Deur Martie Swanepoel. Foto: pexels
Sy naam was nie Christiaan nie. Frederik Willemse het in ’n doodgewone huis in Randburg grootgeword met ’n ma, pa, broer en ’n hond. Eers in die laat tienerjare het ’n wrede siekte sy brein kom steel.
“Ons het na sy selfdood nie geweet waar om te begin soek na sy mense nie. Hy het absoluut niks in sy besit gehad wat mens ’n leidraad kon gee nie. Iewers moes iemand na hom soek, het ons gemeen, en ons en die polisie het ’n identikit opgestel en versprei op kanale vir vermiste persone. Hy is gou op een webtuiste herken. Frederik het al voorheen weggeraak uit die inrigting waar hy vir skisofrenie behandel is. Ons was half verlig om te hoor hy ly wel aan ’n geestesiekte. Dit het gehelp om minder negatief oor hom te voel en die tragiese situasie te verstaan. Veral toe ons sy ouers ontmoet het. Hulle was verpletter deur sy dood, maar sy ma, Alet, het ook gesê daar is ’n mate van verligting vir hulle. Nou weet hulle ten minste waar hy is. Hulle het ’n vorige keer wat hy verdwyn het vir maande nie geweet waar hy hom bevind nie. Weens die geskiedenis van sy gedrag was hulle vanselfsprekend bekommerd. Hulle het nie geweet wat om te verwag as hy verdwyn nie.”
In die ondersoek na sy dood is getuig dat hy onder meer aan ’n Messias-kompleks gely het. Dit is ’n soort verlossingskompleks. Hy het in fases van sy psigoses geglo hy is bestem om ’n redder te wees. Hy was behep daarmee. Hy het altyd ’n saak gesoek om voor te veg.”
Alet het vertel die meeste van Frederik se veldtogte was onskuldig, maar met sy vorige verdwyning het hy homself aangestel as ’n “dissipel teen dwelms’’ op ’n Karoo-dorpie. Daar het hy eiehandig ’n passievolle veldtog geloods om tieners van dwelms te probeer red. Hoewel sy bedoelinge oënskynlik goed was, het hy lankal nie meer die vermoë gehad om met balans oor sake te redeneer nie. Tydens die dwelmveldtog het hy byvoorbeeld ’n meisie wat gewoon van swart klere hou, as satanis en dwelmverslaafde geïdentifiseer en haar begin agtervolg. Hy het haar uiteindelik ontvoer en in ’n verlate huis die boosheid uit haar probeer dryf. Die skielike aggressie in sy gedrag het sy ouers en versorgers bekommerd gemaak en hy is na ’n hofsaak in strenger toesig gelaat. Ongelukkig het hy dit reggekry om te ontsnap en het hy koers gekry na die Vrystaatse plaas, waar hy ’n sielkundige oorlog gevoer het teen die inwoners.
Dit het Chrissie lank geneem om die trauma te verwerk en om helder oor Frederik se gedrag te dink.
“Noudat ek weet hy was iemand se kind en besef waardeur hulle as ouers gegaan het, is dit makliker. Vir my en Tant Esther is die verlies van Mariaantjie moeilik om te verwerk, maar ons kan Christiaan nie daaroor haat nie. In sy newels het hy gedink hy voer die opdragte van sy meester uit. Ons het baie na Mariaantjie se dood gepraat, ek en Tant Esther. Mariaantjie was tog in die weke wat Christiaan op die plaas was die gelukkigste in ’n lang tyd. Hy het haar drome gegee om te droom. Sy was uiteindelik ’n regte prinses en ons het haar in haar droomrok begrawe.”
Die dorp het gegons na die tragedie op die plaas en Chrissie het eers na die tyd gehoor dat Christiaan ’n paar dae op die dorp uitgehang het voor hy plaas toe koers gekies het.
“Hy het nie aalmoese gevra nie en omdat hy nie soos ’n tipiese bedelaar gelyk het nie, het mense hom ingeneem. Ja, ek glo dit het mense se hart versag dat hy wel soos ’n soort Christus-figuur gelyk het. Hier gebeur min genoeg op die dorp. Hy het onskuldig gelyk. Weliswaar bietjie vreemd, maar mens se eerste indrukke was nie dat hy gevaarlik was nie.”
Christiaan het blykbaar by Tant Nellie Olivier oornag en sy het in haar demensie ook geglo hierdie man is deur God gestuur. Dit is sy wat hom vertel het van die plaas met die drie kruise en sy mense. Sy het hom vertel van Oom Thomas se lyding en sy wens vir ’n nageslag wat op die plaas kan boer. In die psigoses van Frederik se brein het sy Messias-wens na vore getree. Hy wou Oom Thomas gaan help.
“Dis vreemd hoe dinge vir hom inmekaar begin pas het toe hy op die plaas aankom. Met Mariaantjie se kinderlike geloof was die situasie ideaal om as redder in te tree.”
Chrissie het baie naleeswerk oor skisofrenie en die Messias-sindroom gedoen om haar te help om die gebeure te verwerk.
Frederik se grandiose obsessie het hom meegevoer in ’n bisarre tog waarin hy Oom Thomas wou gesond maak en later opwek. Weens die sterk manipulerende eienskappe van sy skisofrenie kon hy die kwesbare inwoners van die plaas maklik onder sy mag kry. Die situasie het sy oortuigings gevoed dat hy almagtig en kragtig is.
“Ek dink my finale deurbraak van simpatie het gekom toe sy ouers die plaas besoek het. Ek het hulle so jammer gekry. Hulle het lank by die kruise gesit. Sy ma het ’n foto-album van Frederik saamgebring. Daar was foto’s van sy baba- en kleuter-tyd en van hom as jong seun. Alet het verwys na die wonderlike tyd voor die wrede toestand haar kind se gedagtes kom steel het.”
Alet en haar man, Willem, het hartseer sit en luister na die tragiese gebeure wat hulle seun op die plaas laat afspeel het.
Dit was Tant Esther wat die eerste ’n hand van liefde na hulle uitgereik het.
“Ons was twee stukkende gesinne wat deur omstandighede bymekaar gegooi is. Nie een van ons het beheer gehad oor die situasie nie.”
’n Sielkundige het tydens die ondersoek probeer verduidelik hoekom Christiaan homself aan die middelste kruis gaan ophang het.
“Mariaantjie se dood het die einde van sy reddingsplan beteken. Hy kom Oom Thomas nie red nie, en ook nie vir Mariaantjie nie. Iewers in sy psigotiese gemoed het hy gevoel hy het misluk.”
Aan die voet van die kruis het Christiaan ’n briefie in ’n byna perfekte regop spykerskrif gelaat:
Opper meester, ek het u gefaal.
Ek het u pad gekies, maar
ek kon nie u boodskap uitdra nie.
Vergewe my dat ek u plan nie kon uitvoer nie,
Ek kon Oom Thomas nie genees nie,
Ek kon hom nie opwek nie,
Ek kon my uitverkorene nie beskerm nie.
Ek kon nie die ongelowiges oorwin nie.
Ek sterf vandag aan die kruis omdat ek u gefaal het.
Chrissie en Tant Esther het die kruise op die klipkoppie na die tragedie laat verwyder.
Het jy enige van die vorige hoofstukke van Die Profeet gemis?