Deur Martie Swanepoel. Foto: pixabay.com
Chrissie het die morfien begin wegsteek. Sy het geskrik. Tant Esther se voorstel het binne die konteks van die plaas verdedigbaar geklink, maar vir die samelewing daarbuite sou dit moord wees. God het sy tyd en sy het haar daarby berus. Al was dit moeilik om Oom Thomas se lyding te aanskou. Dag na dag het sy op haar tande gekners. Sy kon die plan agter Christiaan se “heilige” beeld sien. Die woord “skynheilig” het vir haar nuwe betekenis gekry. Christiaan het vir haar die oer-woord van “skynheilig” versinnebeeld. Sy moes aanhoor hoe Christiaan die sterwende man mislei en hom teen sy geliefdes opmaak. Soms selfs tydens ’n gebed langs die sterwensbed! Chrissie moes haar inhou. Sy kon nie glo dat iemand God so probeer misbruik in sy bose plan nie. Dit was eintlik verstommend hoe presies Christiaan die taal gepraat het wat Oom Thomas in sy benoudste ure wou hoor.
“My Vader, U sal my moet bystaan. Die ongelowiges is besig met bose planne om U meesterplan te keer. U planne vir hierdie man. Groot oeste op sy lande. Reënwolke wat wag om oor sy grond oop te breek vir die planttyd. U het planne vir sy dogter Mariaan. Vir ’n nageslag wat die plaas se tradisie sal voortbou. My beloofde vrou. Die vrou wat u vir my uitgesoek het om ’n seun te baar.”
Deur die newels het Oom Thomas darem steeds na sy Esther gesoek. Maar Christiaan het onverpoosd probeer om die wig in die huwelik dieper in te dryf. Soms het hy gewag tot hy dink Chrissie is te ver om te hoor.
“Hoe voel ek nie die droefheid in my binneste nie? Ek bid dat Tant Esther tot inkeer sal kom. Dis haar ongeloof wat Oom se genesing keer. Ons moet keer dat sy God se plan verongeluk. God wil die plaas heilige grond maak vir Oom se nageslag. Vir my en Mariaan se seun. Daardie kruise wat Oom se pa en oupa geplant het, het dit al geprofeteer. Toe Tant Esther haar rug na die kerk gedraai het, het my meester sy plan begin. Hy sal Oom beskerm. Die tannie weet haar ongeloof keer oom se genesing. Sy wil hê oom moet sterf sodat sy die grond kan kry. Sy sal weer trou en die plaas sal nie Oom se naam voortdra nie. Dit is Mariaan se seun se grond.”
Christiaan het die regte snare geroer. Oom Thomas het begin sien hoe sy erfgrond in Esther se tweede man se nageslag beland. Dit moes hy keer. Hy het Christiaan gevra om Dawid van Zyl, sy prokureur, te laat kom, maar Christiaan het gekeer.
“Nee. My meester het aan my getoon ook hy is ’n ongelowige. Môre, as Tant Esther en Chrissie vir Mariaan dorp toe neem om materiaal vir haar troukleed te koop, dan sal ek die regte man laat kom. ’n Gelowige. Ek sal Oom nie alleen los in die uur van nood nie.”
Chrissie het by tye van ons gesprek hewig ontsteld geraak. Die trauma van die gebeure was nog te vlak in haar geheue. Vir my as buitestaander was dit onverstaanbaar dat dit nie maklik was om Christiaan se manipulerende plan te breek nie. Maar Christiaan was ’n meester op sy eie gebied, het Chrissie my verseker. Sy tydsberekening, woorde en handelinge was fyn uitgewerk.
“Daar was ’n diepliggende boosheid onder al sy soet woorde wat ontstellend was. As hy so gepraat het, was daar ’n vreemde glans in sy oë. Dit was asof daar ’n donkerte oor sy oë kom. Ek was oortuig daarvan dat hy deur iets demonies beset is. Ek was bang vir hom.”
Chrissie het in gebed teen Christiaan oorlog gevoer. Dit was die beste wapen wat sy geken het. Sy het God gevra om in te gryp in die plan. En om Oom Thomas te verlos.
“Dis ongelooflik hoe ver kanker kan strek. Weet jy hoe voel dit om ’n geliefde dood te bid? Om iemand te haat soos jy nog nooit gehaat het nie? Ons was sy gevangenes. Hy het sy bose plan haarfyn uitgewerk. Hy het gedink hy is in beheer. Ons moes sit en wag vir die einde, terwyl die ongebore baba in Mariaantjie se maag groei. Elf weke … Twaalf weke.”