Die mooiste idees vir jou Kerstafel deur Cornel Dunn. Foto’s: Johan Wilke
Feestelike vrugte
Die eienaars van die linnewinkel, dek. in Durbanville en Kweek, ’n ateljee in die Paarl, het saamgespan en hierdie ryke, lewende Kersversierings geskep. Die donker kleure en tekstuur van die rooi uie en die linne word deur blomme versag. Goue eetgerei en donker servette skep die perfekte atmosfeer vir ’n laatmiddag-Kerskuier.
Lees ook: ’n Vrolike en feestelike kuiertuin
Gestroopte blou-en-silwer
Mabel en Caren van Die Gieter het vir ons hierdie tafel met sy sagte blou skakerings saamgestel. Die prettige silwer pynappels is aangevul deur blou krismisrose en grys loof. Die kleurskema praat van die see waar baie van ons die Kerstyd deurbring en die die versierings sal nie jou beursie laat kreun nie.
#rrWenk: Omskep ’n werktafel in ’n buitengewone eetplek vir die Kersmaal.
Lees ook: ’n Kuierkos-Kersspyskaart
’n Skandinawiese somer
Die kundiges van die Kaapstadse blommediens Foraged het op ’n Europese tema besluit. Die antieke, blomversierde slee pas perfek by die Skandinawiese stoele. Die tikkie geruite rooi op die servette skep warmte op die tafel waar wit die oorheersende kleur is.
#rrWenk: Die antieke houtslee is ’n lieflike fantasie-element vir die versiering van ’n Kerstafel.
Lees ook: ’n Terug-aarde-toe-Kerstafel