Die Profeet: Hoofstuk 19 deur Martie Swanepoel. Foto: pixabay
Mariaantjie het gesit tot Tant Esther die laaste druppel tee gedrink het. Toe soen sy haar ma op die voorkop, sluk haar tee ook weg en stap kombuis toe, waar haar beloofde man op haar gewag het. Sy het in die kombuis inmekaar gesak.
Chrissie het huilend vertel: “Christiaan het my geroep en ons het gedink sy het weer ’n epileptiese aanval. Maar sy het nie stuiptrekkings gehad nie. Tant Esther het haar natgegooi en rond geruk. Ek sal nooit die figuurtjie op die kombuisvloer vergeet nie. Sy het daar in haar trourok gelê, slap soos ’n lappop.”
Hulle het Dokter Bruwer gebel. Hy het ’n ambulans van Bloemfontein af laat kom en self plaas toe gejaag.
Chrissie het besef het die grondpad is deel van die geveg om Mariaantjie se lewe.
“Ek het besef ek sal haar self moet probeer red. Die grondpad is te lelik en lank. Ek het hartmassering en mond-tot-mond-asemhaling gedoen en Tant Esther het biddend langs ons gekniel.”
Christiaan het net eenkant gestaan en toekyk.
Chrissie het maklik ’n uur mond-tot-mond-asemhaling gedoen voor dok Bruwer opgedaag het.
“Hy het Mariaantjie dood verklaar. Ek kon dit nie glo nie. Net so was sy weg.”
Hulle het nie dadelik onraad vermoed nie.
“Sy het gereeld epileptiese aanvalle gehad, maar die keer het haar hart net eenvoudig ophou klop.”
Die nadoodse ondersoek het twee weke later eers getoon dit is ’n oordosis morfien wat haar hart laat ophou klop het.
Dit was omdat Mariaantjie nie die verskil tussen links en regs kon onthou nie, het Chrissie verduidelik. Die dodelike dosis was vir Tant Esther bedoel. Die tee wat haar ma ’n honderd jaar sal laat slaap, soos Christiaan haar wysgemaak het.
“Tant Esther het onthou hoe Mariaantjie gesukkel het om vir haar die regte koppie tee te gee. Sy het blykbaar ’n paar keer gewik en weeg voor sy die koppie aan haar ma oorhandig het.”
Met die die gesukkel met Mariaantjie het hulle nie gesien Christiaan verdwyn nie.
“Toe die polisie en lykbesorger opdaag, het ons eers besef hy is weg. Hy was nie in sy buitekamer of op die werf nie. Daar was net een plek waar ons vermoed het hy kon wees. Soois het hom laatmiddag gekry. By die kruise. Soois sal die gesig seker nooit vergeet nie. Christiaan in sy wit rok wat aan die middelste kruis hang.”
Hy het nie ’n brief nagelaat nie.
“Dit was ’n gebed of ’n soort verklaring aan sy meester. Jy weet, ek en Tant Esther na die tyd besef hy het nooit regtig na God of Jesus verwys nie. Dis Oom Thomas en ons wat aan die begin gedink het hy lyk soos Jesus. Oom Thomas het geglo God en Jesus het die profeet na hom gestuur, maar hyself het dit nooit gesê nie. Hy het net heeltyd van sy meester gepraat … en homself later teen die einde self as meester verhef.”
Die vreemdeling met die obsessie oor die kruise. Hoekom homself dat aan die middelste kruis ophang?
“Van die sielkundiges wat in die ondersoek geraadpleeg is, het gepraat van ’n Messias-kompleks, maar hy het nooit die woorde “God” of “Jesus” gebruik nie. Ek dink nie mens sal ooit weet wat in sy kop aangegaan het nie.
Lees ook: Hoofstuk 18