Deur Martie Swanepoel. Foto: pexels.com
Tant Esther kon dit nie verdra dat Kaizer en Mariaantjie so agter Krisjan, soos sy die vreemdeling genoem het, aandrentel nie. Sy het die man en sy “gevolg” gedurig deur die vensters dopgehou. Soois, en almal op die werf, het opdrag gekry om die man dop te hou. Van die werkers het die man vanselfsprekend vreemd gevind. Dit was gou onder die werkers bekend dat Oom Thomas glo die man is die liewe Here van die Bybel. Die meeste het Oom Thomas geglo. Vir hulle was die man die redder van die plaas.
Tannie Esther het geglo die man het die een of ander bonatuurlike mag oor haar man, haar kind en natuurlik die hond, maar sy het verseker nie geglo die man het enige heilige bedoelinge op die plaas nie. Vir haar was hy ’n gesant van die bose. Chrissie het my vertel dat die tante gereeld oorweeg het om Krisjan weg te jaag, maar dan het haar hart weer week geword as sy na die hoop in haar man se oë kyk. Tant Esther was ’n lojale eggenoot en het gestaan by die troubelofte wat sy destyds afgelê het. Sy sou by Oom Thomas staan tot die dood hulle skei … Al moes sy die vreemdeling op haar werf verduur. Vir haar was die hoop wat hy gebring het die enigste motivering vir sy teenwoordigheid op die plaas, en sy het hom gereeld daaraan herinner dat hy letterlik op genade op die plaas bly.
Chrissie het die man net verdra omdat hy haar werk as versorger makliker gemaak het. Mariaantjie en Oom Thomas was inderdaad baie rustiger sedert sy koms.
“Hy het baie mooi met die twee gewerk. Dit het my verstom. Ek het probeer agterkom wat sy herkoms was, maar van een ding was ek seker. Hy het ’n deernis en empatie in hom gehad. Hy het geweet hoe om mense met siekte en gestremdheid te hanteer. Dit was duidelik. Of hy was voorheen self ’n versorger, of hy was die een wat versorg is. Ek het ook gewonder of hy nie ’n naasbestaande gehad het wat liefde en sorg nodig gehad het nie. Ek moet beken, die man het eintlik aanvanklik niemand op die plaas gepla nie. Hy het nie kos of enigiets gevra nie. Ons het hom slaapplek in ’n buitekamer gegee, maar hy het sy eie kos gemaak uit die meel wat hy in sy sak saamgedra het. As ek sy verblyf op die plaas moet beskryf, sal ek sê hy was ’n teenwoordigheid wat mens kon aanvoel. ’n Vreemde teenwoordigheid.”
Tant Esther het aanhou glo die man is op die een of ander dwelm en dat hy Mariaantjie en Oom Thomas ook daarmee bedwelm.
“Wat dit ookal was, ek het vir Tannie Esther gesê die man hou hulle kalm, rustig en gelukkig en dis meer as wat ek met my mediese kennis kon doen. Tannie Esther het natuurlik ook geglo Dominee Jordaan het die man gestuur om haar van haar “dwalinge” te bekeer. Ek het laasgenoemde nooit geglo nie. Dominee Jordaan was ’n man wat streng by die Bybelse reëls gehou het. Hy sou hom nooit tot iets gewend het wat buite die kerk se riglyne is nie. Dit was vir my ironies dat Tannie Esther een dag gesê het die man is geen uitverkorene nie.”Net predikante is uitverkorenes,” het sy gesê. Ek het haar moedswillig gevra of Dominee Jordaan dan ook een is? “Ja, die ou bogger is seker maar een!” het sy geantwoord.”
Na die groot uitval met Dominee Jordaan en die kerk het die predikant gereeld probeer om vrede te maak met die hardkoppige tante. Sy het hom ’n paar keer van die plaas af weggejaag. Eenkeer selfs met die .22-geweer. Daarna het die dominee ’n paar keer ’n ouderling of diaken gestuur. Chrissie vertel hoe bang dié manne altyd was as hulle die plaas besoek. Hulle het goed geweet dat die tante maklik die .22-geweer uithaal as hulle ’n voet verkeerd sit soos ’n vraag oor wanneer die tante of een van die plaasinwoners weer die kerk gaan besoek. Na ’n paar senutergende pogings het niemand van die kerk meer die plaas besoek nie.
“Ek het gebrand om die dominee te bel oor Christiaan. Dit was vir my ’n morele vraagstuk of ek Mariaantjie en Oom Thomas moet aanmoedig om aan ’n man te glo wat volgens my nie die Messias is nie. ”
Ek het Chrissie gevra wanneer die moeilikheid met Christiaan en Mariaantjie begin het.
“Een oggend sien ek Christiaan stap met Mariaantjie bergpad op. Kruise toe. Jy weet, al is Mariaantjie effe onder die merk, is sy steeds ’n volwasse vrou. Ek het half onrustig oor die besigheid gevoel en op ’n afstand agterna gestap. Mens weet mos nooit nie. Profeet of te not hy was steeds ’n man en sy ’n vrou. Hy het voor die kruise gekniel. Maklik ’n halfuur. Doodstil. Mariaantjie het eers op ’n klip gaan sit en wag, maar toe staan sy op en gaan kniel langs hom. Hy het Mariaantjie se hand gevat en saam met haar die bergpad afgestap. By die opstal het Tant Esther ons met die .22-die stoep ingewag.”
Die tante het op Christiaan gegil.
“Los my kind se hand! Vandag skiet ek jou dood al is jy ’n boodskapper van King George homself!”
Mariaantjie het huilend gekeer.
“Nee Mamma! Sy meester het hom gestuur. Vir Pappa en vir my. Sy meester sê ek is ’n uitverkore vrou. Hoor Mamma? Is dit nie wonderlik nie?”
Die tante het die geweer opgetel en gemik.
“Krisjan! Sien jy waarheen mik ek hierdie .22? Ek skiet jou kroonjuwele tot in die hiernamaals. Hoor jy my? Bly weg van my dogter!”
Oom Thomas het opgestaan van sy stoel op die stoep. Hy wou ook keer.
“Wag nou, Esther. Kalmeer. Sit neer die geweer. Chrissie, vat jy Mariaantjie binnetoe.”
Tannie Esther het haar min kere teen haar man verset, maar dié keer was sy woedend.
“Thomas, as jy jou Heiland vinniger wil ontmoet, moet jy vandag hier inmeng. Hierdie vent het planne met Mariaan en ek skiet vir hom vrek as hy weer aan haar raak.”
Oom Thomas het Chrissie gevra om Dominee Jordaan te gaan bel.
“Esther. Hierdie is ’n saak vir ’n godsman. Jy sal sien, hy sal insien dat Jesus Christiaan self gestuur het om my te kom gesond maak voor planttyd.”
Maar Tant Esther was onkeerbaar kwaad.
“O, en is deel van Sy plan om jou ook oupa te maak? Jy weet Mariaantjie weet nie van beter nie. Sy sal sommer …”
Oom Thomas het sy “heiland” verdedig.
“Vrou, die man praat uit die Skrif. Hy het gisteraand vir my self die skrif gewys waarin God Mariaantjie as uitverkore dogter uitwys. Ons Mariaantjie! God het vir hom uitgewys dat Mariaantjie sy helper gaan wees om my gesond te maak. Mariaantjie sal ’n kind baar. ’n Normale kind. ’n Seun. Hy sal eendag die plaas oorneem. Hy sal sorg dat God se woord tot in sy nageslag op die plaas vereer sal word.”
Dit het die tante rooi laat sien!
“Thomas! Hoor hoe praat jy! Het jy te veel morfien gedrink vanoggend? Hierdie man, hierdie Christiaan van julle, hy is geen boodskapper van God nie. Hy is ’n valse profeet. Hoor jy my?”
Die oom en tante het min baklei, maar daardie dag was die gort gaar.
“Esther, wees stil my vrou. Dis jou ongeloof wat ons terughou. Jou alewige opstand. Eers teen Dominee en nou teen God se Profeet! Wil jy dan nie dat ek genees word nie?”
Chrissie het vertel hoe die vrede daardie dag van die plaas afgewyk het. Die oorlog het begin. Tannie Esther se oorlog teen die sogenaamde profeet.
“Ons het Christiaan en Mariaantjie met ’n fyn oog dopgehou. Tannie Esther en Oom Thomas was haaks. Sy het spaarkamer toe getrek en Oom Thomas het weer agteruit begin gaan.”
Ek wou by Chrissie weet of daar nie ’n manier was wat sy Mariaantjie teen Christiaan se fisieke intensies kon waarsku nie.
“Sy was maar soos ’n kind. Ons het probeer, maar sy het vas geglo Christiaan is deur Liewe Jesus gestuur. Maar ek het hom nie vertrou nie.”
Chrissie het een nag lafenis teen die hitte op die stoep gesoek. Sy het gesien hoe Christiaan Mariaantjie aan die hand lei deur die tuin reguit op pad na die dam in die hoek van die tuin.
“Kom, neem my hand, my uitverkore vrou. Vanaand moet ek jou reinig sodat jy my bruid kan word.”
Mariaantjie het gewillig saam gestap. Sy het haar lang nagrok aangehad en het kaalvoet oor die gras gestap. Sy was opgewonde.
“ ’n Regte bruid met ’n wit trourok wat so wyd staan? En blommemeisies en ’n troukoek en konfetti?”
Christiaan het geweet wat Mariaan se hart sal roer.
“Jy sal die mooiste bruid wees. Kom ons maak jou hare los. Hou my hand styf vas. Stap saam met my by die dam in. Moenie bang wees nie. Die water is vanaand heilig. Jy gaan ’n vrou word. Kom, my bruid. Trek jou nagrok uit. Voel hoe koel is die water.”
Mariaantjie het in al haar deurmekaarheid darem geweet wat sy mag en nie mag doen nie.
“Mamma het gesê ek moet wegbly van die dam! Ek kan nie swem nie. Ek sal versuip!”
Maar Christiaan was geslepe.
“Ek gaan jou man word. My meester sê ’n man en vrou moet mekaar aanhang. Jou ma is ’n ongelowige. Jy moet na my meester luister. Hy het jou vir my uitgesoek.”
Dit wat Chrissie daardie aand by die dam gesien het, het haar ook laat oorlog verklaar teen die vreemdeling.