?”
“Jy is my uitverkore kind. Toe jy gebore is, het God jou spesiaal vir my uitgesoek. Hy het geweet ek is sterk en ek sal jou kan beskerm. Onthou dat Mamma altyd daar is, maak nie saak wat gebeur nie. Mamma sal jou beskerm.”
Tant Esther kon nie daarin slaag om Mariaantjie se aandag heeltemal van Christiaan weg te lei nie.
“Mamma hoef my nie meer te beskerm nie. Christiaan sal van nou af my beskermer wees. Hy sê sy meester het ook vir my ’n spesiale baba uitgesoek. Sal Mamma my baba ook liefhê?”
Tant Esther se hart het gebreek oor die baba wat nie meer daar is nie. Sy het besef dat dit haar laaste kans vir ’n kleinkind was. Maar sy het nie kans gesien om ’n baba groot te maak wat in soveel bedrieglike omstandighede gemaak is nie.
“Mamma sal jou altyd liefhê soos jy is. Ek hoop jy weet dat ek net die beste besluite vir jou neem? Mamma wil keer dat niks en niemand jou ooit sal seermaak nie. Mamma het jou lief.”
“En my baba?”
“Mamma glo dat daar eendag in die hemel ’n spesiale plekkie vir jou gaan wees. Daar sal jy veilig wees. Daar sal niemand jou ooit weer leed kan aandoen nie.”
“Sal Mamma en Pappa ook daar wees? En Christiaan?”
Tant Esther het nie geweet hoe om haar kind teen die onvermydelike teleurstelling te beskerm nie.
“As die tyd reg is, sal Mamma en jy saam met Pappa in die hemel wees. Jy weet mos Pappa is baie siek?”
Mariaantjie wou nie glo dat haar pa sterwend is nie. Sy het kinderlik geglo dat Christiaan haar pa van die dood gaan red en gesond maak.
“Maar Pappa gaan nie nou al hemel toe nie nè? Christiaan sê as Mamma reg glo, sal Pappa gesond word. Mamma glo mos? Mamma moet asseblief glo!”
Lees die vorige hoofstukke van Die Profeet hier: