Instructions
Die riboog-steak is die meeste slagters se keuse en van die gewildste en duurste snitte. Die vleis van die ribgedeelte is sagter en sappiger met meer verspreide vet. Wanneer die karkas geklassifiseer word, word na die riboog gekyk om die gehalte te bepaal. Jy kan rypgemaakte, organiese steak by Woolworths en Checkers koop.
Maak so vir die perfekte steak:
- Kies ’n steak met baie wit stukkies vet tussen die vleis. Die effek word marmering genoem. Die vet smelt in die gaarmaakproses en maak die steak sappig en geurig.
- Die vleis moet lekker dik wees - minstens 2,5 cm.
- Moenie die vet langs die kant afsny voor jy dit gaarmaak nie. Dit maak die vleis sappig en geurig en hou die vleis bymekaar.
- Kies ’n rypgemaakte steak, dit verseker sagte en geurige vleis. In die rypmaakproses breek die natuurlike ensieme in die vleis die taai bindweefsel af. Terselfdertyd verdamp van die vloeistof in die vleis wat ’n meer gekonsentreerde geur verseker.
- Verf die vleis met ’n mengsel van gesmelte botter en olie en geur met sout en peper voor jy dit gaarmaak. Die botter gee die steak ’n pragtige bruin kleur en die olie voorkom dat dit brand.
- Hier’s ’n restaurantgeheim vir dikker snitte: Verhit die oond tot 220 °C. Seël die steak aan die een kant tot goudbruin. Keer om en sit in die oond: 5 min. vir rou, 7 min. vir medium en 9 min. vir gaar. Laat vir 5 min. rus voor jy die vleis voorsit, dit gee die vleissappe kans om weer te versprei.
- Braai dunner snitte aan albei kante: 3-4 min. vir rou, 4-5 min. vir medium en 6-8 min. vir gaar. Draai net een keer om.