Hooffoto Pixabay
DIE PROFEET is ’n kort novelle uit die pen van Martie Swanepoel. Dit raak aan sensitiewe kwessies soos mense se naïwiteit, kwesbaarheid en die wreedheid van ’n terminale siekte. Maar dit wys ook hoe sterk emosies soos liefde en haat kan meeding.
DIE PROFEET is die verhaal van ’n vreemdeling wat op ’n dag op ’n plaas aangestap kom. Sy koms bring vir die verstandelik gestremde Mariaan en oom Thomas, wat in die terminale fase van kanker is, nuwe hoop. Maar die sterk matiarg, tant Esther, bejeën Christiaan met agterdog. Chrissie, die tuisversorger, probeer die gemoedere balanseer en die besoekende joernalis is die waarnemer in die verhaal wat deur geloof, hoop en liefde ploeg.
Die Profeet, hoofstuk 1
Ek het die deuntjie van die ou kerkkoortjie dadelik herken. Iewers vanuit die ou plaashuis het die woorde na my aangesweef gekom:
Gaan my nie verby my Heiland
Gaan my nie verby
Wyl U ander seën Heiland
Seën nou ook my …
Ek kon onthou hoe ek in my kinderjare langs my ma in die kerk gestaan en sing het. Toe was dit vir my een van die mooiste melodieë. Ek kon my verluister hoe haar alt-stem vir ’n breukdeel van ’n noot voor die res van die gemeente en die elektriese orrel uitstyg. Ma was ’n sterk gelowige mens. Sy het aan wonderwerke geglo, maar sy het ook ’n siniese onderskeidingsgees gehad wanneer dit by mense kom. Ma het ’n nuwe predikant eers vir maande uitgekyk voor sy hom as ’n gesant van haar Heiland beskou het.
Dit was op dae soos hierdie warm somersmiddag op die rooi gepoleerde plaasstoep van Leeufontein wat ek Ma meer as ander dae gemis het. Ma sou my kon raad gee oor die moeilike opdrag wat ek moes uitvoer. Sy sou kon sê watter vrae ek moet vra oor die tragiese, vreemde gebeure wat op die Vrystaatse plaas afgespeel het. As joernalis moes ek neutraal bly, maar my hart laat hom so maklik verlei as dit by mense en hul diepste emosies kom. Dit gaan nie maklik wees om hierdie storie so te skryf dat my siniese redakteur daaraan byt nie.
Chrissie was ’n effe gesette vrou in haar laat dertigs. Haar yl, muisvaal haartjies was kort gesny en haar bleekblou oë lewensmoeg. Sy het my op die groot stoep van Leeufontein ingewag. Die leë, verweerde rottangstoele het getuig van die inwoners van die plaashuis wat eens lang ure van lief en leed op die stoep meegemaak het.
Chrissie het my vertel van die dag toe die vreemde man op die plaaspad aangestap gekom het. Die oomblik toe hy oor die plaaswerf na die stoep gestap het, het die lewens van die plaas se inwoners vir altyd verander, het sy vertel terwyl sy vir ons tee geskink het.
“Dit was ’n mistige dag toe hy hier aangekom het. Vroegoggend, so uit die mis het hy aangestap gekom met die plaaspad. Met ’n spierwit gewaad soos die Moslem-mans op die dorp dra as hulle gaan bid. Kaalvoet met ’n lapsak oor die skouer. Oom Thomas het op die stoep gesit en koffie drink. Siestog, hy was toe al bietjie deurmekaar van die morfien vir die kanker.”
Sy het gehoor hoe roep die oom sy vrou, tant Esther. Hy was kinderlik opgewonde want hy het toe al vir weke vertel dat Jesus hom gaan kom haal.
“Toe hy die man in die wit kleed sien, het hy dadelik geglo dit is Jesus. Jy moet verstaan, hy was terminaal en het geweet sy tyd loop uit. Vir hom was die man die verhoring van sy gebede. Hy was gereed om te gaan.”
Maar volgens Chrissie was tant Ester ’n siniese, halsstarrige vrou. Sy het die plaas, die plaashuis én oom Thomas met ’n ysterhand regeer. ’n Ysterhand met deernis en liefde, het Chrissie darem verdedig.
“Tant Esther het die man so gekyk en van die stoep af geskree: ‘Draai maar om, hier is nie aalmoese vir bedelaars nie!’ Die man het hom nie laat afskrik nie en tot hier by die stoep gekom. Teen daai tyd was Chrissie en Mariaantjie ook al hier op die stoep.”
Chrissie was hoofsaaklik die versorger van Mariaantjie, wat effe verstandelik gestremd was, maar toe die kanker oom Thomas verswak het, was die oom ook onder haar sorg.
“Die koms van die man was ’n groot konsternasie op die werf. Daar was lanklaas soveel aksie en opwinding. Oom Thomas het vreeslik gehuil en gevra ek moet sy goedjies gaan pak want hy is gereed om te gaan. Hy het geglo dis sy Heiland wat voor hom staan. Die man het die oom net rustig staan en aanstaar. Byna geen emosie op sy gesig gewys nie.”
Chrissie het die man probeer uitvra oor waar hy vandaan kom en hoe hy met die 50 km-grondpad uit die dorp op die plaas aangekom het. Die man se voete was vol stof en eelte, soos iemand wat loop waarheen hy wil gaan.
“Ons het na die tyd probeer uitvind of iemand wat ons ken hom nie dalk opgelaai het nie. Dit was inderdaad asof hy uit die lug na die plaas neergedaal het. Uit die niet. Ek onthou ek het hoendervleis gekry. Dit was baie vreemd, byna spookagtig. Baie mense het na die tyd gesê dit is die drie kruise daar op die berg wat hom hierheen gelok het. Oom Thomas se oupa en pa het daardie kruise nog geplant. Diep gelowige mense gewees.”
Mens kan die kruise nogal nie miskyk wanneer jy uit die dorp aangery kom nie. Jy kan jou byna verbeel jy is op pad na die Bybelse Golgota as jy met die grondpad aangery kom. Die drie kruise se silhoeët teen die horison vertel mens baie van die inwoners van die plaas. Mens twyfel nie dat geloof ’n groot rol in hul lewens speel nie.
Chrissie sê oom Thomas het huilend uit sy stoel probeer opstaan.
“U het gekom! Rabboni!”
Chrissie het hom probeer keer uit vrees dat hy gaan val. Tant Esther was hewig ontsteld en het Chrissie gestuur om haar man se kalmeerstroop te gaan haal. Sy was bang hy kry ’n toeval.
Chrissie moes sommer ook vir Soois, die plaasvoorman, roep om van die vreemde man ontslae te raak.
“Sy het die vreemdeling gekonfronteer en gesê hy moet die plaas dadelik verlaat of sy bel die polisie. Die man het haar net staan en aanstaar. Oom Thomas was ontsteld dat sy vrou nie kan sien die man is inderdaad die Here nie. Tant Esther het nooit rondlopers toegelaat nie. Veral oor daar reeds plaasmoorde in die omgewing plaasgevind het. Sy het nooit aan vreemdelinge werk gegee nie. Net as ’n ander boer hom aanbeveel het.”
Volgens Chrissie het die drama op die stoep vererger toe Mariaantjie haar pa begin glo dat dit inderdaad Jesus is wat die plaas besoek. Sy het opgewonde rondgetrippel en soms stip na die man gestaar.
“Nes ek gedink het hy lyk! Kyk, Mamma! Nes in my Bybel! Hallo Jesus! Ek ken baie liedjies oor jou! Hoor net: Liewe liewe Jesus, vlekkelose lam. Hy is die leeu …”
Chrissie het haar hande vol gehad op die stoep. Oom Thomas en Mariaantjie was emosioneel en tant Esther kwaai, het sy vertel. Mariaantjie was die een mens wat die tannie week kon maak. Sy het nie toegelaat dat enigiets of enigiemand Mariaantjie ontstel nie. Die plaashuis op Leeufontein was die kokon waarin sy Mariaantjie toegespin het om haar te beskerm teen ’n wrede wêreld wat nie mense met beperkte verstandelike vermoëns verstaan of aanvaar nie.
“Die chaos op die stoep het al erger geword. Oom Thomas was skoon moeilik omdat sy vrou so bruusk met sy Verlosser was. Hy het die man aanbiddend aangestaar en Mariaantjie het al die kinderkoortjies wat sy ken luidkeels gesing. Vir ’n buitestaander moes dit soos ’n sirkus gelyk het.
As ek nou terugdink, was dit ’n ironiese situasie. Oom Thomas en Mariaantjie het geglo dit is Jesus wat op die grasperk voor die stoep staan, maar alle hel was los. Mariaantjie het haar gunstelingliedjie oor Jesus gesing: ‘Jesus min my salig lot, ek leer dit uit die woord van God, al is ek ook swak en blind, nogtans noem Hy my sy kind.'”
Mariaantjie se Kinderbybel het tussen my en Chrissie op die koffietafel gelê terwyl ons praat.
“Ek het so baie kere vir haar hieruit gelees. Sy het elke storie geken. En weet jy wat? Sy was reg, Die man wat hier aangekom het, het nes die prentjie van Jesus in die Kinderbybel gelyk.”