Deur Martie Swanepoel. Foto pexels
Mariaantjie het eers nie mooi verstaan wat met haar baba gebeur het nie. Maar Chrissie het geweet dit gaan tot haar deurdring en dat daar bitter hartseer dae vir hulle en Mariaantjie voorlê.
As Mariaantjie baie erg ontstel word, het sy ’n epileptiese aanval gekry. Chrissie sê die aanval wat Mariaantjie die middag na die drama in die kombuis gehad het, was die ergste in jare. Sy het die volgende dag die hele dag geslaap en daar was ’n soort wapenstilstand op die plaas.
Oom Thomas se liggaam het uiteindelik voor die kanker begin swig. Christiaan het nog sy gebede langs die bed gesit en prewel toe Oom Thomas skielik ’n paar helder oomblikke beleef. Dis die soort helderheid wat sterwendes dikwels kry net voor hulle sterf. Tant Esther kon nie verduur om die helderheid met Christiaan te deel nie. Sy het hom by die kamer uitgejaag en haar plek langs haar man se bed opgeëis.
“Hoe voel jy vandag, my man? Kan ek vir jou tee laat kry?”
Maar Oom Thomas wou sy profeet hê. Tant Esther het gehoop sy sal in die helderheid tot haar man kan deurdring.
“Thomas, jou pa en oupa en oupagrootjie was gelowige kerkmense. Hulle was lojaal aan hulle geloof en kerk. Hulle het deur ’n Boere-oorlog, die Depressie en droogtes God op hierdie plaas gedien. Waar was die profeet toe?”
“Maar hy gaan my gesond maak. Dan kan ek weer boer. Esther, gaan roep die profeet.”
Tant Esther het vasgeskop
“Toe Pa Samuel kanker gekry het en ons so saam hom gebid het, hoekom het God nie vir hom ’n profeet gestuur nie? Hy was immers ’n diep gelowige man? Wil jy nou sê God het nie genoeg vir jou pa omgegee om vir hom ’n profeet te stuur nie? Thomas, ek en jy het mekaar nog altyd verstaan. Maar hierdie profeet. Dink jy dit is jou God se wil dat hierdie man my en jou uitmekaar dryf? Ons huwelik wat voor God ’n heilige verbintenis verklaar is? Hierdie man is ’n valse profeet. Sy is net agter jou plaas aan en hy wil Mariaantjie gebruik om dit te kry.”
Oom Thomas het ’n rukkie stil gelê, asof hy die saak deurdink.
“Esther, ek wil so graag leef. Weer ploeg.”
“Ek weet, my man. Ek wil net so graag hê jy moet leef. Ek het jou lief my man. Ek weet ek is moeilik, maar ek het jou lief. Ek het vrede gaan maak met Dominee Joubert. Ons moet hierdie ding uitpraat voor jy gaan, Thomas.”
Tant Esther het langs haar man op die bed gaan lê. Hulle het oor al die mooi dinge in hulle lewe gepraat.
“Ek het jou lief, Thomas. Jy was nog altyd my anker.”
“En jy my sterk anker, my vrou.”
Tant Esther het vir ’n paar uur langs haar man gelê. Daar het ’n vreemde stil vrede oor die plaas neergedaal. Mariaantjie het geslaap en haar ma en pa het hulle liefde opnuut vir mekaar verklaar.
Chrissie het gesorg dat Christiaan uit die kamer bly. Hy het soos ’n vasgekeerde dier op en af op die werf gestap. Seker om sy planne te hersien en te kyk wat hy nog kan doen om dit te laat slaag, het Chrissie gemeen.
Daar was nog een vreemde ding op die plaas. Kaizer, die waghond wat Christiaan die eerste paar dae soos ’n skadu gevolg het, het mettertyd opgehou om die profeet te volg.
“Daardie dag toe Christiaan so op en af oor die werf geloop het, het Kaizer op die stoep bly lê. Elke keer as Christiaan na die stoep se koers gemik het, het hy geknor.”