Die Prinsesrok
Nita was nog nooit ’n blommemeisie of ’n prinses in ’n skoolkonsert nie. As iemand in haar familie trou of as die juffrouens rolle vir die konsert kies, kyk hulle haar altyd mis.
Maar Tannie Joan se Anitatjie is al ’n paar keer as konfetti-meisie gekies en sy het al groot rolle in konserte ingeryg. Anitatjie met die lang goue krulhare en blou oë. Engelgesiggie … Nita het al tot die gevolgtrekking gekom dat niemand ’n blommemeisie of prinses met kort reguit bruin hare en groen oë en sproete wil hê nie. Anitatjie was ’n fyntjiese ou meisietjie, en Nita … Haar pa het graag gespog oor sy meisiekind wat net so sterk soos ’n seunskind is.
Nita het geweet dit is ’n groot sonde in die oë van die Here, maar sy het Anitatjie van kleins af verpes. Anitatjie was ’n temerige, mislike, snipperige kind. Nita het haar ma dit al self hoor sê. ’n Ou Pisbalie wat altyd gekla het Nita speel te rof.
Al wat Nita en Anitatjie gemeen gehad het, was die geboortenaam wat hulle van ouma Anita gekry het. Hulle is net twee weke uit mekaar gebore en hul ma’s was glo voor die geboortes al effe haaks oor die naamgewery. Nita het gehoor haar ma het eerste die naam Anita gekies, maar toe word Anitatjie eerste gebore en Tannie Joan gaps die naam. En dis hoe Nita net Nita geword het.
Anitatjie het alles gehad wat Nita begeer. Die goeie punte op Anitatjie se rapport kon Nita nog hanteer want sy het geweet sy speel eerder netbal as om al ewig te leer soos Anitatjie. Maar Anitatjie kon ook ballet en klavier speel. Luukshede waarvoor Nita se pa weens ’n paar droogtes op die plaas nie geld gehad het nie. Anitatjie het ook ’n beeldskone slaappop gehad wat haar pa uit Europa vir haar saamgebring het. Dit is op haar bed uitgestal en Nita mag nog nooit aan die pop geraak het nie. Nie eens een keer nie. Dan was daar ook Anitatjie se pophuis. Sy het regte tafeltjies en stoeltjies en ’n yskassie en wasmasjientjie daarin gehad. En ’n swartbord waarop sy graag Juffrou-Juffrou gespeel het. Nita se pa het ’n ou hoenderhok op die plaas vir haar toegebou vir ’n pophuis en dit met oranje oorskietverf geverf. Nita het nog altyd oranje gehaat.
Die ding met die prinsesrok het begin toe Nita gehoor het Anitatjie-hulle kom weer vir Kersfees plaas toe. Sy het gesug want sy het geweet dit gaan weer ’n nagmerrie van gespog met Anitatjie wees. Al Anitatjie se partytjierokke, prinsesrokke en blommemeisierokke het altyd saamgekom plaas toe en dan het Tannie Joan haar in die sitkamer laat paradeer. Dit wat Nita die grootste pyn gegee het, was hoe Ouma Anita na elke rok ’n paar trane weggevee het oor haar naamgenoot wat so pragtig is.
Met een so ’n parade kon Anita se pa dit blykbaar nie meer hou nie en het tydens die gespoggery afgehaak en al die gaste gewys op die drie opgestopte bokkoppe bokant die kaggel. “My Anita het hulle almal geklits. Skaars nege en ’n baasskut!” Ouma Anita en Tannie Joan het vreeslik gegril vir die storie van hoe Nita haar eerste bok se lewer dapper rou geëet het, en klein Anitatjie het in trane uitgebars oor die arme bokkie se tragiese dood. Nita het tydens die grillery en snikkery gewonder hoekom die spul teemkouse dan so lekker weglê aan haar ma se wildsboud?
Nietemin, toe Nita hoor Anitatjie-hulle kom weer Kersfees kuier, het die bose plan in haar kop begin vorm aanneem.
Toe Juffrou Maree vir Nita gestuur het om die netbalballe in die stoorkamer te gaan bêre, het sy dit gesien: Rye en rye kostuums van die laaste jare se skoolkonserte. Nita het haar vuil hande aan haar netbaljurk afgevee en versigtig aan die prinsesrokke geraak.
Sy kon daardie blessitste rokke nie uit haar gedagtes kry nie en sondige gedagtes het by haar nesgeskrop. Sy het besluit sy gaan een van die prinsesrokke steel! Hoe meer sy begin dink het aan die mooi storie wat by haar prinsesrok sal pas, hoe meer het sy van die storie gehou. Sy het geweet dis ’n liegstorie wat soos ’n dolk in Jesus se hart sal steek, maar sy het ook gevoel sy het nie ’n keuse nie. Jesus sal maar net moet verstaan want dis Jesus se pa se skuld dat sy bruin reguit hare en netbalkuite het.
Sy het haar plan haarfyn uitgewerk. As Juffrou Maree haar weer vra om die balle te gaan wegpak, sal sy sorg dat sy een van die rokke by die stoorkamer se agterste venster uitgooi en dan sal sy na die tyd omstap en dit in haar sportsak druk.
Die plan het soos ’n droom gewerk, maar dit het gedreig om te sneuwel toe Nita die rok die aand in die geheim in haar kamer aangepas het. Dit was heeltemal te klein en te kort! Haar netbalkuite het effe snaaks gelyk onder die ligblou prinsesrokkie.
Die volgende middag is Nita met die rok na Maria in die statte. Maria en haar naaldwerkmasjien het al die vroue op die plaas se kerkklere gemaak. Maria moes plan maak maak met die rokkie. Sy het immers ook vir mislike Anitatjie geken.
Vir dae daarna het Nita elke dag besorgd na die rokmakery verneem en Maria het haar verseker die prinsesrok sal Kersfees gereed wees as Anitatjie met haar rokke kom spog.
Toe Tannie Joan-hulle se Mercedes voor Kersfees op die werf stilhou, het Nita benoud begin raak oor die rok.
“Hy kom, hy kom,” het Maria belowe. Nita het gebid dat die Heer haar moet vergewe vir die diefstal en dat Hy Maria moet help met die prinsesrok.
Net voor aandete het Maria opgedaag met die rok in ’n laken toegewoel. Nita was vies want daar was nie tyd vir aanpas nie, en sy het geweet Tannie Joan sal na aandete met Anitatjie se rokke begin spog. Nita het haar pa laat belowe dat hy nooit weer voor Tannie Joan-hulle met haar bokskietery sal spog nie.
Dit was die langste aandete in hul familiegeskiedenis, het Nita gevoel. Tannie Joan het uitgewei oor al die kunswedstryde wat Anitatjie deur die jaar gedoen het en haar mooi rapporte en almal het waarderend ge- Oe en Aa.
Nita se pa kon dit seker nie meer uithou nie, maar net toe hy begin vertel van die reuse vlakvark wat Nita die vorige week geskiet het, het Nita hom met ’n skop teen die skeen stilgemaak. Na ete het die spoggende spul na die sitkamer verskuif en het Anitatjie se parade van blommemeisierokkies en partytjierokkies begin. Ouma Anita was, soos altyd, ’n waarderende gehoor.
Met die laaste staande ovasie van Ouma Anita het Nita kordaat aangekondig dat sy ’n verrassing vir die familie het.
“Ek is gekies vir die volgende revue se hoofprinses! Juffrou Maree het gesê ek kan die rok huis toe bring om vir julle te kom wys!”
Die familie het opgewonde ge- Oe en Aa! en Nita het kamer toe gedraf om Maria se meesterstuk te gaan aantrek.
Die kreasie wat onder die laken te voorskyn gekom het, het Nita se asem self weggeslaan … Sy wou eers weer sitkamer toe hardloop en vir almal vertel dit was net ’n grap, maar toe besluit sy sy sal deurdruk.
Almal het na hul asems gesnak toe Anita met Maria se skepping die sitkamer inkom. Daar was ’n lang stilte. Toe begin mislike Anitatjie en Tannie Joan ongeskik giggel.
Nita het ’n pyn in haar bors van hartseer gevoel, maar haar nekkie styf gemaak en so grasieus moontlik deur die sitkamer gesweef. Tot reg voor Anitatjie. Toe raap sy die bondels kantgordyn bymekaar wat Maria onderaan die ligblou revue-rokkie vasgewerk het. Die gehoor in die sitkamer het in stadige aksie gesien hoe Nita haar stewige bruingebrande korfbalbeen terugtrek en skop. Anitatjie het soos ’n maer vark geskreeu en Tannie Joan het maklik ’n halfuur gesukkel om haar te troos.
Nita se ma het haar kamer toe geneem en die vermaninge oor haar ongepoetste gedrag was nie naastenby so erg soos Nita verwag het nie. Dit was so ’n lekker skop dat Nita nie omgegee het om terug te stap sitkamer toe om sag ’n verskoning aan die gepynigde Anitatjie te mompel nie.
Die atmosfeer in die sitkamer was vir ’n wyle gedemp. Anita het steeds die prinsesrok aangehad. Sy het gereken Maria het nou reeds al die moeite gedoen en onder die omstandighede was dit ’n meesterstuk. Maria het die bostuk van die rok wyer gemaak met die geblomde blou gordyne wat Nita se ma uit die sitkamer gegooi het oor dit al sonverbleik is. ’n Ou kantgordyn het ewe guitig onderaan die rokkie uitgeklok.
Nita het geweet nie een van die gaste sal dit weer waag om na haar prinsesrok te verwys nie.
Toe kon Nita se pa die situasie blykbaar nie meer hanteer nie. Hy het opgestaan en sy glas brandewyn en Coke gelig.
“Mense, ek wil net graag ’n heildronk instel op my dogter, Nita. Die vlakvark wat julle vanaand geëet het, het sy laasweek geskiet. Dit was ’n kolskoot.”