Die Profeet: Hoofstuk 16 deur Martie Swanepoel. Foto: pixabay
Die emosies het hoog geloop in Oom Thomas se sterftekamer. Vir ’n paar minute het die “ongelowiges” na die profeet en sy dissipel gestaar. Mariaantjie het Christiaan se hand vasgehou en geweier om na haar pa op die bed te kyk. Tant Esther, nooit ’n vrou met ’n gebrek aan woorde nie, was die eerste een wat die stilte kon breek.
“Dis te laat, my kind. Pappa is weg. Maar jy kan hier langs hom kom staan. Hou sy hand vas. Dit is nog warm.”
Christiaan het Mariaantjie weggetrek van haar pa se bed.
Tant Esther het haar vererg.
“Krisjan, wat kom soek jy nou hier? Jy kan hom nou nie meer emosioneel gevange hou nie! Hy is weg! Kyk na hom! Die arme man wat jy in sy laaste dae mislei het! Gelukkig het sy oë oopgegaan voor die einde. Jy kan nou maar jou lappe vat en loop. Los my kind se hand!”
Christiaan se woorde het almal tot stilte geskok. Dit het hulle nie verwag nie …
“Ek kom hom uit die dode opwek.”
Chrissie vertel sy moes Tant Esther laaf. Die hartseer van die verlies en die woede oor Christiaan, was te veel vir haar. Toe sy asem skep, het sy woorde sissend in Christiaan se rigting gespu.
“Is jy nou heeltemal gek? Los my man dat hy in vrede rus!”
Christiaan kon op sy dissipel se steun staatmaak.
“Mamma, los hom uit! Christiaan se meester gaan Pappa weer laat wakker word. Julle ongelowiges sal sien!”
Geen skok of hartseer kon Tant Esther se vurige gees onderdruk nie.
“Kyk, jy kan maar sit en bid tot jy eelte op jou sterre kry. My man is nou by sy Vader in die hemel en dit is waar hy gaan bly!”
Toe kyk sy vir Dominee Jordaan en sy trawante.
“Julle beter die man hier uitvat anders is daar vandag ’n sterfte en ’n moord op hierdie plaas!”
Mariaantjie het reg voor haar ma gaan staan. Uitdagend. Daar was ’n vreemde glans in haar oë, het Chrissie vertel. ’n Glans wat mens onrustig laat voel. Soos iemand wat met ’n bose gees besete is.
“Dis alles Mamma se skuld! Mamma is ’n ongelowige en ’n moordenaar! Christiaan sê Mamma en die dokter het ons baba uit my maag gehaal en hom doodgemaak! Julle is moordenaars! Julle het nou my Pappa ook vermoor!”
Tant Esther het haar dogter probeer paai. Sy kon haar altyd na ’n ruk tot bedaring bring, maar daardie dag was dit nie so maklik nie.
“Chrissie, kry Mariaantjie se pille, netnou kry sy weer ’n aanval. Kom Mariaantjie, Mamma gaan jou wys hoe lyk jou rok. Het jy gesien? Dis klaar!”
Tant Esther het die towerwoorde gespreek: Mariaantjie se rok.
“Regtig Mamma? Kan ek dit kom aanpas?”
Maar Christiaan wou nie toelaat dat Tant Esther sy dissipel weglok nie.
“Uitverkore vrou! Kom hier! Jy sal hier langs jou pa se bed sit en saam met my bid!”
Maar Mariaantjie se brein het vasgehaak by die rok.
“Ek kom nou Christiaan. Hoor jy? My rok is klaar! Ek gaan hom aantrek vir as Pappa wakker word. Ek dink hy sal so bly wees om my in my trourok te sien as hy wakker word! Bid jy solank. Ek kom netnou. Chrissie, kom jy saam, dan kan jy tee maak vir as Pappa wakker word. Hy sal dors wees!”
Christiaan het sy hande dramaties die lug in gesteek. Nes soos Dominee Jordaan maak as hy die laaste seën uitspreek. Die dominee, dokter en prokureur het verstom na die spektakel staan en staar.
“Meester, help my om hierdie ongelowiges vandag te wys dat u in beheer is.”
Chrissie sê sy kon sweer Christiaan het werklik geglo Oom Thomas gaan sy oë oopmaak. Hy het net so ’n vreemde glans in sy oë gehad.
“Hy het ’n onverwagse troefkaart getrek en ons was almal onkant betrap. Ek was verbaas dat die geleerde manne in die kamer so geskok-stil na Christiaan kon staan en kyk. Hulle was letterlikk stomgeslaan! En nou moet ek beken, wat op die plaas gebeur het, was so vreemd, dat min mense dit sou glo.”
Ek en Chrissie het lank oor die hofsaak gesels. Verskeie kenners het getuig van Christiaan se geestessiekte.
“Hulle was reg. Christiaan was ’n siek man. Die kern van sy wese was siek. Ek en Tant Esther het dit heeltyd vermoed, tog was ons by tye hulpeloos onder sy manipulerende spel. Baie mense vra hoe kon ons so lank stilbly? Ons was tog nie fisieke gevangenis nie, maar ek sê weer, as jy nie daardie tyd op die plaas was nie, sal jy nie verstaan nie. Christiaan het twee magtige wapens teen ons gehad. Oom Thomas en Mariaantjie. As jy twee kwesbare mense werklik liefhet, sal jy hulle beskerm.”
Die gebeure op die plaas was inderdaad buitengewoon en van die kantlyn af is dit moeilik om Christiaan te oordeel. Was hy bloot stapelgek, of was hy boos?
“Watter soort mens kan vir so lank so ’n gekheid aanvang? Hy het dae om in Oom Thomas se kamer sit en bid. En hy het dag in en dag uit daardie wit kleed gedra. Dit saans uitgewas. En kaalvoet! Of hy was gek of hy het regtig in sy saak geglo. Hy het net daardie ongesuurde broodjies van hom geëet. Hy het met ’n sak koring hier aangekom en self die koring met ’n klip gemaal. Tensy hy skelm geëet het, het ek hom nooit iets anders sien eet nie. Dit moes deursettingsvermoë geverg het. Hy moes al die heerlike geure uit die kombuis ruik. Maar hy het net sy meelbroodjies geëet. Fanaties, sê ek jou!”
Met die lees van die testament het hulle die testament gekry wat Christiaan en die een of ander helper Oom Thomas help opstel het. Daarvolgens sou Mariaantjie als erf. Volgens die ou testament sou Tant Esther alles erf en na haar dood sou die geld in ’n trust geplaas word wat Mariaantjie tot haar dood sou versorg.
Die twee testamente het ’n dilemma veroorsaak.
Lees ook: Die Profeet: Hoofstuk 15
Besoek ook ons Lees-afdeling om nog vervolgverhale te vind.