Deur Martie Swanepoel. Foto: pixabay.
Chrissie het bleek en tranerig geraak toe sy my vertel van die vreeslike nuus. So asof sy dit steeds nie kon glo nie.
“Ons het dit nie verwag nie. Regtig nie. Na alles wat op die plaas aan die gang was, maak dit seker sin dat dit sou gebeur, maar die werklikheid was verbysterend. Dit was een van daardie oomblikke wat jy wens jy kon uitvee. Asof ons teen daardie tyd nie deur genoeg drama op die plaas is nie.”
Mariaantjie het al meer om tant Esther begin kerm oor die trourok. Dit was maar deur die jare ’n ding met Mariaantjie. Tant Esther het gereeld vir haar ’n prinsesrok gemaak en dan het Mariaantjie trou-trou gespeel. Hoe meer strikke en valle hoe beter. En altyd ’n kroon,’n sluier en ’n ruiker, wat Chrissie moes prakseer. Maar dit was asof Mariaantjie in haar kop gekry het dat hierdie keer nie ’n speletjie was nie. Sy wou ’n regte trourok hê. Sy het haar prins gekry en sy wou trou. Tant Esther en Chrissie het mooi gepraat, geraas, gesmeek, afgepers, maar Mariaantjie se kop wou nie wyk nie. Sy was van plan om met Christiaan te trou. Sy het dit trouens as haar godgegewe taak beskou. Laasgenoemde het Christiaan natuurlik in haar kop geprent.
Mariaantjie het haar gunsteling-gunsteling trourokprent saam met haar rondgedra. Sy het haar dagdrome met haar ma en Chrissie gedeel en dié twee het gesien die ding stuur af op ’n groot tragedie waarteen hulle hul geliefde Mariaantjie nie sal kan beskerm nie.
Vroeg een oggend het Mariaan opnuut oor die trourok begin kla. Tant Esther het ’n breekpunt bereik en geweet die ding sal tot ’n punt moet kom. Sy wou haar kind hartseer spaar. Haar teen die werklikheid beskerm. Maar hoe kon sy?
“Mamma! Vandag is die dag wat Mamma my trourok moet begin maak! Die tyd raak nou min en daar is nog so baie om te doen voor die troue!”
Sy het die troue klaar op haar kinderlike manier begin beplan. Haar beste onthaal-knipsels in ’n boek geplak.
“Sien Mamma? Hy moet so wyd uitpof soos die een wat Mamma vir Tannie Lucille gemaak het. Met kraletjies en valle en so ’n lang veil. Sien Mamma?”
Tant Esther het Oom Thomas as verskoning gebruik.
“Mariaantjie, Pappa is nou vreeslik siek. Mamma het nie nou tyd om aan so ’n groot rok te werk nie. Ek en Chrissie is heeldag met Pappa besig.”
Mariaantjie het toenemend opstandig geraak as sy nie haar sin kry nie. Sy het vloermoere gegooi en koppies en borde stukkend gegooi as haar ma en Chrissie iets negatief oor die troue sê.
“Maar hoekom luister julle nie na Christiaan nie! As ek en hy trou, gaan God vir Pappa gesond maak en dan gaan Pappa plant, en dit gaan goed reën tot die reënboog so oor die kruise op die berg staan. Pappa gaan ’n groot oes kry en hy gaan ’n groot huis bou vir my en Christiaan en die baba.”
Die baba-obsessie het net so sterk geword soos die trourok-obsessie. Die baba sou die plaas eendag oorneem en tot sy volle glorie herstel. Hy sou God se nuwe uitverkorene wees. So het Christiaan Mariaantjie wysgemaak. Tant Esther het desperaat probeer keer dat haar gesin en plaas finaal verbrokkel.
“My kindjie, jy sal moet wag tot Pappa gesond genoeg is vir ’n troue. Jy sien mos hy kan nie nou meer loop nie? Jy wil tog seker hê hy moet jou by die kerk inneem?”
Mariaantjie wou niks hoor van uitstel nie.
“Mamma verstaan nie! Christiaan sê ons moet trou voor die baba gebore word.”
Tant Esther het gehoop sy het ’n skuiwergat.
“Dit is so, maar Mamma het mos al aan jou verduidelik wat moet gebeur voor jy ’n baba kan kry?”
Mariaantjie was hardkoppig en aggressief.
“Ek weet dit alles. Ek is nie stupid nie. Christiaan het my mooi gewys hoe om dit te doen. Nou gaan ons ’n baba kry en Mamma moet aan my rok begin werk. Ek wil die mooiste trourok van alle tye hê. Mooier as Aspoestertjie se rok!”
Chrissie moes Tant Esther laaf. Die onheil onder hulle dakke was groter as wat hulle vermoed het. Maar hulle het steeds gehoop dit is net praatjies wat Christiaan in Mariaantjie se kop laat inprent het.
“Ons het gedink dis onmoontlik. Ons het ’n “loop” vir haar laat insit onder narkose toe sy ’n tiener was. Die menstruasie elke maand het haar vreesbevange gemaak en die “loop” het dit voorkom.”
Maar toe Mariaantjie baie begin opgooi en baie moeg raak, het die twee ouer vroue besef hulle kan nie langer in ontkenning leef nie. Chrissie het dorp toe gery en ’n swangerskapstoets gaan koop.
Dit was ’n groot skok. Onder normale omstandighede sou Tant Esther vir Christiaan met die geweer van die plaas af gejaag het en hom selfs met ’n paar skramse skote gewond het.
“Oom Thomas was sterwend. Christiaan het pal langs sy bed gesit en hom vertel hoe hulle gaan plant en ploeg en oes. Hy het ure aaneen saam met hom Bybel gelees en gebid.”
Chrissie en Tant Esther moes dit verdra.
“Ons kon nie Christian van Oom Thomas wegvat nie. Sy lyding was iets verskrikliks. Dit het genadeloos week na week voortgesleep. Ek het gebid vir verlossing en Tant Esther het al bitterder geraak. Die ding met Christiaan het haar nog verder van die kerk verwyder. Christiaan het Oom Thomas oortuig dat tot Dominee Jordaan ook ’n ongelowige is en nie huisbesoek mag doen nie. Ek het gebid dat die ware God vir my moet wys wat om te doen. Jy weet, as jy oormoeg en oorspanne is, kan jy maklik begin dink jy is dalk regtig die ongelowige. Ek wou Oom Thomas so graag gesond sien. Ek het geweet by God is alles moontlik. Toe bid ek vir ’n wonderwerk.”