Deur Mariette Snyman. Foto Freepik
As jy ’n ouma of ’n oupa is, ervaar jy die oppe en affe van grootouer wees aan eie lyf. Miskien het jy innige verbintenisse met jou kleinkinders én hul ouers, of dalk is dit moeilik om familieverhoudings te laat vlot.
Die dae toe geslag ná geslag dieselfde landelike bestaan gedeel het, lê ver in die verlede. Vanweë reusespronge in onder meer die wetenskap en tegnologie word elke geslag met nuwe uitvindings groot. Anders as vandag se kinders moes hul oupas en oumas sonder die Internet, ononderbroke selfoonverbinding en die sosiale media klaarkom. Hulle het met ’n ander woordeskat, aanspreekvorme, gesagstrukture, taboes en selfs morele kwessies grootgeword.
Een ding wat gelukkig nie verander het nie, is die spesiale band wat tussen grootouers en kleinkinders kan bestaan. As dié verbintenis onder druk beland, moet oupas en oumas plan maak!
Buit jou posisie uit
“Die groot, bevrydende verskil tussen ’n ma en ’n ouma is dat ’n ouma haar rolle kan kies. ’n Ma is noodgedwonge polisieman, aanjaer, badafdwinger en heks. ’n Ouma het ’n keuse tussen minister van welsyn, bederwer, storievoorleser, skootopteller, wiegeliedjiesanger en goeie fee.” Só skryf Ida Gräbe in So sê Oupa, so sê Ouma wat sy en haar man, Petru, geskryf het.
Ida wys op ander voordele van dié posisie, soos dat oumas en dogtertjies meestal uitstekend klaarkom – minstens totdat “die klein dametjie ’n tiener is. Eers het haar ouma die sagste skoot, die mooiste laggende oë en, beste van alles, as Pa en Ma uit die eetkamer is, eet Ouma vir haar haar blomkool en pampoen!”
’n Ouma is vir haar kleindogter “geselskap en ’n vertroueling, ’n oppasser, ’n aanmoediger, soms selfs ’n taxibestuurder en eksamenvoorbereider. Hulle drink saam tee, huil oor gebroke verhoudings, pluis selfs ouers se kinkels uit.”
Petru skryf “een van die kosbaarste besittings wat ’n mens kan hê, is die vertroue van ’n kind. Hoe gebeur dit dat ’n kind jou so blindweg kan vertrou dat hy uit ’n boom sal spring as jy beloof om hom te vang?”
’n Ouma is vir haar kleindogter “geselskap en ’n vertroueling, ’n oppasser, ’n aanmoediger, soms selfs ’n taxibestuurder en eksamenvoorbereider
Dis moeilik om die geheim van ’n sterk band tussen grootouer en kleinkind vas te vat.
Lê dit daarin dat hulle dikwels nie ’n huis deel nie en nie tyd het om vir mekaar moeg te word nie? Is dit omdat hulle in die kleinkind se ouers ’n “gemeenskaplike vyand” het? Hang dit af van wat oupas en oumas alles vir hul kleinkinders gee of doen?
Baie grootouers erken dat hulle rustiger met hul kleinkinders omgaan as destyds met hul eie kroos. Hulle sien die groter prentjie en is minder veroordelend.
“Behalwe ideologiese verskille, kan daar ook leefstyl- en norm-verskille tussen grootouers en kleinkinders wees,” sê Ida in ’n onderhoud. “Ek sou hartseer wees indien een van ons elf kleinkinders hulle aan een of ander vergryp skuldig maak. Maar sou dit gebeur, sal ek probeer om my oorlede ma se voorbeeld te volg: sy het een van haar minderjarige kleinkinders wat weggeloop het en later in ’n hawestad opgespoor is, by haar in die huis geneem en dieselfde behandel as die ander wat minder waaghalsig was.”
Die bekende uitspraak lui dat ons nog sal vergeet wat iemand gesê of gedoen het, maar nooit hoe hulle ons laat voel het nie. Dalk is dit liefde sonder voorwaardes – ’n grootouer se diepgaande begrip en die onwrikbare besluit om “aan die kleinkind se kant” te wees – wat die deurslag gee.
Gefokusde aandag
“Toe my kleinkinders gebore is, was ek en die meeste van my vriendinne werkende vroue,” vertel Ida. “Ons kon nie ons kleinkinders ‘help grootmaak’ nie, maar moes smiddae en oor naweke kreatiewe maniere kry om deel van hul baba- en kleuterjare te wees.”
Hierdie maniere het ’n rits lekkertes van pieknieks tot kunsvlytprojekte ingesluit. En ’n goggalaai: “Kies die onderste laai van ’n kas en spuit die boom met ’n goeie insekdoder (om die parasiete wat op die insekte is, te ontmoedig om die skatte in jou laai op te vreet). Plaas ’n vel polistireen onderin. Steek ’n kopspeld deur die lyf van dooie kewers, skoenlappers of stokkiesgoggas wat aan natuurlike oorsake (of onnatuurlike oorsake buite jou beheer) dood is, en druk dit op die polistireen vas. As die kleinkinders kom kuier, sal hulle eerste die goggalaai wil sien! Lees na oor insekte en vertel vir die kinders wat hulle eet, of hulle gevaarlik is, en dies meer.”
Ida se repertoire sluit “sandkoekies bak, sywurms ronddra en krieke vang in. Maar ek trek die streep as dit kom by wipplank ry, tou klim en spinnekoppe jag met die braaitang. En ek kan nie vir Oupa probeer kers vashou nie: hy speel ‘vliegtuigie’ deur die kinders aan ’n hand en ’n voet in die rondte te swaai en lanseer strelitzia-sade met die neus!”
Pret-ervarings met grootouers bevestig kinders se plek in ’n familie, skep geborgenheid, en gee hul eiewaarde ’n hupstoot. Dit verg tyd en energie, maar die loon is groot.
Pret-ervarings met grootouers bevestig kinders se plek in ’n familie, skep geborgenheid, en gee hul eiewaarde ’n hupstoot
“Klein kindertjies kan hulle so oorgee aan ’n omhelsing. Wanneer ek ’n kleinkind teen my vashou, probeer ek dit met al die wedersydse liefde, warmte en snoesigheid in my geheue inprent. Dit kom vir my die naaste aan ware geluk.”
Natuurlik is daar uitdagings. Soms stamp grootouers en kleinkinders koppe omdat hul persoonlikhede bots. Ouerskapkenner Hettie Brittz – Ida en Petru se dogter – se praktiese boekie Kortpad deur die Oerwoud bevat insigte wat verhoudings makliker maak.
Om kleinkinders ouderdomsgepas te hanteer, stryk ook probleme uit. As julle min kontak het, is dit moeiliker. Dan is dit raadsaam om oor ’n kleinkind se ontwikkelingstadium na te lees of by die ouers kers op te steek.
Grootouers se band met kleinkinders én hul ouers beteken drie stelle waardes, voorkeure en verwagtinge is op die spel. In die DVD-stel Immergroen Ouerskapwenke: fondasies vir ouers, stiefouers en grootouers verduidelik Hettie hoe hierdie potensiële mynveld benader kan word.
“Dis baie belangrik om sinvolle grense te trek. Hiermee bedoel ek: wie se verantwoordelikheid is wat wanneer dit kom by die grootmaak van kinders en kleinkinders? Baie ouers kla dat grootouers ‘inmeng’.
Grootouers se band met kleinkinders én hul ouers beteken drie stelle waardes, voorkeure en verwagtinge is op die spel
“Daar is ’n beginsel wat sê die hoeveelheid verantwoordelikheid wat jy aanvaar, gee jou ’n sekere hoeveelheid inspraak en regte. As ouers van grootouers verwag om die grootste deel van elke dag na kleinkinders te kyk, saam met hulle te gaan klere koop, langs die sportveld te sit, en naweke na hulle om te sien terwyl Pa en Ma gaan baljaar, gee hierdie ouers ‘aandele weg’. Hoewel hulle vir die dissipline en groot besluite verantwoordelik bly, moet die grense aangepas word. Dit vra ’n vriendelike maar ernstige gesprek waar twispunte soos slaaptye, eetgewoontes, huiswerk, waarheen kleinkinders mag gaan en so meer uitgespel moet word.”
Soos Petru dit stel, kan grootouers “brugbome” wees, soos ’n boom wat ’n brug oor ’n stroom vorm. Grootouers wat hul eie kind se goeie eienskappe aan ’n kleinkind uitwys, versterk die band tussen ouer en kind. Die kragtigste brug, ’n liefdevolle verbintenis tussen twee harte, is maklik én moeilik om te bou. Mag dié met ouer harte die kuns al beter verstaan!
Lees ook: Maak kinders met goeie waardes groot