Die radiografie-afdeling by Wilgeheuwel is ’n aangename verrassing. Daar is vriendelike mense en sagte dékor; ’n heerlik ontspanne atmosfeer. Die radiografis is min of meer so jonk soos my dogter, vermoed ek, en sy praat die waarheid toe sy vir my sê dat sy my nie sal seermaak nie. Sy vermy my oë sorgvuldig ná die prosedure en neem my na die sonarkamer. Terwyl ek vir die radioloog lê en wag in my blou japon, dink ek aan die sonarondersoeke wat ek ondergaan het terwyl ek swanger was met my twee kinders. Tóé was daar opgewondenheid en afwagting.
Die radioloog is flink, ferm, onemosioneel. Hy gaan nie eens tyd mors met ’n biopsie nie, lig hy my in nadat hy sy ondersoek voltooi het. Sjirurgie is my voorland. So gou as moontlik.
Met my mammogram- en sonar resultate in die groot koevert daag ek by my algemene praktisyn se spreekkamer op soos wat hy gevra het. Hy groet skaars. Daar is geen twyfel nie, dit is ’n kwaadaardige gewas, is sy woorde toe ek instap. Hy en die radioloog het ’n telefoniese gesprek gehad en op grond daarvan is daar vir my ’n afspraak gemaak by ’n sjirurg vir die volgende dag.
Miskien is dit my gebrek aan reaksie wat hom verwar. Hy stap om sy lessenaar en kom sit langs my, hou my hand vas.
Toemaar, kanker is lank reeds nie meer ’n doodsvonnis nie, sê hy. En borskanker is die mees behandelbare soort kanker wat daar is. Hy berei my voor op ’n moeilike jaar wat voorlê. Dringend, nou, fronsend. Dit is beslis my gebrek aan reaksie wat hom verwar. Ek sit my ander hand op syne en verseker hom dat alles oukei is. Ek is reg vir die geveg. Ek sê hoflik nee dankie toe hy aanbied om vir my ’n slaapmiddel voor te skryf. Ek weet ek gaan goed slaap. Ek is in goeie hande. God sal nie toelaat dat daar iets oor my pad kom wat ek nie kan hanteer nie. Ek weet nou dat ek een van die dapperes gaan wees aan wie ek my boek opgedra het. Ek ken hulle geheim.
Terug by die huis laat weet ek vir Jaun, my ma en my kinders dat die gewas toe wel kwaadaardig is. Daar is skok. Vrees. Verwarring. Ek huil vir die eerste keer nadat ek met hulle gepraat het. Dit is vir hulle erger as vir my, want hulle is platgeslaan deur die onmag om enige iets te doen om my te help. En ek kan niks doen om hulle te oortuig dat ek regtig oukei is nie. My mense gaan swaarkry.
Jaun werk laat. Ons eet aandete voor die televisie en ek raak in die holte van sy arm aan die slaap. Maar op hierdie aand is dit anders. Daar is ’n nuwe soort teerheid en ’n nuwe soort intensiteit aan die manier waarop hy my vashou. Ons praat net een keer in die verbygaan oor my afspraak by die sjirurg.
Daardie nag slaap ek soos ’n moeë kind. Ek is veilig gekoester in die arms van my Groot Pa.