Deur Margaret Gardiner
Waarheen het Maart tog gegaan? Ek weet ek het die Oscars bygewoon: Ek het die rok gekry, die vrae voorberei, die storie geskryf – volgende. Ja! Glansryk! Sterre! Roem! Gaap!
Ekskuus, maar ek is so bietjie moeg. En jy?
Dalk is dit as gevolg van die Covid-grendeltydperk. Dis asof die dinge wat ek altyd gedoen het, nou meer voorbereidingstyd verg, en dan verdwyn dit asof dit nooit gebeur het nie. Dalk ná drie maande se toekenningsaande, was daar net geen verrassings meer nie. Niemand het vir niemand geslaan nie. Daar was geen ontevredenheid nie. Wel … ek sal later daarby kom.
Die Golden Globes het in Januarie plaasgevind nadat internasionale joernaliste daarvoor gestem het. Dis die een waar daar heelwat beweging gedurende die vertoning is en sterre soos bewonderaars optree wanneer hulle mense ontmoet wat hulle hul hele lewe lank bewonder het, maar snaaks genoeg nog nooit ontmoet het nie. Die Golden Globes word in ’n danssaal pleks van ’n teater gehou, maar die meeste bekendes daag laat op – nadat die aandete bedien is. Sjampanje vloei voort, almal ontspan en mense kuier van tafel tot tafel.
Siende dat dit die eerste toekenningsaand van die jaar is, hou dit die meeste verrassings in. Dis ook die partytjie waaroor daar hierdie jaar die meeste gepraat is – en vreeslik pret! Soos die aand van die Oscars al naderkom, tel die toekenningsvertoning se program ook spoed op. Die regisseur se gilde! Die skermakteur se gilde! Die Geestoekennings! Dis moeilik om kop te hou met alles en dan daar natuurlik nog die Grammy-toekennings ook.
As jy daarvan hou om aandrokke en hoë hakke te dra, dan is die toekenningseisoen vir jou gemaak! Heelwat van die gildes stem ook vir die verskeie kategorieë wat die Oscars opmaak – wat ’n mens laat wonder hoekom hulle dit apart ook doen.
Dan is jy skielik by die geleentheid en jou kop swymel van bekendes met diamante en ontwerpersklere. Dit maak vir ’n aansteeklike atmosfeer. Jy gee ook nie veel omdat dit winter en koud is nie, want almal is aangetrek asof daar ’n hittegolf is.
Buiten die modes wat by hierdie jaar se Oscars uitgestaan het, was daar ook die toesprake. Die mense wat gewen het, is dié wat dit werklik verdien. Hulle is al jare lank in die bedryf. Hulle word gerespekteer, maar tog is hulle selde vir hul werk erken. Hierdie jaar was anders.
Everything Everywhere All at Once het die toekenning vir Beste Rolprent ontvang. Dit het ook die nuwe slagspreuk geword vir “Kom ons raak net stil en fokus”, want jy probeer “everything, everywhere, all at once” te doen. Die sterre van dié rolprent was die wenners van die ander topkategorieë: Michelle Yeoh – Beste Aktrise, Jamie Lee Curtis – Beste Ondersteunende Aktrise, Ke Huy Quan (die man wat in Steven Spielberg se Indiana Jones and the Temple of Doom van 1984 verskyn het as die seuntjie wat Harrison Ford se helper geword het) het die prys vir Beste Ondersteunende Akteur huis toe geneem.
Die uitblinker was Brendan Fraser wat die toekenning vir Beste Akteur ontvang het vir The Whale, ’n storie van ’n vreeslike vetsugtige man. Elke akteur het ’n storie oor slegte hoop vertel wat vir heelwat hoop gesorg het. Die les? As hulle dit kan doen nadat hulle vir jare oorgesien is, dalk kan ons wat nie in die kollig is nie ook ons drome waar laat word.
Om die waarheid te sê: Daar is ’n hele spul stories wat inspireer wat tans beskikbaar is om na te kyk. Een hiervan is byvoorbeeld The Boston Strangler (HULU). Ja, ’n storie oor ’n reeksmoordenaar kan inspirerend wees.
Die skrywer/regisseur Matt Ruskin vertel ’n verhaal wat ’n mens se bloed koud laat word … Dis die ware verhaal van twee vroue-verslaggewers wat misdade met mekaar verbind, maar wat geïgnoreer word omdat die slagoffers naamlose vroue was. Die gebeure het in die jare sestig afgespeel en dit was die tyd toe vroue-verslaggewers stories oor huishoudings en mode gekry het. Misdaad is as mans se domein gesien.
Die fliek gaan ook oor Loretta McLaughlin (Keira Knightly) en Jean Cole (Carrie Coon) se struikelblokke in hul stryd om hul stemme te laat hoor. Hul dringendheid is nie net ’n vrouekwessie nie, maar beeld ook die werklikheid van lewe en dood uit. As die mans om hulle nie na hulle luister en hul ondersoekende vermoë erken nie, kan meer vroue doodgaan…
Keira Knightly het aangetrokke tot die rol gevoel: “Dis ’n interessante manier om ’n storie oor ’n reeksmoordenaar te vertel. Deur die oë van twee vroulike joernaliste wat met die naam The Boston Strangler vorendag gekom het. Hulle het die polisie en die koerant omtrent gedwing om die kloutjie by die oor te bring, maar hul name word nooit in verband met die saak genoem nie.”
Hmmmm.
Carrie Coon, wat briljant in Being the Ricardos was, het van die storie agter die storie gehou. “Dit was vir my baie interessant hoe elke vrou ’n joernalis geword het. Die slagoffers se lewe was baie soortgelyk aan die lewe van die vroue in die Midweste waar ek grootgeword het. My ma was ’n verpleegster en een van my oumas was ’n onderwyseres terwyl die ander een ’n tuisteskepper was. Dit was die geleenthede wat destyds vir vroue beskikbaar was. Dis nou benewens ’n pos as sekretaresse.”
Knightly het bygevoeg: “Dis ’n ode aan vroulike ondersoekende joernaliste en hoe belangrik dit is om vroue in magsposisies te hê om stories te vertel. Dit was die vroue wat gesê het dis ’n belangrike storie wat openbaar gemaak moet word om die vroue van Boston veilig te hou. Dit was ’n storie wat deur mans geïgnoreer is. Ek is onseker of hul manlike kollegas die belangrikheid daarvan raakgesien het. Dis vir my wonderlik dat die rolprent benadruk hoe belangrik dit is om goeie vroulike joernaliste te hê vir die veiligheid van ons gemeenskappe.”
Carrie vertel van nog ’n aspek waarmee vroue hulself kan vereenselwig. Albei sterre het gehou van die goeie verhouding tussen die karakters wat hulle uitgebeeld het. “Hier is twee vroue wat bondgenote geword het. Gewoonlik is daar mos slegs plek vir een vrou in ’n werksgroep, maar hier het hulle kragte saamgesnoer in plaas daarvan om met mekaar te baklei.
Dis die laaste punt, wat my weer na die Oscars terugbring, soos ek beloof het. Nadat Jamie Lee Curtis die Oscar gewen het, het sosiale media gegons omdat Angela Bassett nie gewen het nie. Dit terwyl sy by die ander toekenningsgeleenthede as Beste Ondersteunende Aktrise koning gekraai het.
Ek twyfel of Me Bassett twee keer daaroor gedink het. Curtis het in haar toespraak genoem dat haar ma, Janet Lee (Psycho), en haar pa, Tony Curtis (The Defiant Ones), benoem is, maar nooit Oscars gewen het nie. Daardie “o-my-aarde-oomblik het daartoe gelei dat mense aanlyn gespekuleer het dat Curtis gewen het omdat sy die kind van bekendes was en bekende mense kry mos dikwels geleenthede as gevolg van hul ouers se sukses en nie oor hul talent nie …
Daar is inderdaad baie mense wat sukses as gevolg van hul gene geproe het, maar dit is beslis nie die geval met Jamie Lee Curtis nie. Party mense sal dalk herroep dat sy die eerste vrou was, wat ’n hoofrol in die rillergenre vertolk het. Onthou jy nog Halloween?
Dan was daar ook bekende rolle in Archer, Reno 911, Knives Out, Freaky Friday en True Lies. Dit som nie eintlik haar groot talent op nie, maar al die geskinder op sosiale media het tog die glans van Jamie se bekroning gedemp en dis hartseer.
So gepraat van Carrie Coon se opmerking dat daar net plek vir een vrou is om suksesvol te wees … Dit het die norm geword dat wenners gekritiseer word as dit nie die persoon is wat mense gedink het moet wen nie … Dit lok ’n swartsmeerdery uit en is eintlik net ‘n vorm van boelie.
Die goeie nuus: Dit wys gelukkig dat daar meer vroue is wat die kans kry om goeie rolle te speel, want in plaas daarvan dat daar een vrou is wat verdien om te wen, is daar vele.
Die interessante ding is dat hierdie gesprekke gewoonlik gebeur onder die wat minder verteenwoordig is en wat dan teenoor mekaar afgespeel word in plaas daarvan om hul insluiting te vier.
Dis interessant dat Robert de Niro en George Clooney ’n paar jaar gelede in bekroningswaardige flieks was, maar nie benoem was nie … Daar was egter geen storm daaroor nie.
Dit feit is dat dit ’n nuwe ding vir vroue van elke etniese groep is om meer toegang hiertoe te hê. Dit beteken daar is wonderlike vertonings wat dalk nie benoem word nie, omdat daar reeds iemand is wat by die klassifikasie pas, wat dan die trofee vat.
Sekerlik is dit iets om te vier en nie te kritiseer nie?
Lees ook: Ontmoet die ses vroue van Die Real Housewives van die Wynlande