Deur Martie Swanepoel. Foto: pexels
Die gebeure op die plaas het Chrissie nader aan haar Skepper gebring. Dit was al hoe sy die vlak van boosheid in Christiaan se spel kon hanteer.
“Die godslastering het my diep geskok. Ek weet mens mag niemand oordeel nie. Selfs nie na wat ons alles in die hof gehoor het nie, maar ons het op die plaas beleef hoe siek ’n mens se gees kan wees. Die siekheid waarvan nagmerries gemaak word. Ek wou Mariaantjie by tye gryp en haar iewers gaan toesluit. Weg van hom af.”
Terwyl die dokter, dominee en prokureur met Tant Esther vergader het, het Christiaan weer sy plek langs Oom Thomas se bed ingeneem. Chrissie glo hy was so siek in sy siel dat hy waarskynlik werklik geglo het hy gaan die oom wakker bid. Mariaantjie het haar trourok gaan aantrek en deur die huis geparadeer.
“Kyk net hoe lyk ek Christiaan! Kyk, as ek in die rondte draai, pof my rok so wyd! Kyk die pêrels wat Mamma vasgewerk het! Lyk ek soos ’n prinses, Christiaan?”
Christiaan het toenemend sy humeur met Mariaantjie verloor. Sy was iemand wat mens se geduld tot die uiterste kon beproef. Sy was veeleisend. Net iemand wat haar werklik liefgehad het, kon met haar werk. Christiaan het langs die doodsbed op haar geskree.
“Onstuimige vrou! Sit! Kan jy nie sien ek bid vir my meester nie? Jy sal die oorsaak wees hoekom jou pa nie wakker word nie!”
Mariaantjie was nie gewoond daaraan dat mense op haar skree nie. Harde woorde het haar dadelik tot trane gedryf.
“Moenie so lelik met my praat nie! Ek hou nie daarvan nie.”
Christiaan het Mariaantjie aan die arm gegryp en gedwing om langs hom te sit. Dit moes ’n vreemde prentjie gewees het: Die man in die wit gewaad wat dink hy is ’n profeet, die meisie in die trourok en die oorledene met die laken oor sy kop getrek.
“Sit! Wees nou stil! Jy is die vrou wat die meester uitgesoek het. Wil jy die beloofde bruid wees of nie?”
Mariaantjie sou enigiets doen om ’n bruid te wees. Sy het instemmend geknik.
“Nou dan moet jy kies. Of jy gedra jou soos ’n uitverkorene of jy kan maar daardie trourok gaan uittrek.”
Mariaantjie het huilend haar kop geknik en haar hande gehoorsaam op haar skoot gevou.
“Ek wil die uitverkorene wees. Ek wil die bruid wees. Ek wil ’n prinses soos Aspoestertjie wees.”
Christiaan het nie daarvan gehou as sy gesag ondermyn word nie.
“Onthou ek is die man en jy is die vrou. Ek is van nou af jou meester. Jy moet aan my onderdanig wees!”
Maar Mariaanjie kon ook ongeduldig raak. Sy het haar trourok aangehad en sy wou trou. Dadelik.
“Ek is nou weer mooi soet. Nou wanneer gaan Pappa wakker word? Ek dink jy moet harder bid sodat ons kan trou. Ek het my mooi rok aan! My bruidsrok! Kyk, het Mamma nie die mooiste rok gemaak nie?”
Tant Esther was Christiaan se vyand nommer een. Hy het probeer om Mariaantjie teen haar ma te draai, maar in die newels van haar deurmekaar gedagtes was haar Mamma nog haar Mamma.
Maar Christiaan het presies geweet watter punte Mariaantjie sal raak.
“Het jy vergeet dat jou ma ’n moordenaar is? Sy het ons baba laat vermoor. Die seun wat hier op die plaas sou heers!”
“Mamma het my kind vermoor!”
“Ja sy het! Onthou dit! En wat dink jy moet met moordenaars gebeur?”
Mariaantjie het haar altyd verkyk aan die skildery van die Brede en Smalle weg in Dominee Jordaan se kantoor. Haar pa het haar vertel dat die mense wat so van die Smalle weg af tuimel tot in die hel se vlamme was sondaars. Moordenaars. Skelms.
“Pappa het gesê hulle moet moordenaars weer hang, dan sal dit met ons beter gaan. Moet Mamma dan hang? Ons kan nie vir Mamma hang nie!”
Christiaaan het Mariaantjie gedwing om saam met hom te kniel. Hy het kliphard begin bid vir die opwekking van Oom Thomas. “Laat hy herrys en weer sy plaas bewerk. Laat hy die grond voorberei vir sy nageslag. Meester, u weet dat die vrou met die Jesebel-gees ons kind laat vermoor het. Ons bid om leiding. Hoe moet ons die dood van ons kind vergeld? Ons wag stil op u.”
Chrissie het die ontstellende prentjie staan en aankyk. Sy kon nie wag dat die bose man van die plaas af verwyder kon word nie.